Boonop kan dié soort pret jou ook slimmer maak. Ons het bekendes oor hul herinnerings aan kaart- en bordspeletjies uitgevra.

Sherlin Barends

Die KFM-omroeper Sherlin Barends. Foto: Verskaf.

Die KFM-omroeper Sherlin Barends kan haar nie ’n Desembervakansie sonder ’n bord- of kaartspeletjie indink nie.

“Deur die jaar is dinge so bedrywig, maar gelukkig het ons vakansietye en dis nie volmaak sonder 30 Seconds of Domino’s nie. En ons familie is baie mededingend,” erken die aanbieder van VIA se Wat Maak Jy? “Ons wil almal altyd wen.”

Wanneer hulle vanjaar in die omgewing van George en Knysna gaan uitspan, sal hulle beslis 30 Seconds nader trek en lekker teen mekaar meeding.

“Dit kom altyd op samesyn neer. Ons is almal deur die jaar besig, maar vir twee weke kom ons net saam: Ons swem, braai, maak potjiekos, speel bordspeletjies en vind uit hoe dit met mekaar gaan.”

Jak de Priester

“Ek, my boetie en my sussie het met Monopoly grootgeword,” vertel die sanger Jak de Priester. “Die speelgeld, huisies, hotelle en speel-speel-entrepreneur-wees het ons tot in ’n wonderwêreld verplaas.”

Nog vakansiegunstelinge was slangetjies-en-leertjies en kaartspeletjies. Hulle het die speletjies ingepak vir hul jaarlikse wintervakansie by ’n oord op Bella-Bella in Limpopo. En elke September is die speletjies saam wanneer die gesin na Umdloti in KwaZulu-Natal weggebreek het.

“Ons was gewoonlik Desembervakansies by die huis op Parys in die Vrystaat en het dan veral bakatel gespeel.”

Ook sy kinders, Jamie (8), Mija (7) en Mika (3), geniet dit nou om speletjies te speel. “Ons is mal oor die kaartspel Uno.”

Jak gaan aan die begin van Desember die land plattoer met sy vertoning Geel Jou Hart vir Liefde. Daarna ry die gesin na Port Alfred in die Oos-Kaap vir hul somervakansie. En natuurlik gaan die Uno saam.

Lea Vivier

Lea Vivier. Foto: Martin de Kock

Vir Lea Vivier, Binnelanders se Lika, is bordspeletjies en vakansie sinoniem.

“Toe ons klein was, het ons altyd in Jongensfontein of op Stilbaai vakansie gehou. Ons het vrek baie speletjies gespeel, van Cluedo en Monopoly tot gewone kaartspeletjies. Ons gesin se gunsteling was nog altyd om legkaart te bou. In vakansietye sal my ma tot drie legkaarte inpak en ons almal sal saam daaraan bou.”

Hulle gaan vanjaar op die kusdorp Tergniet en op Elgin in die Wes-Kaap vakansie hou. Hulle speel ook graag die speletjie Charades, vertel Lea.

“En ja, ons is mededingend, maar ons het ook tussen die wedywering deur baie pret. Ek geniet dit omdat dit ’n nuwigheid is, want deur die jaar het jy nie gereeld saans tyd vir speel nie.”


Kyk dié nuwe kaartspeletjie!

Ken jy VIA se program Blitsbrein op DStv se kanaal 147? Nou kan jy saamspeel met die speletjie se stel vasvrakaarte wat pret vir die hele gesin bied terwyl dit julle boonop slimmer maak.

Dié Blitsbreinkaartspel waarmee jy en jou mense jul algemene kennis op enige plek kan toets, is nou teen R280 in samewerking met VIA en Huisgenoot in groot supermarkte te koop.

Jy kan die boksie inpak en dié spel speel waar jy ook al gaan kuier.

Die Blitsbreinkaartspel. Foto: Misha Jordaan.
blitsbrein
Die Blitsbreinkaartspel. Foto: Misha Jordaan.

Die vyf kategorieë – geskiedenis; natuurwetenskap; lande en plekke; kuns en vermaak; en sport en ontspanning – sluit genoeg kopkrappers in om almal kreatief, uit die kwaad en aan die dink te hou.

Dis pret vir die hele gesin.