Dit was soos iets uit ’n sprokie toe Duane (28) in die Italiaanse dorpie Fiesole naby Florence in die prentjiemooi streek Toskane, sy meisie, Cleo (28), gevra het om te trou. 

Volgens die akteur is hy en Cleo dol oor reis en wou hulle albei graag Italië toe gaan en veral Toskane sien. "Ek is dol oor die fliek Under The Tuscan Sun en het nog altyd gesê as ek eendag verloof raak, sou dit daar wees. Dis ongelooflik mooi en dit het net so gebeur dat ons beplan het om daarheen te gaan," vertel Duane nou aan Huisgenoot. 

"Ek het vir sowat ’n jaar beplan om haar te vra, maar het eers in Augustus begin om die ring te soek. Dit het my twee maande geneem voordat ek uitendelik die perfekte ring gekry het," sê hy.

Duane het geweet Cleo, ’n danser en choreograaf, sou hou van iets eenvoudig en het presies dit in gedagte gehou toe hy die ring gekies het.

"Ek het ’n spesifieke ring gekry en net ietsie ekstra by laat voeg sodat dit eksta spesiaal is. Om die perfekte ring te vind is moeilik, maar dit was alles die moeite werd toe sy 'ja' sê,” vertel Duane.

Die paartjie, wat oorspronklik van Kaapstad is maar tans in Johannesburg is, is omtrent stralerjakkers en het tydens hul oorsese vakansie Italië, Frankryk en Spanje verken. 

"Dit was ongelooflik om verskillende kulture van mense en ook die geskiedenis agter die stede in hierdie lande te sien. Ons was dol oor die verskilllende argitektuur en al die mooi uitsigte,” vertel Duane.

View this post on Instagram

Thank God you're not normal?

A post shared by Duane Williams (@_d_will.i.am) on

Die hoogtepunt vir die paartjie was natuurlik hul verlowing in Florence op 29 Desember, maar ook hul tyd in Cannes aan die Franse Riviera. "Die mense daar is vriendeliker as in enige van die ander stede wat ons besoek het en dit het soveel mooi strande. Dit herinner my baie aan Kaapstad," sê Duane.

En wat beteken die huwelik vir hierdie jong akteur? "Dit beteken alles vir my. Die huwelik is ’n pragtige ding en liefde is skaars in vandag se tyd. As jy die persoon vind met wie jy net jouself kan wees en hulle jou beste maat kan noem, moet jy daaraan vashou,” sê Duane. 

Volgens hom moet ’n verhouding nie geforseer of onnatuurlik wees nie. "Jou hart kan nie jok as dit by liefde kom nie. So, as jy weet, weet jy."

Duane, wat al in internasionale dansflieks soos Honey 3: Dare to Dance te sien was, het in Hillview op die Kaapse Vlakte grootgeword. Sy enkelma, Gloria, het hard gewerk om vir hom en sy jonger broer, Matthew, die beste te gee, het hy in 2017 aan Huisgenoot vertel. 

"Ná 7de Laan het ek my ma versorg omdat sy ’n stryd teen kanker gevoer het en nie lank gehad het om te leef nie. Ek het tyd weg van die vermaakbedryf geneem om by haar te wees. Sy is oorlede twee weke voor ons vertrek het vir ons vakansie na Europa," vertel hy.

"Ek was gelukkig om my tyd met haar te spandeer en ook my energie en liefde op haar te fokus. Ek kon ook die ring vir haar wys en my planne om verloof te raak met haar deel voor sy gesterf het,” vertel Duane roerend. 

Hy gaan 7de Laan definitief mis, verklap hy, maar meen dit was ’n ongelooflike geleentheid vir hom om as akteur te groei en leer.

"Ek het verlief geraak op Vernon se karakter, so ek gaan die Laan baie daarvoor mis, maar is op ’n goeie tyd weg sodat ek tyd met my familie kon deurbring,” sê Duane.

Hy beplan wel om vir die volgende ses maande op teaterwerk te fokus.

View this post on Instagram

Happy Monday??.With Love?

A post shared by Duane Williams (@_d_will.i.am) on

Hy en Cleo gesels reeds oor hul troudag, maar volgens Duane vat hulle dit rustig. Vir nou geniet hulle eers hul verlowing.