Die gras is egter nie noodwendig altyd groener aan die ander kant nie, want hierdie spelers en hul meisies of vrouens moet nou ’n lewe bou ver weg van hul tuisland en families.

Lees hier wat sommige paartjies te sê het oor die lewe in ’n vreemde land: 

Paul en Chanique Willemse

Paul en sy vrou
Paul en Chanique Willemse. Foto: Verskaf

Die 26-jarige Paul Willemse, wat die Leeus op o/19- en o/21-vlak, Suid-Afrika op o/20-vlak en die Blou Bulle in die Currie Cup en Superrugby verteenwoordig het, draf sedert 2014 vir die Franse klub Montpellier uit. 

“Ek en Chanique het letterlik getrou en die volgende dag moes ons al Frankryk toe vlieg,” vertel hy oor die foon. “Dit was ’n groot uitdaging om pasgetroud hier aan te kom, maar gelukkig het ons mekaar gehad.”

Paul vertel die eerste ses maande was vir hom en Chanique verskriklik moeilik omdat hulle geen Frans kon praat nie. Hy sê selfs alledaagse takies, soos om winkel toe te gaan, was ‘n uitdaging omdat hulle skaam gekry het dat hulle nie die taal verstaan nie. 

“Ek was so bang iemand vra my iets en dan weet ek nie wat hulle sê nie,” lag Paul.

“Ons het niemand behalwe ons agente gehad om ons aanvanklik te help nie. Gelukkig het ons gou vriende gemaak met ander Suid-Afrikaners wat ook hier bly.”

Om haarself besig te hou, het Chanique aan die begin van hul nuwe lewe in Frankryk klasse gedraf om die land se taal aan te leer.

“Sy het aan die begin lekker saam met die ander rugbyvrouens gekuier, maar met ons seuntjie se koms het hy al haar tyd en aandag gekry. Ons is baie bevoorreg om in ’n posisie te wees waar Chanique nie hoef te werk nie.”

Paul sê hulle het intussen heeltemal aangepas by die land. 

“Een ding van die Franse kultuur waarvan ek regtig hou, is dat dit vir hulle belangrik is om tyd saam met familie en vriende deur te bring.”

Paul en Chanique se eersteling, Paul jr., is in Montpellier gebore en Paul vertel hy sou dit nie anders wou hê nie.

“Die Franse mediese dienste is regtig ongelooflik. Met Paul se geboorte was ons regtig gelukkig om geen probleme te hê nie. Inteendeel, Chanique was so beïndruk met die proses dat sy gesê het sy wil aan al ons kinders hier die lewe skenk.”

Hoewel die paartjie hul vriende en familie in Suid-Afrika mis, het hulle geen planne om terug te kom nie. 

Die Willemse-gesin het onlangs hul Franse burgerskap gekry en Paul is op 9 Januarie vir die Franse vyftiental vir die Ses Nasies-toernooi gekies.  

Philip en Jané du Preez

Philip du preez
Philip en Jané du Preez Foto: Verskaf

Philip du Preez, wat sy Suid-Afrikaanse rugby vir die Cheetahs en die Southern Kings gespeel het, het besluit om in Junie 2016 die swart en rooi vir ’n lewe in Bourdeaux, in die Suid-Weste van Frankryk, te verruil. 

Philip en sy vrou, Jané, bly al meer as twee jaar lank in Mont de Marsan, waar hy nou die Franse rugbyklub Stade Montois verteenwoordig. 

Hoewel dit ’n opwindende skuif was, was dit ook vir hulle ’n groot uitdaging om gewoond te raak aan die vreemde omgewing, kultuur en taal. “Ons het met twee tasse hier aangekom en daarmee moes ons ’n lewe bou,” vertel Philip. 

Hy sê dit was vir hom en sy vrou belangrik om die kopskuif te maak dat hulle nie van iets in Suid-Afrika weghardloop nie.

“Behalwe vir die feit dat ek my rugbyloopbaan hier wou voortsit, het ons ook die besluit op geestelike redes baseer,” verduidelik hy. 

Philip het in 2013, dat hy met Jané getrou het, ’n boodskap van die Here ontvang waarin daar vir hom gesê is hy sal ‘teruggeneem word na sy tuisland’. “Die Here het werklik ’n passie vir die Franse in my laat opvlam,” vertel hy opgewonde oor die foon.

“My grootouers kom uit Frankryk en het tydens die Franse Revolusie Suid-Afrika toe gevlug. Die Here het dit regtig op my hart geplaas om ’n lewe hier te kom bou.”

Volgens Philip noem Jané haarself met trots ’n executive housewife. Sy werk hard daaraan om haar Franse taalvaardighede op te skerp en lei ’n Bybelstudiegroep vir Suid-Afrikaanse vrouens in Mont de Marsan.

