Die aktrise, wat pas haar B.A. (Geesteswetenskappe)-graad aan die US verwerf het, het foto’s van die spesiale dag op Instagram gedeel. Hieronder was 'n foto waar sy die veteraan-akteur John Kani op die wang soen. Die akteur verskaf die stem van Rafiki in die fliek The Lion King en het verlede jaar die superheld Black Panther se pa, T'Chaka, vertolk in die lokettreffer Black Panther.

“Dit was ongelooflik om vir John Kani te ontmoet. Ek is ’n baie groot aanhanger van hom en Pieter-Dirk Uys,” vertel Marguerite aan Huisgenoot. 

“Hulle is nie net my gunsteling- Suid-Afrikaanse kunstenaars oor die teaterwerk wat hulle gedoen het nie, maar hulle is ook ongelooflike akteurs wat ’n groot verskil in die land gemaak het.”

“Ek dink ek vergeet partykeer dat dit nie net gaan oor die rol of rolprent waarin ek speel nie, maar ook wat ek bydra tot die gemeenskap en wat ek doen om my gemeenskap ’n beter plek te maak,” voeg die aktrise by. 

Marguerite, wat veral bekend is vir haar rolle in Vaselinetjie en die kykNET-reeks Fynskrif, sê sy het met behulp van haar goeie vriendinne en gereelde kommunikasie met haar dosente dit reggekry om haar studies en haar werk in die toneelwêreld gelyktydig te balanseer. 

View this post on Instagram

??

A post shared by Marguerite (@margueriteve) on

Sy gaan volgende jaar haar honneursgraad in teaterstudies ook by Maties aanpak. “My tesis is juis op Pieter-Dirk Uys gebaseer," laat sy hoor.

Marguerite is ook opgewonde om vir die eerste keer in haar eie woonstel op Stellenbosch in te trek nadat sy agt jaar lank in die koshuis gewoon het. 

Tot die nuwe akademiese jaar aanbreek, is sy die Kerstyd op ’n bemarkingsveldtog vir Huisgenoot, kykNET en The Film Factory se tweede fliek, Vergeet my nie, waarin sy die rol van Mardaleen Derks vertolk.  

Dié fliek is deur die ware liefdesverhaal van die Huisgenoot-lesers Mardaleen en Hugo Derks van Namibië geïnspireer en word op Valentynsdag aanstaande jaar uitgereik. Sean-Marco Vorster van Alles Malan-faam vertolk die rol van Hugo.