Die paartjie het Saterdag in ’n "sprokiestroue" op die prentjiemooi Cavalli-wynlandgoed op Stellenbosch afgehaak.
En die gastelys het omtrent gewemel van rugbysterre. JJ se Stormers-spanmaats Siya Kolisi, Dillyn Leyds en Steven Kitshoff was onder die bekende rugbyspelers wat die spesiale oomblik met die paartjie gedeel het. 

En om te dink Alise het met hul eerste ontmoeting vyf jaar gelede nie eers geweet JJ is ’n bekende rugbyspeler nie, verklap Alise se ma, Coba Ferreira, aan Huisgenoot.

"Sy het vir hom gevra of hy die foto van haar en die ander Springbokke kon neem, maar toe sê hy kom ons vra die kelnerin om die foto te neem, dan kan ek ook in die foto wees," vertel Coba laggend.

Na hul paaie weer twee keer in Jeffreysbaai gekruis het, het die twee in 2016 begin uitgaan. Hulle is sedertdien onafskeidbaar, vertel Coba aan Huisgenoot. 

JJ het Sondag ’n foto van sy nuwe bruid op Instagram gedeel met die woorde "my vrou" daarby. Alise het dieselfde gedoen op haar Instagram-profiel en ’n foto van hul troudag gedeel met die onderskrif “my man”. 

Hul troue was soos ’n sprokie, vertel die trotse ma van die bruid. "Dit was ’n ongelooflike fees van liefde en ’n geestelike ervaring."

Alise se trourok, onthaalrok en haar strooimeisies se rokke is almal deur die modeontwerper Jason Kieck van Port Elizabeth gemaak.

"Daar was ingevoerde pêrels van Parys op haar rok," sê Coba, wat in Patensie in die Oos-Kaap bly.

"Sy het ’n paar Jimmy Choo-skoene vanuit Londen aangehad en haar dansrok het Swarovski-kristalle en volstruisvere opgehad," vertel Coba. JJ en sy strooijonkers was in Fabiani-pakke uitgetof. 

Die Bok-kaptein, Siya Kolisi, en sy vrou, Rachel, was ook onder die trougaste. Rachel het kiekies van hulle by die troue en met die bruidspaar in die sosiale media gedeel.  

Kyk hier na die foto's:

Steven Kitshoff en sy vrou, Aimee, wat in Desember die knoop deurgehaak het, was ook onder die gaste.

Coba sê daar was genoeg blomme, onder meer lelies en rose, wat die "gevoel gegee het asof jy in die hemel is". 

JJ en Alise woon in die Waterfront in Kaapstad. Hulle is "tans in ’n hut iewers in die Alpe", verklap Coba.

"Hulle is twee ure na die troue Sondagoggend eers klaar is, op ’n vliegtuig na Oostenryk.” Hulle vier daar hul wittebrood.

"Dit was die lekkerste troue," sê Coba. "Alles was net so spesiaal. Hulle pad vorentoe is op God gerig."