Die rede?

Die bisarre leefomgewing wat skuil agter die voordeur van sy enorme huis in die rykmansbuurt Beverly Crest in Los Angeles, Kalifornië.

Wanneer jy oor die drumpel stap, sien jy die eerste teken dat als dalk nie pluis is nie: die grillerige trap wat vol wriemelende “slange” na die eerste verdieping kronkel.

En dan is daar ook die eetkamer met die versameling outomatiese gewere teen die muur. Dié blik op die binnelewe van die 69- jarige Dr. Phil, oftewel Phillip McGraw, is moontlik gemaak deur ’n joernalis wat foto’s daarvan getwiet het nadat die huis onlangs in die mark geplaas is.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Dr Phil. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jou smaak “eklekties” is – soos die eiendomsagent dit noem – kan dit joune wees vir net R83 miljoen.

Foto: Realtor.com
Die aanvalsgewere wat teen die eetkamermuur pryk, het die grootste konsternasie in die sosiale media veroorsaak. Foto: Realtor.com

Maar aanlyn kommentare was allesbehalwe vleiend: Dr. Phil moet ’n terapeut gaan sien; geld kan nie smaak koop nie; elke vertrek is deur die oorlede Irakse diktator Saddam Hoesein se badkamer geïnspireer . . .

Van buite gesien lyk die mosterdgeel huis met die rooi teëldak heel normaal.

 Foto: Magazinefeatures.co.za
Die lowergroen spog­eiendom met al sy buiteluggeriewe vanuit die lug gesien. Foto: Magazinefeatures.co.za

Die “werf” is ’n groen lushof van 2 000 m². Daar is ’n buitelugsitkamer met ’n vuurmaakplek, ’n gazebo, ’n yslike swem- bad en spa. Maar binne raak dinge vreemd. Benewens die spiraaltrap so reg uit ’n riller is in die voorportaal ook ’n kroeg en ’n groot kunswerk wat “f***” uitspel.

Dit word verdwerg deur ’n massiewe koepel waaraan ’n reusekandelaar hang. Toe die huis ontwerp is, was die opdrag glo dit moet voel asof jy in die regisseur Tim Burton se fliekweergawe van Alice in Wonderland beland wanneer jy by die voordeur instap.

In elke hoek van die huis is vreemde ornamente en dierefigure: ’n konyn wat ’n sigaret rook; ’n juweelbedekte beer; ’n paar reuselippe . . . alles in ’n kaleidoskoop van kleurskemas wat een kritikus aan ’n “dwelmnagmerrie” herinner.

Foto: Magazinefeatures.co.za
By die huis se voordeur kyk jy vas in ’n kunswerk wat ’n vloekwoord uitspel (links) en ’n eienaardige pers hangstoel. Foto: Magazinefeatures.co.za

En die skietgoed agter glas in die eetkamer? Dis glo “antivuurwapenkuns”, het ’n woordvoerder van Dr. Phil laat hoor.

Vanaf die hoofslaapkamer se balkon is pragtige uitsigte op die tuin en stad. Daar is nog vier slaapkamers, altesaam ses badkamers, ’n psigedeliese sitkamer met ’n groot vuurherd, ’n ontspanningskamer met ’n enorme pers rusbank en ’n biljartkamer met blou vloere met wit spatsels.

So van rusbanke gepraat . . . Phil is nie geregistreer om as sielkundige te praktiseer nie, maar het wel ’n doktorsgraad in sielkunde van die Universiteit van Noord-Texas.

Foto: Magazinefeatures.co.za
In die ontspanningskamer is onder meer ’n haas met ’n weglê­snor en ’n pers rusbank. Foto: Magazinefeatures.co.za

Hy het sterstatus gekry toe hy gereeld as gas in Oprah Winfrey se kletsprogram verskyn het. Sedert 2004 word sy eie program, Dr. Phil, elke jaar vir ’n Daytime Emmy-prys benoem. En volgens die tydskrif Forbes was sy inkomste in 2019 sowat R1,36 miljard.

Foto: Magazinefeatures.co.za
Die atmosfeer is darem ietwat minder intens in die luimige biljartkamer met sy blou vloere en wynkelder. Foto: Magazinefeatures.co.za

Maar is Dr. Phil se huis van ontwerpersgruwels ’n aanduiding dat hy die een is wat sy kop moet laat lees?

Blykbaar is dit nie alles sy smaak nie. Die dekor weerspieël glo wat in sy rockerseun, Jordan (34), se kop aangaan.

Volgens ’n familiewoordvoerder het Phil en sy vrou, Robyn, nooit regtig in die huis gebly wat hy in 2007 gekoop het nie.

Jordan was glo die inwoner en het onlangs laat glip die ontwerpfirma Mogul het ná ’n “vlugtige deurmekaar gesprek” met hom behoorlik tekere gegaan terwyl hy op toer was.

“Die idee was dat dit lyk soos Tim Burton wat op ’n skilderdoek opgegooi het, en toe het dit in ’n huis verander,” sê Jordan.

Nou ja, daar is soms ’n dun skeidslyn tussen normaal en stapelgek, sou Dr. Phil dalk sê . . . 

BRONNE: REALTOR.COM, REFINERY29.COM, LATIMES.COM, FORBES.COM, INSIDEHOOK.COM, TWITTER