Mason Ramsey, van die piepklein dorpie Golconda in die staat Illinois, het oornag ’n internetsensasie geword nadat ’n video waarin hy Hank Williams se liedjie Lovesick Blues sing ywerig in die sosiale media gedeel is.

I got a feeling called the blues... everyone’s favorite. #blues #lovesickblues #hankwilliams #yodel #littlehank

A post shared by Mason Ramsey (@lilhankwilliams) on

Mason se Instagram, waar hy as “lil (klein) Hank Williams” bekendstaan, word saam met sy Twitter-rekening glo deur sy ouma bestuur. Hier kan aanhangers gereeld sien hoe hy by verskillende Walmart-winkels voor honderde mense optree.

?? Hey Good Lookin’

A post shared by Mason Ramsey (@lilhankwilliams) on

Hy het ook sy opwagting by die gewilde Coachella-musiekfees gemaak, waar hy die Cold Water-sanger Justin Bieber ontmoet het, en twee keer op die The Ellen DeGeneres Show opgetree.

Die televisie-aanbieder Ellen DeGeneres het ook aangekondig dat Walmart Mason ’n studiebeurs van $15 000 (amper R190 000 aangebied het. 

Tog het sy geluk nie daar opgehou nie. Hy het einde April aangekondig dat hy ’n opname-ooreenkoms met Atlantic Records en Big Loud gesluit het, berig USA Today.

Sy eerste, oorspronklike enkelsnit het die gepaste naam Famous en boer omtrent op elke trefferlys waar aanhangers daarna kan luister. Hoewel die liedjie al op 26 April uitgereik is, is dit steeds in die afgelope week meer as sewe miljoen keer wêreldwyd geluister.

Sy optredes op die legendariese countryverhoog die Grand Ole Opry en IheartCountry-musiekfees in Texas het ook die gehore gaande gehad.

“Agt en twintig dae gelede het ek vir 11 mense in my plaaslike Walmart-winkel gejodel. Die afgelope naweek het ek voor 100 000 mense op Stagecoach (’n countrymusiek-fees in Kalifornië) opgetree.”

"Dis ongelooflik wat alles in net een maand kan gebeur," het Mason op 30 April getwiet.