Cindy (37) het onlangs ’n foto van haar nuwe haarstyl in die sosiale media gedeel.

"Mal oor my kort hare," skryf sy.

Haar 43 400 Instagramvolgelinge is ook mal daaroor. "As ek so goed soos jy kan lyk, gaan ek ook my lokke laat sny!” het een laat hoor. "Dis absoluut pragtig," het nog een geskryf.

“Ek het verlede week my hare laat sny. Dit is meer hanteerbaar, lyk gesonder en is pret,” vertel Cindy aan Huisgenoot.

“Ek voel ek is in dié stadium van my lewe meer hups en het meer pret en dié haarstyl laat my so voel,” sê die ma van twee wat in Kampsbaai, Kaapstad, woon.  

“Dit laat my ook toe om my natuurlike krulle te dra sonder om gereeld haarsalon toe te gaan.”

Die voormalige Mej.SA sê haar hare is meer hanteer
Die voormalige Mej.SA sê haar hare is meer hanteerbaar en lyk gesonder. Foto: Tegan Smith

"Ek het altyd gedink my natuurlike krulle is nie perfek genoeg nie, maar met hierdie lengte is ek mal daaroor. Ek wil ’n jaar lank my hare minder deur hitte beskadig, meer versorg en laat groei.

“Die lang hare laat my soos ’n model voel en dit is nou ’n bietjie te perfek vir my. Korter hare bevry my van daardie gevoel,” voeg sy by.

En waarmee is die voormalige Mej. Suid-Afrika en sakevrou deesdae besig?

Benewens haar en haar man, Clive Roberts, se onderneming, Cosmetix, wat grimeer-en skoonheidsprodukte verkoop, het sy ook ’n liefdadigheidsprojek, Women4Women, wat vroue bemagtig en ophef.

"Ek is opgewonde oor Women4Women," sê sy. Sy vertel hulle het pas finansiering vir 50 hoërskoolmeisies van townships landwyd gekry om 10 maande lank selfontwikkelingskursusse te doen. “Die kursusse leer hulle lewensvaardighede wat nie in skole geleer word nie, om vroue die gereedskap te gee om suksesvol en bemagtig te word.”

Cindy Nell-Roberts is mal oor haar kort hare.
Cindy Nell-Roberts is mal oor haar kort hare. Foto: Tegan Smith

“Ons gee ook beurse vir jong vroue in nood wat enkelma’s het. Ons sal ook verskeie werksessies landwyd aanbied, tesame met die Mej. SA-organisasie wie se finaliste geld vir dié projekte insamel.

“Ek beplan ook om later vanjaar ’n paar modelskole oop te maak,” vertel Cindy.  

Sy kry darem ook tyd vir pret. Cindy, haar man, Clive, en hul kinders, Ethan (7) en Aenea (5), het onlangs op die prentjiemooi strande van die  Maledive-eilande uitgespan. "Ons het gehaltetyd as gesin deurgebring en in die week wat ons daar was geen elektroniese toestelle gebruik nie," het Cindy vroeër aan Huisgenoot vertel. "Ons het ons tablette by die huis gelos en ons fone weggepak. Die kinders kon net speel."

Cindy en Clive vier in Maart hul 10de huweliksherdenking en beplan om vanjaar nog hul spruite Italië te gaan wys.