"Ek het op die stoep by ons huis in die Oos-Kaap gesit. Dit was taamlik ounag. Ek luister nie geweldig baie musiek nie en hierdie spesifieke aand besluit ek om my album Ruite Oop 'n bietjie te luister," onthou Herman (34). 

Toe kom "Vliegtuig" op. "Daai lirieke kom toe wat sê: 'Eendag sal ek jou my vrou maak.' Ek kry toe hoendervleis," vertel hy. 

Dit was op daardie oomblik dat Herman besef het dat hy nou moet skouer aan die wiel sit om sy bestuurder en meisie, Maryke Steyn (32), die groot vraag te vra. 

Byna 'n week gelede, op Saterdag 27 Maart, het Herman besluit om voor sy gehoor by die musiekfees Gifberg Spook op Vanrhynsdorp in die hartjie van die Namakwaland vir Maryke die jawoord te vra.

"Ek het elke jaar 'n fees wat ek reël in Gifberg naby Vanrhynsdorp en ek het toe nou gereël dat ek en Maryke, wat af en toe saam met my klavier speel, saam by die fees optree," sê hy.

Herman besluit toe om sy liedjie "Vliegtuig" te speel. "In dié liedjie sê ek in die tweede vers: 'Jy weet, eendag sal ek jou my vrou maak'," vertel hy. 

Hy stop toe net na daardie lirieke, draai om en sê: "Jy weet, ek sal jou nog eendag my vrou maak. Hoe klink nou?"

Hy sak toe op een knie en vra haar om te trou. Nadat Maryke "ja" gesê het, het die gehoor gejuig. 

"Sy was baie verbaas. Ek het dit beslis goed weggesteek. Sy het niks verwag nie en dis vir seker," vertel die sanger.

Die paartjie, wat al 'n jaar en 'n half uitgaan, het mekaar op Tinder ontmoet. 

"My broer, Christo (29), het vir my destyds gesê: 'As jy enkellopend is, moet jy een keer op 'n Tinder-date gaan'," vertel hy.

Herman besluit toe om die app 'n kans te gee en toe kruis die twee se paaie.

"Maryke was 'n volle 24 uur op Tinder," sê die sanger en lag. En ná hul eerste ontmoeting het Herman geweet sy is die een.

Die paartjie het verlede jaar op Lentedag op 1 September amptelik begin uitgaan. "Dit was liefde met die eerste oogopslag," vertel hy. 

Herman en Maryke het buiten die troubeplanning 'n bedrywige jaar wat op hulle wag. 

"Ek het 'n baie opwindende app wat ek binne die volgende paar maande gaan uitreik.

Die paartjie koer behoorlik. Foto: Instagram/@herm
Die twee koer behoorlik. Foto: Instagram/@hermankleinhans

"Die app se naam is ShareTime en dit is basies 'n platform wat ons beskikbaar stel vir mense sodat hulle hul tyd beter kan gebruik," vertel hy. 

Verder gaan hy en Maryke hard aan die werk wees met TWEE Vellies, die paartjie se winkel wat velskoene en ander leerprodukte verkoop. 

"Ek wil ook graag begin met 'n nuwe Twee-album," vertel hy. Herman en Danielle Dippenaar is die sanggroep Twee.

Die sanger werk ook aan die klankbaan van die tweede seisoen van die kykNET-dramareeks Alles Malan. Praat van bedrywig! 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.