Lindsey Abrahams

Die Binnelanders-aktrise se verloofde, Bonga Cele, het in Julie 2020 die jawoord op die stel van die hospitaaldramareeks gevra. 

“Hy was van die begin af ernstig. Inteendeel, hy het vir my gesê hy gaan my sy vrou maak," het Lindsey kort ná hul verlowing aan Huisgenoot gesê. "Ek was nie so seker nie, ek het 'n bietjie commitment issues gehad. Maar dit het glad nie lank geneem vir my om te besef dis die man met wie ek my lewe wil deel nie." 

Bonga het op dieselfde dag dat hulle een jaar saam as paartjie gevier het, die groot vraag met 'n skitterende diamantring by Stark Studios in Johannesburg gevra terwyl Lindsey besig was om 'n toneel te skiet.

Lindsey en Bonga, 'n produk-ingenieur wat apps en webtuistes ontwerp, het mekaar in 2019 deur 'n afspraak-app leer ken. Hul eerste ontmoeting was by die kerk. Nou is hulle op pad kansel toe.

Marciel Hopkins

Die coronakrisis wou net-net dreig om Handré Lourens se planne in die wiele te ry om die vrou van sy drome, die Boer soek 'n vrou-aanbieder Marciel Hopkins, te vra om te trou. Eers het die hotel in Kampsbaai, Kaapstad, waar hy verloof wou raak, hul deure vir die inperking gesluit. Daarna wou hy Marciel in September op die eiland Zanzibar die groot vraag vra, maar die covid-19-pandemie het toe ook hul vakansieplanne in die wiele gery.

Maar dit was 'n geval van aanhouer wen. Op 24 Julie kon hy eindelik sy plan by die Twelve Apostles-hotel in Kampsbaai deurvoer. 

“Hy het vreeslike mooi dinge gesê oor al die avonture wat ons al saam gehad het en gevra of ek reg is om die res van my lewe avonture saam met hom te hê. Natuurlik het ek ja gesê!” het Marciel in Augustus vanjaar aan Huisgenoot vertel. 

Marciel en Handré, 'n finansiële beplanner, is al meer as vier jaar saam. In 2021 wil sy eers op Boer soek 'n vrou fokus, het Marciel vroeër aan Huisgenoot vertel. "My Amerikaanse visum is ook dan nog geldig, so dit sal seker eers in 2022 wees," vertel sy oor hul trouplanne.

Ilne Prinsloo

Die voormalige Boer soek 'n vrou-deelnemer is ook op pad kansel toe. Ilne en haar kêrel, Wianco Blom, het in Desember 2020 verloof geraak. 

“05-12-2020. Maklikste ja van my lewe. Ek kan nie wag om die res van my lewe saam met jou deur te bring nie!” het Ilne op Instagram geskryf.

Ilne het liefde by Wianco gevind nadat haar verhouding met Graham Lombard van Cradock in die Oos-Kaap verbrokkel het. Ilne het Graham op die 13de seisoen van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek 'n vrou ontmoet.

Pascal Pienaar

Pascal, wat harte verower het as die verpleegster Karli in die hospitaaldramareeks Binnelanders, se kêrel van die afgelope jaar, Ryno Olivier, het in Desember die groot vraag op Knysna in die Suid-Kaap gevra. 

“Hy het trane in sy oë gehad en gesê dat hy dit vir ewig wil doen, en hy wil graag hê ek moet sy vrou wees. Ek het dadelik ja gesê,” het Pascal kort na die verlowing aan Huisgenoot vertel oor dié groot oomblik. 

Pascal en Ryno het mekaar einde 2019 ontmoet toe Ryno vir haar 'n boodskap op Instagram gestuur het en die twee toe in Kaapstad op 'n afspraak gegaan het. Hulle het nog nie op 'n troudatum besluit nie, het sy kort na hul verlowing vertel. "Ons gaan vir eers die verloofde lewe geniet."

Demi Lee Moore

Demi Lee, die wenner van die sangkompetisiereeks Die kontrak op VIA, en haar kêrel, die kitaarspeler Barthlo Visagie, het mekaar in 2013 die eerste keer ontmoet. In Desember 2020 het hy haar die jawoord gevra. 

“Jy het my hele hart oorwin, met jou gawe natuur, jou sagte menswees en jou oorvloed liefde vir my,” het Demi Lee by ’n Instagram-video laat hoor wat die groot oomblik in Melkbosstrand vasgevang het.  

Die paartjie het mekaar einde 2013 in 'n musiekwinkel in Bellville, Kaapstad, ontmoet. Hulle het in 2019 van Durbanville in die Moederstad na die ooste van Pretoria verhuis.


Jeremy Ward

Die Sharks-rugbyspeler Jeremy Ward het in Augustus sy hoërskoolmeisie, Tayla Krog, gevra om te trou. Tydens die groot oomblik het die senuwees 10 keer so erg geknaag soos enige van die tye wat hy op die rugbyveld moes uitdraf, het hy aan Huisgenoot vertel. 

“Net voor dit gebeur het, het sy haar hand op my bors gehad en sy wou weet hoekom my hart so vinnig klop. Toe sê ek sy moet net vyf minute aanhang, dan sal alles onthul word,” het die Oos-Kaapse boorling in Oktober aan Huisgenoot vertel. 

