André is die regisseur van Huisgenoot se trefferfliek Vergeet my nie, en hy en Juanita het die geslag en naam van hulle baba eksklusief met Huisgenoot gedeel.

Hier is Juanita se aankondiging vroeër vanjaar oor haar swangerskap. 

“Ek is nou 26 weke of net oor die ses en ’n half maande swanger. Ons het besluit om ons dogtertjie, Zia Velthuysen (wetlik ons van) te noem,” vertel Juanita trots.

Juanita vertel dat Zia die Mexikaanse teken vir die son is. “Dit beteken lig, en ons wil graag hê daar moet net lig en sonskyn in haar lewe wees; ook dat sy lig in ander mense se lewe moet wees. So dit is ’n lekker sterk naam,” sê Juanita.

Foto: Verskaf
Die is die teken vir Zia.

André is reeds hard aan die werk om die babakamer vir die nuweling gereed te maak.

“Ja, shame, hy werk eintlik al hard. Hy het die sterretjies teen die mure al geplak en die kot afgeskuur en geverf. Omdat Zia lig beteken, is ons tema sterre, strepe en polkadots en die kleure grys en ligte pienk,” sê sy opgewonde.

Klein Zia kry selfs haar eie beddegoed spesiaal gemaak deur Rabbit Kidzz, en dit pas natuurlik by haar kamer.

Foto: Verskaf
Andre hard aan die werk.
Foto: Verskaf
Zia se kamer is al geverf. Juanita het groot planne voor die kleinding se koms in September.

Juanita sê sy dra eintlik heel klein, so dit het nie haar rol in Getroud met rugby beïnvloed nie.

“Eintlik lyk ek net vet, so hulle kan dit nog in Getroud wegsteek. Dit is nie deel van Jana se storielyn nie,” vertel Juanita.

André is ook ’n regisseur by Getroud met rugby. “Ons is net albei bitter dankbaar ons het werk in dié tyd,” voeg sy by.

Foto:Facebook
Juanita, wie Jana Kritzinger speel, verwag hulle eersteling.

André is ook tans besig om aan ’n teks vir ’n nuwe fliek te werk. Hulle sien egter vreeslik uit na die koms van Zia.

“André sien net vreeslik uit om haar die eerste keer vas te hou, en ek kan nie wag om te sien na wie sy lyk nie,” sê sy.

“Ek sien uit om te sien hoe die klein peanut ’n persoonlikheid ontwikkel. Ek sien vir myself donker dae as die kind my sin vir humor het. Dit gaan my mal maak,” het André voorheen aan Huisgenoot gesê.

Hy het ook die eerste keer wat hy Zia se hartklop gehoor het, beskryf as ’n groot oomblik in sy lewe.

“Ek dink dit was ’n life-changing oomblik. Ek kan nie wag om te hoor hoe haar stem klink nie, maar ek is completely in the dark oor wat ek met ouerskap moet verwag,” sê André.

Die egpaar vier vanjaar hulle negende huweliksherdenking en is baie in hulle noppies dat hulle nou met ’n klein lyfie geseën word.

Juanita en André woon in die Jakarandastad saam met hulle hond Lillybel, en klein Zia word aan die einde van September verwag.

“Ons sien uit, maar ek gaan dit mis om swanger te wees en die beweging binne my te voel. Veral aan die begin toe ek nog nie gewys het nie. Dit het my altyd herinner daar is ’n klein mensie binne my, en ek besef net weer hoe bevoorreg ons is om in hierdie onderstebo, onseker jaar iets so ongelooflik te ervaar. Dit gee my hoop vir die toekoms, want daar is niks soos ’n kind om ’n mens hoop te gee nie,” sê sy.

  • Vergeet my nie is van Sondag 5 Julie op DStv se BoxOffice beskikbaar.