Bridget Marshall

Dié naaswenner uit die tweede seisoen van The Bachelor was ’n groot gunsteling onder kykers. Bridget is al ses maande in ’n verhouding met die gewese Goue Leeus-rugbyspeler Kobus de Kock.

Bridget en Kobus het mekaar agt jaar gelede deur gemeenskaplike vriende in haar tuisstad, Durban, ontmoet.

Sy het aanvanklik nie gedink sy sal liefde vind ná die reeks nie.

“Ek het besluit om vir ’n rukkie net op myself te fokus en al my energie daarin te ploeg om die beste weergawe van myself te word,” sê sy.

“Toe kom Kobus uit die bloute terug in my lewe, en ek het halsoorkop vir hom geval. Dit was in alle opsigte soos ’n sprokie. My prins het eindelik opgedaag,” koer sy.

En wat het sy aantreklik aan hom gevind? "Alles!" vertel Bridget. "Ek bedoel, kyk na hom. Sy blou oë is betowerend. Kobus is in alle opsigte ongelooflik en vir my is hy uiterse perfeksie."

Hulle geniet dit om saam te kook en ook om te reis. Hulle wil graag eendag Costa Rica besoek en die wêreld verken, vertel sy.

Valentynsdag is een van haar gunsteling-dae, sê Bridget. "Dit klink miskien cliché, maar ek hou van die liefde en alles daaroor. Die rose, teddies, sjokolade. My gesig helder op as ek by die winkels instap en dit is uitgestal!"

En wat is haar en Kobus se planne vir Valentynsdag?

“Ons wil dit met ’n romantiese naweek weg naby Hermanus vier,” sê Bridget.

Andeline Wieland

Andeline het al vir die afgelope paar jare van haar lewe hard probeer om nie net die "perfekte man" te vind nie, maar ook om die "perfekte vrou" te wees. 

“Sodra jy weet wie jy regtig is, sal jy dan ook kan uitwerk wie die beste by jou sal pas,” sê sy. 

Andeline Wie­land, wat in The Bachelor te sien was
Andeline Wie­land, wat in 'The Bachelor' te sien was, het liefde gevind by Kris Barnard. Foto: Verskaf

Dié Namibiër en Kris Barnard is nou al vir die afgelope sewe maande ’n paartjie.

Andeline was 14 toe sy en Kris mekaar by ’n verfbalspel ontmoet het. Hy het haar later na haar eerste huisdans op Stellenbosch vergesel.

“Ons het eers romanties na mekaar begin kyk toe ons albei in Namibië ingeperk was weens covid-19. Ons glo ten spyte van al die chaos was dit die beste geleentheid vir ons verhouding,” sê sy.

“Net omdat een mens jou wegwys, beteken nie jy is ongeliefd nie,” sê sy oor haar soeke na liefde op TV.

Kris is die perfekte pasmaat. "Kris is ’n vreeslike kreatiewe mens en het ’n groot hart! Hy het dalk tatoes en lyk ’n bietjie alternatief, maar hy is ’n teddiebeer en ’n fantastiese vriend," vertel Andeline. "Hy ondersteun my in alles wat ek aanpak en ons kan op mekaar staatmaak dat ons mekaar sal ophelp gedurende hierdie vreemde tyd. Tog kan sy kop ook, nes myne, gereeld in die wolke wees, maar soos Karen Zoid sing: Ek weet twee dromers is beter as een."

Andeline en Kris het saam ’n fotografie-onderneming begin. Kris skiet die foto's en video's en Andeline is verantwoordelik vir die konsepte, dekor, hare, grimering en stilering van hul kliënte. "Ons het geen probleem om van mekaar af weg te wees nie, maar tyd saam is altyd lekker," vertel sy.

Die paartjie geniet dit ook om te kook en selfdoenprojekte aan te pak.

"So gou as wat ons kan en geld het, sou ons graag wou reis!" sê Andeline. "Ons albei is mal daaroor. Natuurlik is die doel vir 2021 om gesond te bly nadat ons covid-19 oor Kersfees gehad het. Dit sou great wees as ons ondernemings groei en wie weet, dalk as ek nou regtig eendag klaar is met skoonheidskompetisies, tel verlowing seker ook as ’n bucket list-item of hoe?"

Andeline met haar tweede helfde Kris Barnard. Foto
Andeline saam met haar liefie, Kris Barnard. Foto: Instagram/andiwieland

Sy sien uit na Valentynsdag.

“Ons sal kos maak en ons nuwe woonstelle in Windhoek geniet. Ek maak juwele; ek het hom gewaarsku om nie vir my ’n halssnoer te koop nie!” sê Andeline.

Jessica Ross

“Toe ek die reeks verlaat het, was ek in geen haas om iemand nuuts te ontmoet nie, veral nie so gou nie,” verklap Jessica, wat die topdrie in The Bachelor gehaal het. Maar toe ontmoet sy die model en persoonlike afrigter Brent Thompson.

Brent is al agt maande die man aan Jessica se sy.

Hy het gewag tot sy die reeks verlaat voor hy haar op Instagram gekontak het.

Jessica en Brent Thompson is al vir agt maande saa
Jessica en Brent Thompson is al agt maande saam. Foto: Verskaf

’n Maand nadat hulle op ’n afspraak was, het hy vir haar blomme gestuur met ’n brief wat haar vra om sy meisie te wees. Brent was een van die finaliste om die Bachelor te wees.

“Ek is bly ons het mekaar nie op kamera ontmoet nie. Alles het gebeur soos dit moet,” sê Jessica.

Jessica met haar man, Brent Thompson. Foto: Verska
Jessica saam met die man in haar lewe, Brent Thompson. Foto: Verskaf

En wat het haar tot Brent toe aangetrek? "Hy was fiks en het ’n baie gesonde leefstyl gehad, waarvan ek gehou het. Ek het vinnig besef ons het baie gemeen; soortgelyke morele waardes en dieselfde begrip van hoe ’n gesonde verhouding moet wees. Saam met sy emosionele volwassenheid, het hy ’n gebeitelde kakebeen en vriendelike oë, en ek is mal daaroor dat hy steeds langer as ek in hakskoene is!" vertel Jessica.

"Om uit te gaan tydens vlak 5 van die inperking het ons regtig gehelp om diep gesprekke te voer wat ek koester.

"Tydens die streng inperking is een ding wat nog altyd daar vir ons was, kos! Ons hou van ’n goeie cheat meal. Aan die ander kant hou ons daarvan om saam te oefen en gesonde maaltye tuis te kook. Ons hou daarvan om plaaslike verblyf te verken."

Brent verjaar twee dae voor Valentynsdag.

“Ons beplan ’n romantiese wegbreek en sluit dit af met ’n spesiale ete op Kalkbaai (buite Kaapstad).”

  • The Bachelorette begin op 11 Februarie om 19:30 op M-Net.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe