Vriendskap is een van die kosbaarste geskenke – dit verryk jou lewe nie net een keer per jaar met Kersfees nie, maar elke dag.

Wat is beter as ’n pel wat jou opbeur wanneer jy neerslagtig voel; iemand wat jou mislukkings vergewe en jou suksesse vier?

Baie van ons ontmoet lewenslange vriende by die werk, want dis waar ons die meeste van ons tyd deurbring. En so werk dit ook in Hollywood, waar die rykes en beroemdes geesgenote kry in ’n wêreld wat ongenaakbaar kan wees.

In dié goedvoeltyd van die jaar kyk ons na van die boesemvriendinne onder die A-lysers wie se vriendskappe die toets van die tyd deurstaan het.

Eva Longoria en Victoria Beckham
Eva Longoria en Victoria Beckham. Foto: Gallo Imag
Pénelope Cruz en Salma Hayek. Foto: Paul Drinkwater/NBC/NBCU Photo Bank via Getty Images

Die aktrise en modeontwerper is al amper ’n dekade lank boesemvriendinne. Afgesien van hul gedeelde liefde vir mode het hulle blykbaar dieselfde humorsin en is hulle mekaar se vertroueling.

“Ons het saam baie lewenslesse gedeel,” het Eva (43) aan Daily Mail gesê.

Hulle is ook vurige ondersteuners van mekaar se werk.

‘Victoria is die mooiste vrou, binne en buite’ – Eva Longoria

Eva, wat onlangs geskerts het sy sou nie omgee om op die komende Spice Girls-toer as “Latina Spice” vir haar vriendin in te staan nie, dra gereeld van Victoria (44) se ontwerpe en het een van Posh se skeppings op haar troue in 2016 aangehad.

Eva se trourok is deur Victoria ontwerp.

Victoria het ook haar vriendin ondersteun toe sy vroeër vanjaar haar ster op die Hollywood Walk of Fame ontvang het.

“Ek is so trots op jou,” het sy gesê.

Sy het Eva, wat vanjaar aan ’n seun, Santiago, die lewe geskenk het, as haar dogter, Harper, se peetma gekies.

Eva met haar seun, Santiago. Foto: Instagram (evalongoria)

Maar dalk die grootste kompliment was om een van haar ontwerperskoene na haar beste vriendin te noem – die Eva Pump.

Victoria Beckham het hierdie ontwerperskoen na haar beste vriendin, Eva Longoria, vernoem ?– die Eva Pump. Foto: Instagram (victoriabeckham)
Penélope Cruz en Salma Hayek

Dié twee smeulende aktrises is al amper 20 jaar lank vriendinne en Salma (52) het vroeër vanjaar op Instagram haar boesemvriendin ’n pluimpie gegee. “Goeie vriende is vir altyd. Hulle is die beste genesing vir die siel.”

‘Ek het Salma se hare geknip toe die krag in haar huis af was, met net ’n kers. Sy vertrou my regtig’ – Penélope Cruz

Die twee het saam in die aksieavontuur­fliek Bandidas van 2006 verskyn.

En toe Salma in 2009 in Italië met die kleinhandelmagnaat Francois-Henri Pinault trou, was Penélope (44) aan haar sy.

“Penélope was nog altyd my heldin en vriendin,” sê Salma.

“Ons vriendskap sonder strooi bring ons elke dag nader aan mekaar,” voeg Penélope by.

“As een die ander ’n vraag vra, weet ons ons sal die waarheid hoor.”

Hulle het selfs ’n bynaam vir mekaar.

“Ons noem mekaar huevos (eiers),” het Penélope in ’n onderhoud met die tyd­skrif Allure verklap.

“Toe ons saamgewerk het, het ons nog nie kinders gehad het nie; daarom het ons altyd baie meer as nou geslaap. Dit was ’n manier om mekaar lui te noem.”

Iets gaan dalk in die vertaling verlore, maar ons kry die idee.

Drew Barrymore en Cameron Diaz
Drew Barrymore en Cameron Diaz. Foto: Gallo Images
Drew Barrymore en Cameron Diaz. Foto: Gallo Images/Getty Images

Of hulle nou saam kookklasse neem of mekaar se projekte ondersteun, dié twee is beslis besties. Hulle het ’n vriendskap gesmee toe hulle medesterre in die 2000-fliek Charlie’s Angels was.

