Demi-Leigh Tebow

Demi-Leigh het  ’n TikTok-video van haarself op Instagram gedeel waar sy  ’n ou motiveringstoespraak van haar man, die bofbalspeler Tim Tebow, aan sy eertydse voetbal-spanmaats naboots. 

Die oorspronklike video is gemaak tydens ’n rustydpraatjie wat Tim gelewer aan sy Universiteit van Florida se voetbalspan – beter bekend as die Gators.

Met die nasionale voetbalkampioenskappe in 2008 was die Gators rustyd gelykop met die Universiteit van Oklahoma se Sooners-span. 

Tim se toespraak is wyd geloof as die motiveringsinspuiting wat die span nodig gehad het om eindelik die oorwinning te beklink. 

In Demi se video spog sy met Tim se Florida-voetbaluitrusting.  

“By die huis vasgekeer, besig om bokse uit te pak, maak maar die beste daarvan! #GoGators,” skryf die Suid-Afrikaanse boorling by die video. 

Demi-Leigh en Tim het ná hul troue in Februarie vanjaar in hul nuwe huis in ’n eksklusiewe buurt in Jacksonville, Florida ingetrek. 

Tim het ook die video op sy Instagram-profiel gedeel en vir sy volgelinge gevra wie het die toespraak beter gedoen: Hy of Demi? 

Karlien van Jaarsveld

Die sangeres Karlien van Jaarsveld het Donderdag ’n video in die sosiale media geplaas waar sy ’n stuk van ’n nuwe liedjie met haar volgelinge deel.

"Laaste keer hier onder in die kelder het ek stiltes geskryf. Vandag nog ’n song geskryf. Ek skryf min. Vandag was daar tyd. Hiers ’n deeltjie..." skryf sy by ’n swart-en-wit video van haar wat die nuwe liedjie sing. 

Karlien se vierde kind maak binnekort sy opwagting. Sy het voorheen verklap dat die nuwe baba Johannes Samuel gaan heet. 

Angelique Gerber

Die aktrise en televisieaanbieder  het op Instagram ’n video gedeel waar sy – omring deur haar eie kinders en ander – dans op die maat van die musiekgroep Surfaces se liedjie “Sunday Best”.

View this post on Instagram

Dis nou maar hoe ek die tyd om kry! ??

A post shared by Angelique Potgieter (@angeliquegerber83) on

"Dis nou maar hoe ek die tyd om kry!" skryf Angelique by die video. 

Arnold Schwarzenneger

Die Terminator-akteur het op Twitter ’n video gedeel om mense aan te moedig om dank te betoon aan dokters, verpleegsters, winkelpersoneel en afleweringsdienste in Amerika wat tans onbaatsugtig voortgaan met werk terwyl ander in isolasie is. 

"Ek vertolk ’n aksieheld in flieks- hierdie mense is die ware aksiehelde," skryf Arnie by die video. 

Gal Gadot

Die Israeliese aktrise het saam met ’n verskeidenheid ander akteurs saamgespan en ’n inspirerende weergawe van John Lennon se liedjie "Imagine" in die sosiale media gedeel. 

Die akteurs Natalie Portman, Will Ferrell, Jamie Dornan en die sanger Labyrinth is van die bekendes wat in die video gesien kan word. 

Kevin Bacon

Fliekvlooie het jare gelede begin bespiegel dat die akteur Kevin Bacon in soveel flieks al te sien was dat elke ander akteur of aktrise in Hollywood aan hom gekoppel kan word deur slegs ses ander verbindings. Die idee is gebaseer op die idee dat enige persoon iemand anders binne ses stappe sou kon bereik. 

Kevin het hierdie speletjie nou verder gevat en sy aanhangers aangemoedig om te vertel vir watter geliefdes hulle tuis bly, en dan ses ander mense te benoem om die veldtog voort te sit. 

In die video noem Kevin dat hy vir sy vrou, die aktrise Kyra Sedgwick, tuis bly. 

Ekstra bronne: ESPN, CNN, The Hill