Sy is ook ma van die paartjie se eersteling, Joshua, wat verlede jaar gebore is en hul dierekind, die Franse bulhond, Zoey.

Hy waarsku Suid-Afrikaners om nie te dink dis makliker om jou kind oorsee groot te maak nie.

“In Suid-Afrika is daar ’n ongesproke stel waardes waarmee kinders grootgemaak word. In Europa is die jeug glad nie so ingestel nie. As jongmense iets wil doen, doen hulle dit. Hulle maak net soos hulle wil.”

Dié paartjie geniet beslis die stresvrye lewe in Mont de Marsan. Die mense daar begin byvoorbeeld eers om 09:00 te werk, en tussen 12:00 en 14:00 sluit die meeste van die winkels vir middagete. 

“Hulle is glad nie gefokus daarop om hulleself te oorwerk of onder druk te sit nie. ”Die veiligheid van die dorpie is ook ‘n pluspunt en vir Philip is dit lekker om te weet vroulief en die res van hul gesin is veilig by die huis wanneer hy naweke weg speel. 

“Ons geniet dit vreeslik baie. Die natuur in Frankryk is verskriklik mooi. En die argitektuur is natuurlik ook vir ons ’n hoogtepunt.

“Wat mis ons die meeste? Om ’n lekker Americano-koffie en ’n pizza met bacon, feta en avo te bestel. En dan definitief die biltong,” sê Philip. “En natuurlik ons mense. Ons vriende en familie in Suid-Afrika.

Jacó van der Walt en Siobhan Grobbelaar 

Jaco en Sioban
Jacó van der Walt en Siobhan Grobbelaar Foto: Verskaf

Voordat Jacó van der Walt vir die Edingburgh-rugbyspan begin uitdraf het, was die Emirates Airline-park in Johannesburg tot November 2017 sy tuiste. 

Die oud-Goue Leeu het saam met sy meisie, Siobhan Grobbelaar, na Skotland verhuis en vertel telefonies hulle verlang veral na hul familie en vriende by die huis.

“Ons mis ook braaivleis en natuurlik die son,” voeg Siobhan by en sê dis nog vir haar ’n aanpassing is om gewoond te raak aan die lewe oorsee. Sy is nou besig om haar studie in regte deur UNISA te voltooi en reis dikwels na Londen waar sy haar eksamens aflê.

Die twee weet nog nie wanneer, en of, hulle sal terugkeer na Suid-Afrika nie. “Ons weet nie wat die toekoms vir my inhou nie,” sê Jacó.

“Vir nou hoop ek net om my beste rugby te speel en elke wedstryd te geniet.” 

Francois en Luzaan Venter 

Francios Venter
Francois en Luzaan Venter Foto: Verskaf

Die Springbok-binnesenter Francois Venter en sy vrou, Luzaan, het op 8 Julie 2018 hul lewe in Bloemfontein, waar Francois vir die Cheetahs gespeel het, agtergelaat om na Worcester in Engeland, waar Francois nou vir die Worcester Warriors speel, te trek. 

“Ons het direk ná ons wittebrood hier aangekom,” vertel Luzaan telefonies.

“Dit was vir ons ’n groot uitdaging om ons familie en vriende agter te laat en ’n hele nuwe lewe hier te begin. Nie een van ons het geweet hoe dit hier sou wees nie. Ons het die keuse geheel en al in geloof gemaak.”

Sy vertel hulle het mekaar daar in die verte op ‘n dieper vlak leer ken omdat hulle net mekaar gehad het.“Dit is regtig ’n baie groot voorreg om hier te wees, die geleentheid kom nie sommer oor ’n mens se pad nie,” sê sy.

Luzaan het haar studie in Suid-Afrika gestaak om agter haar man aan te trek, maar volg nou ‘n aanlyn kursus by die Open University van Engeland waar sy ondernemingsbestuur en bemarking studeer. 

Was dit ’n uitdaging om so kort ná die troue oorsee te trek?

“Jy weet mos daar is maar altyd ’n uitdaging as dit by vroue kom,” skerts Francois.

“Dis nog moeilik om te bepaal waar ons eendag ons kinders sal wil grootmaak, want ons weet nog nie waar ons vyf jaar van nou af sal wees nie.

As dit hier gebeur, sal ons die geleentheid met altwee hande aangryp, maar dit sal natuurlik lekker wees om ons families te betrek.” Luzaan sê sy verlang die meeste na die skoonheid van die Kaap.

“Ons het ’n mooi groen omgewing hier, maar ek mis die kultuur in Suid-Afrika. Ek mis hoe warm en liefdevol Suid-Afrikaners is.”

Francois mis weer die buitelewe en aktiwiteite soos jag en visvang.