Dit was ’n enorme uitdaging, vertel Louw telefonies aan Huisgenoot oor sy nuwe voorkoms: 'n transformasie wat ’n volle jaar geneem het.

En maklik was dit beslis nie . . . 

“Ek onthou nog die oomblik toe ek besef het ek moet iets doen. Ons het pas Drama-mammas vir Via verfilm, en ek het een van die episodes in Desembermaand (2018) gesien nog voor dit in Mei verlede jaar uitgesaai is,” onthou hy.

“Hulle sê mos altyd spottenderwys die kamera sit 10kg by. Nou ja – by my kon mens dit duidelik sien. Al daardie lang ure en lekker eet was nie volhoubaar nie,” sê hy en lag.

Louw Breytenbach
Dit het een jaar se harde werk geverg om sy voorkoms te transformeer, vertel Louw. Foto: Facebook

Natuurlik was hy selfbewus, erken Louw. Maar soos meeste van ons het hy ook maar in die dae en ure van ’n besige werkskedule verlore geraak. 

“Dis nou natuurlik tot jy mooi en lank na jouself kyk en besef: o, gits – ek het dinge regtig bietjie laat gaan.”

Louw het in Desember van 2018 aanlyn saam met ’n persoonlike afrigter begin oefen en ook sy dieetplan aangepas. Waar hy voorheen aan lekkernye sou weglê, het sy nuwe eetplan vereis dat hy geen suiker, suiwel of stysel eet nie.

En jy kan maar spot – maar dis geweldig traumaties, sê hy.

“Jy het geen lewe nie,” vertel hy weer laggend. “Al die lekker dinge is skielik taboe.”

Louw Breytenbach
'n Mens kan beswaarlik glo dit is dieselfde mens as voorheen. Foto: Edó Mostert
Louw Breytenbach
Die televisieaanbieder Louw Breytenbach voor sy transformasie. Foto: Verskaf

Hy het eers net vir ses maande lank 'n oefen- en eetplan gevolg, maar het die program toe later met nog ses maande verleng.

“Die werklikheid het my nes duisend ander mense getref: ek het nie in ses maande in ’n Griekse god verander nie! Toe moes ek maar braaf wees en voortbeur. Dis die belangrikste: om nie sommer net moed op te gee nie.”

Hy oefen ses dae per week in die gimnasium waar hy onder meer kardio- en gewigoefeninge doen. Louw sê hy draf nou ook meer gereeld as voorheen.

“Ek draf nie meer net weg van my probleme af nie,” skerts hy.

Louw Breytenbach
Sjoe! 'n Sexy Louw spog met sy voorkoms op die strand. Foto: Edó Mostert
Louw Breytenbach
Sjoe! 'n Sexy Louw spog met sy voorkoms op die strand. Foto: Edó Mostert
Louw Breytenbach
Die televisieaanbieder Louw Breytenbach voor sy transformasie. Foto: Verskaf

Hy weeg nou 81 kg – vyf kilogram minder as wat hy voor die transformasie geweeg het. Maar die grootste verandering is die vet-persentasie in sy liggaam: dit het drasties verminder van 21% na ’n skrapse 6%.

“Daar was ook maar baie wat ek in die proses moes leer. Ek het ook gedink ek moet gewig verloor; dat die vetjies my probleem is. Maar mens is baie oningelig. Vette word spiermassa – en eintlik is jou vet-persentasie die belangrikste om dop te hou.”

Dit voel behoorlik of hy nou ’n tweede kans op álles gegun is, vertel Louw. En dis natuurlik nie sleg om homself in die spieël te sien nie . . . 

Louw was in Junie verlede jaar op die N3-hoofweg in Johannesburg betrokke in ’n ongeluk waarin drie mense dood is. Die televisieaanbieder het met sy Mini Cooper in ’n stilstaande sleepwaentjie wat aan ’n taxi vas was, vasgery, terwyl vier mans glo besig was om ’n pap band te vervang.

Louw was ten tyde van die ongeluk op pad na sy huis in Boksburg nadat hy by ’n vriend in Melrose Arch gekuier het. 

“Ek glo en vertrou ek is nou op ’n beter plek as verlede jaar. Dit was geweldig pynlik en traumaties,” onthou hy.

“Ek weet nie of mens dit ooit regtig agter jou sit nie. Maar jy leer om daarmee saam te leef – dit bly jou altyd by. Ek dink almal beleef so oomblik waar dit voel of dit die einde gaan wees . . . maar dan is dit dalk net die begin. Jy skrik wakker en besef jou lewe kan enige oomblik eindig, en dan leef jy voluit. En ek is dankbaar vir hierdie genade in my lewe.”