“As jy in ’n gevangenis in die middel van nêrens is, moet jy Cameron bel – sy sal jou uitkry,” het Drew (43) in 2016 in ’n onderhoud gesê.

“As jy op soek is na die beste persoon om saam mee TV op die rusbank te kyk, bel haar. As iemand in ’n noodgeval is, bel haar. Sy is die lojaalste, vurigste en prettigste vriendin.”

‘Ons is meer as boesem­vriendinne – sy’s my suster’ – Drew Barrymore

Vir Cameron (46) is hul lang­durende vriendskap in hul bedryf “ ’n prestasie. Dis ’n ware vriend­skap – ons het baie saam in die lewe deurgemaak,” het sy gesê.

Cameron was aan haar beste vriendin se sy toe sy in 2012 met Will Kopelman trou en Drew was in 2015 strooimeisie op Cameron se troue met Benji Madden.

Soos dit ware boesemvriendinne betaam, staan hulle mekaar ook in moeilike tye by. Drew sê ná haar egskeiding in 2016 het haar vriendin haar opgebeur.

“Sy het my pragtig verby laat voel. Het nog altyd. Sal altyd.”

Jennifer Aniston en Courteney Cox
Jennifer Aniston en Courteny Cox. Foto: Gallo Imag
Jennifer Aniston en Courteny Cox. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié aktrises het geheg aan mekaar geraak toe hulle Rachel en Monica in die treffersitkom Friends gespeel het.

En hul vriendskap het net van krag tot krag gegaan ná die program se einde in 2004.

Met die jare het Jennifer (49) en Courteney (54) saam vakansie gehou, as mekaar se strooimeisie op­getree en mekaar se loopbaan ondersteun. Jen het selfs ’n gasrol in twee van Courteney se televisieprogramme, Dirt en Cougar Town, vertolk.

Hulle is mekaar se steunpilaar wanneer hul verhoudings misluk.

“Ek het baie in haar gastekamer geslaap,” sê Jen, wat deur opspraakwekkende egskeidings van Brad Pitt en Justin Theroux is.

“Sy het my deur dik en dun bygestaan.”

‘Court is glad nie veroordelend nie. Sy is uiters regverdig, ­belaglik lojaal en vurig ­liefdevol’ – Jennifer Aniston

Jen is die peetma van Courteney se dogter, Coco (14), uit haar huwelik met die akteur David Arquette.

“Ons het pret, lag en is onafskeidbaar,” sê Courteney.

Gayle King en Oprah Winfrey
Gayle King en Oprah Winfrey. Foto: Gallo Images/Ge
Gayle King en Oprah Winfrey. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die mediamagnaat en haar boesem­vriendin het ’n sterk band wat oor meer as 40 jaar strek Dié twee het mekaar in hul 20’s ontmoet toe albei by ’n televisiestasie gewerk het.

“Vir die eerste keer het ek iemand ontmoet wat ek gevoel het nes ek was,” sê Gayle.

‘Ek voel nooit ek is in haar skadu nie. Ek voel ek is in haar lig’ – Gayle King

Terwyl Gayle (63) later ’n Emmybekroonde nuusaanbieder geword het en Oprah (64) haar miljarddollarmediaryk begin het, het hulle aan mekaar geheg gebly. Toe sy eenkeer gevra is of sy ooit minderwaardig teenoor haar beroemde vriendin voel, het Gayle geantwoord: “Nee, ek voel nooit of ek wed­ywer nie.”

Met die jare is al bespiegel dat hulle in ’n liefdesverhouding is.

“Ek verstaan hoekom mense dink ons is gay,” het Oprah eenkeer gesê.

“ ’n Definisie in ons kultuur vir dié soort band tussen vroue bestaan nie. Hoe anders verklaar jy ’n vlak van intimiteit waar iemand jou altyd respekteer, liefhet, bewonder en ondersteun? Dis iets ongelooflik seldsaams.”

BRONNE: hellomagazine.com, eonline.com, popsugar.com, wearemitu.com, vulture.com, dailymail.co.uk, elle.com, cheatsheet.com, net-a-porter.com, thelist.com; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP, GALLO IMAGES/ALAMY, INSTAGRAM/@DREWBARRYMORE, INSTAGRAM/@VICTORIABECHAM