Roxy vertel aan Huisgenoot dit was haar idee om ’n gesinsfotosessie drie weke ná hul seuntjie, Finnley Cade, se geboorte te hê. 

Die televisieaanbieder en haar man van die afgelope ses jaar het op 1 Oktober hul eerste seuntjie verwelkom. Hulle het ook ’n tweejarige dogtertjie, Adrienne Zoey.

“Ek het nie ’n swangerskapsfotosessie gehad nie en wou iets spesiaals doen,” sê Roxy. 

roxy burger is mal oor ma-wees
Roxy is mal oor ma-wees. Foto: Reflection 9

Sy vertel hul seuntjie se naam het ’n spesiale betekenis. 

“Dit beteken 'die dapper een'. Boonop is dit van Ierse oorsprong, nes my man se naam.”

Die tema vir hul gesinsfotosessie was 'natuurlik en neutraal'. “Ek hou van wat hulle met die dekor gedoen het en die blommerangskikking was ongelooflik.” 

Die tema vir hul gesinsfotosessie was natuurlik en
Die tema vir hul gesinsfotosessie was 'natuurlik en neutraal'. Foto: Reflection 9

Al was die fotosessie groot pret vertel Roxy dit was ’n uitdaging met ’n tweejarige en pasgeborene, maar hulle het dit reggekry. 

Sedert klein Finnley Cade se geboorte het hul lewe baie verander.

“Dis soos enige ouer wat moet aanpas met twee klein kinders – dis ’n rollercoaster.” 

Die ma van twee het onlangs op Instagram ’n foto gedeel en skryf: “Jou liggaam het pas ’n baba gehad en dit is die mooiste ding. Wees dus goed vir jouself. Herinner jouself hieraan. En onthou om aan te hou om jou eie liggaam te koester om hierdie magiese ding te doen.”

ma en dogter het bypassende haarstyle
Ma en dogter het bypassende vlegsel-haarstyle. Foto: Reflection 9

Roxy het voorheen vertel dat haar tweede swangerskap tydens die covid-19-pandemie baie anders was as die eerste een. 

“Dié keer het ek my afgesonder en soms baie alleen gevoel. Ons was versigtig vir uitgaan as gevolg van my toestand en alles wat aangegaan het,” het sy vertel. 

Moederskap het ook haar lewe op elke manier moontlik verander en haar prioriteite is nou anders. 

klein adrienne zoey is mal daaroor om 'n ouer suss
Klein Adrienne Zoey is mal daaroor om 'n ouer sussie te wees. Foto: Reflection 9

Maar met behulp van haar man, familie en vriende kry sy dit reg om haar loopbaan en ma-wees suksesvol te balanseer. 

Klein Adrienne Zoey wil ook soms hand bysit met haar boetie. Sy kon immers nie wag om haar bababoetie te ontmoet nie. 

“Sy is mal daaroor om ’n ousus te wees en sy is so ’n goeie ouer suster,” sê Roxy. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.