Dis ’n belewenis sonder vergelyk, sê Rudo van Heerden, ’n vervaardiger en reklamebeampte van kykNET.

Arno en Armand baljaar in die see. Foto: Verskaf

Rudo deel die seiljag met onder andere die akteur Arno Greeff, die voormalige mnr. Suid-Afrika Armand du Plessis en Leo Smit, kykNET se handelsmerkbestuurder.

“Toe Gerrie besluit om vir sy jongste reeks in Kroasië te verfilm, het ons groep pelle besluit om almal vir my verjaardag saam te gaan en van die een eiland na die volgende te vaar,” vertel hy.

Die groep vriende geniet hulself gate uit. Foto: Verskaf

“Gerrie wys vir ons al die pragtige plekke wat 'n mens nie sommer sal sien of van sal weet as jy net ’n gewone toeris is nie.”

Die groep is 12 dae lank op die oop water en keer eers weer Maandag terug na Suid-Afrika.

Rudo, Armand en Gerrie. Foto: Verskaf

Rudo sê hulle is deur die magiese landskappe, kultuur en kos betower. “Ons het van Split na Makarska gevaar, van daar na Corcula, toe na Dubrovnik en daarvandaan na Mljet.

“Gister was ons in Hvar, wat bekend is as die partytjie-eiland, en vandag is ons op pad na Stari Grad.”

Arno neem ’n video op een van die eilande. Foto: Verskaf

Die groep beoog om binnekort vir twee dae na Istanbul te vertrek.

Van die lekkerste kosse wat hulle nóg geëet het, is tradisionele geregte soos peka, die Kroasiërs se weergawe van potjiekos, en swart risotto.

“Ons gaan ook vandag ’n draai maak by die oudste wynplaas in Kroasië,” vertel hy.

Peka, die Kroasiërs se weergawe van potjiekos. Foto: Verskaf

Gerrie beoog om ná sy vriende se vertrek Maandag na Duitsland te vaar waar hy vir 10 dae sal verfilm. Hy gaan ook die jaarlikse Passiespele in Oberammergau verfilm wanneer die hele gemeenskap daarvoor opruk en wil dit met ’n romantiese roete in die suide van Beiere kombineer.

Van al die plekke is die mooiste sweerlik Dubrovnik, sê Rudo. Dié stad is in die suidooste van Kroasië en is ook die tuiste van die Amerikaanse Game of Thrones-reeks.

“Dit is ’n indrukwekkende stad met ’n ryk kultuur en geskiedenis. Bedags glinster die helder water met luukse skepe en seiljagte en saans sak daar ’n romantiese atmosfeer oor die stad en sy pragtige marmerstrate.

“Mense sit by luukse restaurante en oral speel musiek. ’n Simfonieorkes speel voor die grootste kerk, om ’n ander hoek maak straatmusikante tradisionele Kroatiese musiek, in ’n restaurant sing ’n paartjie wat jou laat verlang na die dae van Rina en Gé. Dubrovnik is ’n leefstyl,” vertel hy.

Arno maak gereed om te duik. Foto: Verskaf

As die planne vlot verloop, keer die groep vriende volgende jaar vir ’n soortgelyke reis terug, maar dan na ’n ander bestemming.

“Die vriendskapsband tussen ons klomp het hegter geword. Ons het ’n verskeidenheid persoonlikhede en dis so lekker om iets van almal te leer wat jy nie geweet het nie, selfs al ken jy mekaar.”