Frank, wat bekend is vir sy rol as Ouboet in Orkney Snork Nie en meer onlangs in Ouboet en Wors op kykNET, het aanhangers oorrompel met sy danspassies op M-Net se dansreeks Dancing with the Stars South Africa.

Die beoordelaars het altyd gemengde gevoelens gehad oor sy dansvernuf, maar was mal oor die karakters wat hy vertolk het tydens sy beurt in die kollig.

Hy is Sondag 8 April “eindelik” uitgestem. Hy het vertel hy is “verlig”; hy dink die “regte dansers” kan nou aangaan met die kompetisie.

Tydens die reeks het Frank ophou rook en met al die oefen 7 kg afgeskud – waaroor hy baie trots is.

Hier is hy in Februarie toe hy met die reeks begin het: 

Frank, soos hy nou lyk, saam met sy getroue dansmaat, Jeanné

Swart, wat hom deur die weke bly aanmoedig het:

Frank is nie al bekende wat met hul gewigsverlies beïndruk het nie.

CHRISSY METZ

Die Amerikaanse aktrise (37) speel Kate Pearson in die bekroonde TV-reeks This Is Us. In die program worstel sy ook met haar gewig. Hier is voor-ná-foto's van toe sy begin het om minstens 20 minute ’n dag te oefen in die gimnasium en gesonder te eet. In minder as vyf maande het sy 45 kg verloor, het sy aan Life & Style vertel.

Chrissy Metz voor en na haar gewigsverlies. Foto's: Gallo Images/Getty Images

LENA DUNHAM

Die 31-jarige aktrise van die aweregse komediedramareeks Girls het met die hulp van die fiksheidsghoeroe Tracy Anderson binne ’n paar maande 14 kg afgeskud.

Lena Dunham voor en nadat sy straf begin oefen het. Foto: Gallo Images/Getty Images

JONAH HILL

Die akteur is bekend vir lawwe flieks soos Knocked Up en Superbad, maar ook ernstiger rolle in rolprente soos War Dogs en The Wolf of Wall Street. In die beginjare het sy oorgewigheid gesorg vir randeier-rolle. Hy het meer Japannese kos in sy dieet ingesluit en bier heeltemal uitgesny en intussen 45 kg afgeskud.

Jonah Hill het oor die 40 kg verloor. Foto: Gallo Images/Getty Images

ADELE

Daar was ’n tyd dat die Britse sangsensasie agter treffers soos Hello en Someone Like You nie eens voor mense wou optree het nie – en dit oor haar gewig. Maar sy het besluit genoeg is genoeg. Sy het begin met die sogenaamde sirt-dieet wat hoofsaaklik groentee, donkersjokolade, appels, sitrus, borrie, rooiwyn, pietersielie, kool, bloubessies en kappertjies insluit. Daarmee het Adele sowat 3 kg elke sewe dae afgeskud.

Die sangeres, Adelle, se transformasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hopelik sal hierdie glansmense se transformasie ook ’n inspirasie vir ander wees.

Bronne: thelist.com, netwerk24.com, etonline.com  lifeandstylemag.com, independent.ie, independent.ie, netwerk24.com