Die TV-aanbieder en omroeper Rozanne McKenzie en h
Die TV-aanbieder en omroeper Rozanne McKenzie en haar man, Chris Bishop, saam met hulle twee kinders James (links) en Fallon. Foto: Instagram.

Maar toe die TV-aanbieder en omroeper Rozanne McKenzie (38) in Julie vanjaar die paaldansafrigter en choreograaf Carmi van Heerden op die VIA-program Besigheid wat saak maak ontmoet, was dit ’n ander storie.

“Carmi het my so geïnspireer en is so passievol oor paaldans,” vertel Rozanne, die aanbieder van dié program. “Ek kon nie anders as om haar te vra of ek asseblief by haar kan begin lesse neem nie,” voeg sy by.

View this post on Instagram

A post shared by Rozanne McKenzie (@rozmckinsta)

Carmi, wat in Centurion paaldansklasse aanbied, het aanvanklik eers vir Rozanne aangeraai om ’n ateljee naby haar Wes-Randse huis te soek. Maar hiervan wou Rozanne niks weet, omdat dit juis Carmi se energie en passie vir die sport is wat haar eie nuuskierigheid weer opnuut kom prikkel het.

“Ek wou dit nog altyd doen, maar het nooit geweet waar om te begin nie,” vertel Rozanne, wat toe in die middel van Augustus vanjaar vir klasse begin aanmeld het.

Wat haar aanvanklik destyds van hierdie soort oefening aangetrek het, is dat dit so stylvol as kunsvorm kan wees, terwyl dié wat dit beoefen nog steeds baie sterk moet wees. “Jy is sterk en jy is feminine; daar is ’n mooi balans tussen die twee.” 

Rozanne is geen vreemdeling vir oefen nie en doen gereeld funksionele oefeninge (met onder meer gewigte), boks, of hoë-intensiteit interval-oefeninge.

“Oefening is vir my belangrik, want dit help met my geestesgesondheid. As ek oefen, dan weet ek my liggaam het daardie endorfiene wat my goed laat voel,” vertel Rozanne.

“Dit is vir my so lekker om in die oggend te oefen, sodat ek my dag op ’n positiewe, gesonde noot kan begin,” sê sy.

Al hou sy daarvan om te sien hoe ver sy haarself met elke sportsoort en oefening kan uitdaag, skep paaldans nog daagliks vir haar nuwe uitdagings wat sy wil bemeester.

Teen einde Augustus het sy met behulp van ’n WhatsApp-video-oproep met Carmi saam met haar man, Chris Bishop (41), ’n paal in haar motorhuis opgerig en sedertdien probeer sy elke Saterdag tyd inruim vir oefening tuis.

“Dit is moeilik om by die huis te oefen, want my kinders dink dit is heeltyd speeltyd op my paal,” vertel Roxanne laggend.

“Hulle geniet hulle gate uit om te speel, klim en swaai. Dit is amper asof dit hulle speeltyd is, eerder as my tyd om te oefen,” vertel sy.

Die twee woelwaters is natuurlik haar kinders, James (6) en Fallon (3), wat saam met mamma op die paal wil baljaar.

Die giftonge wat moontlik iets aanlyn kon kwytraak omdat sy paaldans beoefen het Rozanne nie van stryk gebring om haar paaldans-avonture in die sosiale media te deel nie.

“Ek het glad nie omgegee wat mense daarvan gaan dink of hulle my gaan oordeel nie. Maar ek dink ook mense is al ’n bietjie meer oopkop oor paaldans as ’n sport en ’n manier om fiks te bly,” vertel Rozanne.

Boonop is enige aanvanklike vrees wat sy moontlik aan die begin kon gehad het, vinnig gestil deur die talle positiewe kommentare en mense wat ook wil weet waar hulle dié sportsoort kan beoefen. 

Nes haar nuutgevonde passie vir paaldans, het Rozanne ook vanjaar haar heel eerste tatoe gekry.

“Hierdie jaar het ek veral gevoel, as jy dit nie nou doen nie, wanneer gaan jy dit doen?” sê-vra sy oor 2020, wat weens die coronakrisis mense se paaie vol duwweltjies gelaat het.

Met die nuwe jaar wat nou vir haar wink, hoop Rozanne dat ons hopelik vroeër eerder as later sosiale distansiëring in 2020 kan agterlaat.

“Ek wil net vir iemand ’n drukkie kan gee en ook net vir iemand van aangesig tot aangesig kan kyk sonder ’n masker,” vertel Rozanne.

“Ek weet dit is belangrik dat ons by daardie reëls hou, maar ek is mal oor fisiese kontak en dit is vir my baie hartseer dat ’n mens nie meer vir mekaar kan drukkies gee nie,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe