Sy is een van die gewilde aanbieders op Jacaranda FM se oggendprogram Breakfast with Martin Bester en ’n SuperSport-rugbyaanbieder, maar Elma Smit hou haar lyf ook graag gholfspeler.

Elma en manlief, Richard Maspero, ’n gholfaanbieder en sportjoernalis vir SuperSport, het pas teruggekeer van ’n onvergeetlike toer deur Europa. Die egpaar het onder meer ’n week lange whisky-toer deur Skotland geniet wat eindelik "gekroon is" met ’n ronde gholf by die wêreldbekende St. Andrews-gholfbaan.

"Ons het hierdie hele reis beplan met die idee om my man se 40ste verjaardag te vier. Hy wou ’n fantastiese avontuur pleks van ’n groot partytjie hê,” vertel Elma aan Huisgenoot.

Hulle het boonop gespeel op die einste baan waar gholf sowat 600 jaar gelede vir die eerste keer gespeel is.

Die twee sportliefhebbers was baie gelukkig om ’n afslaantyd op dié baan te kry, want volgens die baan se webtuiste is hulle al tot November 2019 vol bespreek.

Die baan het gelukkig ook ’n tradisie om met ’n lotery twee dae voor ’n afslaantyd name van gelukkige spelers te trek.

"Ons het ses keer ingeskryf vir die lotery om ’n ronde te probeer bespreek," sê Elma.

"Jy skryf twee dae voor die tyd in; ons het dus voor ons vertrek uit Suid-Afrika al besef ons gaan maar ’n kans moet vat en hoop. Ons wou nie die gholfstokke saamvlieg vir ingeval nie. Maar jy kan ook donkervroeg elke oggend by die klubhuis in St. Andrews tou gaan staan om te kyk of jy ’n gaatjie in ’n onvolledige 4-bal kan kry, wat Richard se laaste hoop sou wees."

Hulle het sommer gholfstokke gehuur, vertel Elma.

"Richard het ’n baie goeie ronde gehad, op die telkaart ook (hy speel van ’n 4-voorgee af), maar ek het net vir die ervaring gespeel. Dit was 'n fantastiese middag, ondanks die koue, reën en wind. Ons het soos gekke heelpad geloop en glimlag, maar dis omdat dit regtig besonders mooi is en daar merkwaardige geskiedenis om elke bos en by elke putjie is. Mense speel al eeue lank op daai baan gholf! Ons joggies was fantasties en het elke aspek van die ervaring regtig verryk," vertel Elma.

"Daar was baie vroue wat self ook daai dag gespeel het en omdat dit ’n munisipale fasiliteit is, stap mense se honde sommer saam tydens hulle ronde. Of drawwers kom met hul honde verby. Daar’s dus ook sommer 'n paar landmyne langs die pad – amper soos Seepunt se promenade, plus setperke.”