Sorina het die liedjie einde verlede jaar saam met die sanger Dirk van der Westhuizen uitgereik. 

Nadat hulle omtrent mense aan die dans gehad het met ’n kompetisie waar jy jou beste moves moes “gooi” vir ’n geldinsameling, was dit eindelik haar kinders, oftewel “Tennis Tune-sterretjies”, se beurt om mense met hul video te vermaak.

In die video sing "Braambossie", soos Sorina haar driejarige seuntjie, Braam, noem, die meeste van die liedjie terwyl hy verwoed dans saam met sy eenjarige sussie, Miana.

Dié kap dit ook uit en sing elke dan en wan ’n liriek of dans saam. Albei dra boonop ’n koel sonbril.

“Wanneer jou eie kinders jou grootste tjommies is en hulle mamma Sorina aka Flooze Fan Page se musiek met oorgawe sing en dans,” skryf sy by die video op Facebook.

“Mamma se twee grootste fans. Dankie, my kinders,” sluit Sorina die video af.

Dit lyk mos of Sorina se kroos dalk net in hul ma se voetspore gaan volg...