Foto: Instagram (@bouwerbosch, @tamaryngreen, @mel
Foto: Instagram (@bouwerbosch, @tamaryngreen, @melindabam, Verskaf)

BOSVELD TOE!

Tamaryn Green

Dié dokter en voormalige Mej. Suid-Afrika het gesmeul op foto’s wat sy op Instagram van haar Bosveldavontuur in die Singita-wildreservaat naby die Krugerwildtuin gedeel het. Tamaryn en haar kêrel, die entrepreneur Zesimdumise Nxumalo, het wildritte geniet en sy het langs die swembad lafenis gesoek.

Foto: Instagram (@tamaryngreen)
Foto: Instagram (@tamaryngreen)
Foto: Instagram (@tamaryngreen)

“In die paradys,” het sy by een foto geskryf.

Foto: Instagram (@tamaryngreen)
Foto: Instagram (@tamaryngreen)

Melinda Bam

Melinda en haar man, Adriaan Bergh, is versot op die Bosveld.

Die egpaar het onlangs hul sesde huweliksherdenking in die Krugerwildtuin-omgewing gevier. Hulle het hul fone afgeskakel en die natuur geniet. Soggens was hulle vyfuur uit die vere om ’n wildrit te onderneem en dan het hulle iewers in die bos stilgehou om ’n koppie koffie onder ’n jakkalsbessieboom te drink.

Foto: Instagram (@melindabam)
Foto: Instagram (@melindabam)

“Deur die dag het ons langs die swembad gelê en na die diere gekyk wat verbykom,” vertel die gewese Mej. Suid-Afrika.

“Ons het gholf gespeel, was in die spa en het piekniek op ’n koppie gehou.” 

Foto: Instagram (@melindabam)
Foto: Instagram (@melindabam)

Dit was beslis die beste Bosveldervaring wat sy en Adriaan al beleef het, vertel Melinda.

“Daar was hoogtepunte wat nie net rondom die diere self gesentreer was nie. Hierdie jaar was die beste geleentheid om dinge te verken wat jy nog nooit plaaslik gesien het nie. Ander tye is jou dagboek so vol of jy is besig om oorsese vakansies ver vooruit te beplan dat jy plaaslike dinge miskyk.

“Ons het besef die goed waarvoor ons die meeste waardering het, is nie mensgemaak nie,” laat sy hoor. 

Zoë Brown

Zoë het die Krugerwildtuin besoek.

“My ouers het gesê ons het as gesin gegaan toe ek jonger was, maar ek kan niks daarvan onthou nie,” sê die TV- en radiovrou. Zoë het op haar twee dae lange besoek vroegoggend in die bos gaan stap en vier van die Groot Vyf gesien.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Dit was ongelooflik! Dit was baie informatief en nogal onwerklik om net so op die grond rond te loop. Oomblikke nadat ons terug in die voertuig geklim het, het ons ’n olifant gewaar enkele meters van waar ons was.

“Dit was lekker om te swem en te kyk hoe die olifante en buffels hulself geniet.”

Joe Foster

Die sanger en sy man, Ziechfried Paul, wat vroeër vanjaar na Knysna verhuis het, het onlangs hul eerste huweliksherdenking op Rheenendal daar naby gevier.

“Dit was my idee om iets spesiaals te doen,” vertel Joe, wat deesdae ook as bakker werk.

Foto: Instagram (@joefosterofficial)
Foto: Instagram (@joefosterofficial)

“Hierdie jaar was vir ons albei een van die beste, moeilikste en avontuurlustigste jare ooit. Dis die jaar wat ons onsself en mekaar die beste leer ken het. Ek is gelukkiger as ooit, al is daar soveel persoonlike en loopbaanveranderings.”

Foto: Instagram (@joefosterofficial)
Foto: Instagram (@joefosterofficial)

PRET BY DIE SEE

Ewan Strydom

Die Bravo!-aanbieder en sy gesin was onlangs vir die tweede keer op ’n naweekwegbreek op Struisbaai aan die Wes-Kaapse suidkus.

“Ek is oorspronklik van Johannesburg en het as kind elke Desembervakansie saam met my ouers hier kom vakansie hou. Ek en my broers het altyd gebraai en visgevang,” onthou hy.

Foto: Instagram (@ewan_strydom)
Foto: Instagram (@ewan_strydom)

Dit was daarom vir hom lekker om sy Hongaarse vrou, Adrienn, en hul twee seuntjies, Kean (8) en Dominic (5), daarheen te neem. Die spiertier het die vars seelug geniet.

Foto: Instagram (@ewan_strydom)
Foto: Instagram (@ewan_strydom)

“Dit was ’n bietjie winderig, maar ons het ons tyd op die strand geniet. Ons het in die see geswem, gebodysurf, sandkastele gebou en visgevang.”

Foto: Instagram (@ewan_strydom)
Foto: Instagram (@ewan_strydom)

#PLAASLEWE

Nadia Beukes

Nadia, haar man, David de Villiers, en hul seuns, Davey (2) en Joshua (6 maande), het onlangs by familie op hul plaas op Cornelia in die Vrystaat gaan kuier.

“Ons was voorheen op die plaas, maar met alles wat die afgelope jaar gebeur het, was ons lanklaas daar, en soveel het verander. Dit het omtrent gevoel asof ons op ’n nuwe plaas is,” sê die aktrise en TV-aanbieder.

Foto: Instagram (@nadiabeukes)
Foto: Instagram (@nadiabeukes)

“My skoonsuster het gedurende die inperking ’n welige groentetuin op die been gebring en ’n paar hoenders ryker geword. Ons het saam met die kinders vars groente gepluk, saam met die hoenders en kuikens baljaar en die trekkers en planter in aksie gesien,” vertel Nadia verder. 

Die koue en reën het ook nie Davey en sy pa se susterskind, Andries Cilliers (4), gekeer om pret te hê nie.

“Hy het bloot sy reënstewels aangetrek en kon nie genoeg kry van die kuikens, beeste, skape en al die ander interessante goed op die plaas nie.”

Foto: Instagram (@nadiabeukes)/Minette Cilliers
Foto: Instagram (@nadiabeukes)/Minette Cilliers

“Dis vir ons as ‘stadsmense’ regtig so ’n groot voorreg om ons kinders aan die plaaslewe te kan blootstel.”

OP DIE LANGPAD

Bouwer Bosch

Die sanger en akteur het die langpad op sy motorfiets aangepak.

“Ek het onlangs ’n bietjie avontuur-veldry begin doen en was met my eerste reis Drakensberg toe waar ek oor die wêreldbekende Sanipas gery het.”

Foto: Instagram (@bouwerbosch)
Foto: Instagram (@bouwerbosch)

Sedertdien was hy ook in die Badplaas-omgewing in Mpumalanga. Op sy langpadspeellys is podsendings en oudioboeke.

Foto: Instagram (@bouwerbosch)
Foto: Instagram (@bouwerbosch)

“Omdat ek weens covid lank laas gereis het, het ek ’n nuwe liefde vir ver reis. Ek sal beslis altyd die langpad aanvat, en noudat ek motorfiets ry, is dit selfs nog lekkerder.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.