Tayla, wat in bemarking werk, het haar studie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi voor sy by Jeremy in Durban aangesluit het. "Dit was vir ons belangrik dat sy onafhanklik word voor ons ons lewe saam begin. Ons het drie jaar lank 'n langafstandverhouding gehad voor sy Durban toe getrek het," vertel hy.

Boer Gerrit 

Die sitrusboer Gerrit Genis, wat nie genoeg briewe ontvang het om verder deel te neem aan die 12de seisoen van die maatsoekreeks Boer soek ’n vrou nie, en Anchen van Rensburg, wat aanvanklik vir ’n ander boer ingeskryf het, het vanjaar liefde by mekaar gevind. Gerrit het op 3 April op sy plaas by Citrusdal in die Wes-Kaap vir Anchen die jawoord gevra.

Die paartjie het in September 'n pragtige fotosessie op die Val de Vie-landgoed in die Paarl gedoen om hul verlowing te vier. Anchen is 'n gr. 1-onderwyser op Bredasdorp, sowat 300 km verder van Citrusdal af. Die afstand demper nie hul opgewondenheid oor hul troudag nie. "Ons datum is 22 Mei 2021, in die mooie herfs," het Anchen vroeër opgewonde aan Huisgenoot vertel.

Emmanuel Castis

Die Erfsondes-ster het vanjaar dubbele vreugde om te vier. 

Emmanuel het in Augustus aan sy meisie van die afgelope vyf jaar, Sharlene Economou, verloof geraak. 

“Sy was heeltemal onkant betrap, want sy het nie gedink dat ek dit voor haar hele familie sou doen nie,” het Emmanuel laggend aan Huisgenoot vertel. Die paartjie, was by die Komati Gorge Lodge in Mpumalanga toe hy op sy een knie afsak.

En in Desember het die paartjie bekendgemaak dat ’n dogtertjie vir hulle op pad is. 

Emmanuel het aan Huisgenoot gesê dat hul trouplanne eers moet wag tot ná hul kleinding haar opwagting in Februarie 2021 gemaak het. 

Danielle Retief

Die 7de Laan-aktrise se kêrel, Jaco van der Merwe, het sy planne agter ’n kamma-oudisie weggesteek. Jaco, 'n logistieke bestuurder wat ook in die vermaakbedryf is, het gevra of Danielle hom met 'n oudisie kon help wat hy op kamera moes vasvang. ’n Niksvermoedende Danielle het toe self die oomblik toe Jaco op sy knie afsak op kamera vasgevang.


Die twee het besluit om te wag tot die coronakrisis bedaar het voor hulle trouplanne maak. 

“Ons sien baie mense wat klein troues met maskers doen, en dit is wonderlik, maar ons sal graag ’n groot partytjie wil hou,” vertel Danielle.

Malcolm Marx

Die Springbokrugbyspeler het meer as 'n maand lank beplan aan hoe hy sy hoërskoolliefde, Kirsten Grant, gaan vra om te trou. Die groot oomblik het toe in Julie aangebreek toe die paartjie by die Kilima Privaat Wildreservaat en Spa in Tzaneen in Limpopo was. 

“Woorde kan nie beskryf hoe dit my laat voel nie. Ek is baie gelukkig en bevoorreg,” het Malcolm in Julie vertel.

Kirsten het in November vanjaar verklap dat hulle in Desember 2021 gaan afhaak. 

Tasché Burger

Tasché, die eerste vrouewenner van die sangkompetisiereeks The Voice South Africa, het in Maart vanjaar haar meisie, Jo-Lene Benade, gevra om te trou. 

Die sangeres het op die eerste dag van die inperking, 27 Maart, die kussingsnitdiamant wat sy vroeër gekoop het gaan uitkrap in die slaapkamer en toe sommer op een knie afgesak by hul krismisbed voor die televisie. 

Toe sê sy vir Jo-Lene: “Ek is verlief op die natuurlike, beeldskone sonder-make-up-hare-deurmekaar-jy. Ek soek jou nes jy is. Jy’t nog nie cliché gehad nie, en ek voel dis my plig om vir jou dit te gee omdat cliché met my naam rym en omdat jy dit verdien. Jy verdien daai cliché-liefde, waar iemand alles vir jou sal doen. So sal jy my die eer gee om my bes te probeer om dit altyd vir jou te gee? Trou met my, eers oor ’n rukkie – sodat ons mooi kan beplan, maar ja?”

Die twee het in Julie verklap hulle wil eers in 2022 trou. 

Boer Willem

Willem en Sanel was een van die gewildste paartjies wat mekaar in die 12de seisoen van Boer soek 'n vrou gevind het. 

Nadat hy tydens die inperking Sanel se pa, Herman, se toestemming sommer per stemboodskap op WhatsApp uit Mooinooi gekry het, het hy sy blondekopliefde op Langbergpunt aan die Weskus gevra om te trou. 

“Sy was soos 'n kind in trane en kon nie woorde uitkry nie,” het Willem vertel oor Sanel se reaksie op sy vraag.