Robbie het op Instagram ’n foto gedeel van die nuwe kunswerk op sy regterarm.  

“My nuwe gunsteling. Ek het altyd my ninja aan my regterhand," het hy by die foto geskryf. Robbie het verder vertel die "ongelooflike kunswerk" is aan sy dogtertjie, Lara, opgedra. "Sommige mense hang hulle kuns, ons dra ons s’n,” het hy op Instagram laat hoor. 

Robbie en sy vrou, Lynn, is in 2015 getroud. Die paartjie het voorheen aan Huisgenoot vertel hulle het drie jaar lank probeer swanger raak voor Lara haar opwagting gemaak het. 

Lara word in Oktober twee jaar oud en sy is duidelik haar pa se oogappel.

Die tatoe, wat haar pa spesiaal aan haar opgedra het, wys ’n ninja met blou oë soos Lara, en ’n swaard langs haar sy. 

“Lara is my klein ninja, ek het hierdie verbeeldingswêreld opgemaak waar sy die heldin is. Haar superkragte is liefde en gaafheid. In my stories red sy elke keer die dag. Die tattoo vertel daardie storie,” vertel Robbie oor die inspirasie daaragter. 

“Ek noem my vrou ook ninja, want ninja’s moet hulself kan oppas. Hulle is ook baie slim, so hulle kan enige situasie onder beheer kry en beweeg steelsgewys. Toe Lara gebore is, toe het sy dieselfde talente as Lynn. So sy is die ‘first-in-charge ninja’, want sy beheer die huishouding,” lag hy verder. 

In plaas van die gebruiklike sterrewapens, gooi hierdie ninja hartjies en blomme, en spog ook met hartjies vir voete. 

Robbie het ook ’n rits ander tatoes wat almal ’n storie vertel. 

“My eerste een was ’n anker, toe ek van Kaapstad na Frankryk geseil het. Ons het amper gesink in ’n storm, maar ons het oorleef. Ek het ’n klomp rose en blomme vir al die familie wat ek al verloor het.

“My vrou se naam is op my sleutelbeen en die Afrika-kontinent op my bors. Ek het ook ’n mikrofoon op my arm om my liefde vir radio te wys. Dan is daar ’n aanhaling van Leo Tolstoy: “If we admit that human life can be ruled by reason, then all possibility of life is destroyed’ op ’n sailor’s cross. Ek het ook ’n kitaar en ’n klok, en die musieknote van my gunsteling-liedjie, Eagle-Eye Cherry se 'Save Tonight'," vertel hy verder.

Lara is baie opgewonde oor haar pa se nuwe tatoe. 

“Sy skree ‘ninja, ninja’ as sy my nou sien. Dan moet ek die tattoeërmerk vir haar wys. Dit is verseker haar nuwe gunstelingkunswerk,” laat Robbie hoor. 

Ekstra bron: Japan Guide