prins william,kate en kinders
Die hertog en hertogin het (van links) Louis, Charlotte en ­George onlangs na die Pantoland at the Palladium-opvoering in Londen geneem. Foto: Twitter/kensingtonroyal

Prinses Diana sou so trots gewees het. Haar oudste seun is ’n toonbeeld van alles wat sy was – opreg, hartlik, hardwerkend en toegewy aan kwessies wat mense ophef.

Boonop is hy getroud met ’n vrou wat net soveel vir die koninklike familie se gewildheid beteken as wat sy self het.

Saam laat die hertog en hertogin van Cambridge ’n tikkie van hul spesiale soort betowering agter oral waar hulle gaan. En dít was nog nooit duideliker as in hierdie jaar van ontwrigting, vrees en onsekerheid nie.

Terwyl die coronaviruskrisis wêreldwyd verwoesting saai, het prins William en Catherine projekte aangepak om troos, hoop en ondersteuning aan hul landgenote te bied.

Aanhangers kon nie anders as om te glimlag toe die egpaar in die aanloop tot Kersfees hul drie oulike spruite na ’n sprokieskonsert neem nie.

Dié uitstappie na die Pantoland at the Palladium-opvoering in Londen was die Cambridges se eerste rooitapytgeleentheid as gesin, en die koninklike kleingoed se debuut het omtrént die harte laat smelt.

Prins George (7) was stroopsoet, prinses Charlotte (5) uitbundig en die kleine prins Louis (2) te pragtig in ’n oorjas wat eens sy ouboet s’n was.

Die opvoering is deur die Britse lotery aangebied as ’n gebaar van dankbaarheid teenoor noodsaaklike werkers se bydrae tydens die pandemie.

“Die Cambridges wil graag hul waardering en ondersteuning uitspreek teenoor al dié mense en die fenomenale werk wat hulle verrig,” het ’n bron verduidelik.

kate middleton en prinses Charlotte
Kate en Wills praat met Jasmine Warner, wie se broer, Otto, wat kanker het, uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hul bywoning van Pantoland at the Palladium was ook ter ondersteuning van die Palladiumteater, wat maande lank nie ’n inkomste kon verdien nie. Die lotery ondersteun tans 10 teaters in Brittanje deur die kaartjiekoste te dek van die sitplekke wat volgens inperkingsmaatreëls moet leegbly om afstand tussen teatergangers te skep. Om William, Catherine en die kinders te nooi was ’n slim skuif.

“Dit het die publiek gewys dat ’n mens steeds kan uitgaan, mits jy dit veilig doen,” sê ’n woordvoerder. Volgens die koninklike kenner Katie Nicholl het die Cambridges vanjaar “bakens van hoop en vertroue geword”. 

Hulle is die “rocksterre” van die koninklike familie,” sê sy. En dít is hoe hulle Kersfees vier.

prins william,kate en kinders
Hulle het saam met die koningin en ander senior koninklikes ’n geleentheid op die trappe van die Windsorkasteel bygewoon waar sosiale afstand gehandhaaf is. Foto: Gallo Images/Getty Images

TJOE-TJOE

Hulle het onlangs afgesit op ’n warrelwindtoer aan boord van die koninklike trein om persoonlik die werkers in die voorste linie van die Verenigde Koninkryk se covid-19-stryd te bedank.

Die Cambridges het die koningin se goedkeuring gekry om met die koninklike trein deur die land te reis. Dit was hul eerste rit ooit op dié trein met sy nege waens met enkelbeddens, ’n privaat badkamer en sy eie eetkamer. Volgens koninklike bronne moet die koningin eers haar toestemming gee vir enigiemand anders wat op die trein wil reis.

“Sy is die vernaamste passasier en gebruik dit om oornag te reis na verpligtinge in die noorde van Engeland, Skotland en Wallis.” Op 94-jarige ouderdom reis die koningin selde nog lang afstande, maar sy is heel gewillig om die trein aan senior lede van die koninklike familie uit te leen om belang- rike verpligtinge na te kom.

Sy het ook vir Meghan, die hertogin van Sussex, minder as ’n maand ná haar troue met prins Harry op ’n oornagreis saamgenooi om haar in die koninklike familie te verwelkom. Die Cambridges het tydens hul 48 uur lange reis talle plekke in Engeland, Wallis en Skotland aangedoen.

“Hulle wou die nasie se gemoed lig,” sê ’n bron. Maar nie almal was ten gunste van dié toer nie. Party Walliese en Skotse ministers het hul kommer gelug oor die tydsberekening van die reis en het gemeen dis onverantwoordelik om ’n toer aan te pak terwyl Engeland ’n toename in covid-19-gevalle ervaar.

Die Britse premier, Boris Johnson, het nie saamgestem nie.

“Dis ’n welkome hupstoot vir die nasie,” het hy gesê. “Dit was ongelooflik waardevol.” ’n Dag ná hul terugkeer het die Cambridges ’n Kersuitvoering saam met ander senior lede van die koninklike familie by die Windsorkasteel bygewoon.

Sosiale afstand is gehandhaaf toe hulle – met ’n agtergrond van flonkerende Kersbome – by die koningin, prins Charles en Camilla en prins Edward en sy vrou, Sophie, die hertogin van Wessex, op die kasteel se trap aangesluit het om ’n optrede deur die Heilsleër se orkes te geniet.

KERSFEES BY DIE MIDDLETONS

kate middleton en prinses Charlotte
Kate, Charlotte en Kate se ouers, Carole en Mike Middleton, verlaat die St. Mark’s-kerk in Bucklebury op Kersdag 2016. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kersfees sal nie vanjaar oudergewoonte op die koningin se Sandringhamlandgoed in Skotland gevier word nie omdat koningin Elizabeth en prins Philip (99) om veiligheidsredes by die Windsorkasteel gaan bly.

William en Catherine het erken dat hul kinders hul oumagrootjie – oftewel Gan-Gan, soos George haar as baba gedoop het – mis.

Die twee het tydens hul treinreis gesê hul Kersfeesplanne is nog onseker. “Dis moeilik om te bepaal wat die beste ding is om te doen,” het William gesê.

Daar word aangeneem die gesin sal in Anmer Hall, hul plattelandse woning in Norfolk, aanbly of by Cathe- rine se ouers in Bucklebury, Berkshire, aansluit. Die Cambridges het in 2016 laas Kersfees saam met Mike en Carole Middleton gevier, en ’n besoek “sal inderdaad spesiaal wees”, het ’n familiebron gesê.

Carole (65) is versot op Kersfees. Sy het in ’n onlangse plasing op haar onderneming, Party Pieces, se Instagramblad ’n oulike Oukersaandgeskenkstelletjie vir kinders gedeel. “Oukersaand was nog altyd vir my gesin ’n spesiale geleentheid,” lui die onderskrif.

“Kinders raak opgewonde oor die idee dat Kersvader kom besoek aflê en wil iets vir hom gee. Hy sal ons Oukersaandstelle waardeer. As jy ’n virtuele Kersfees beplan, sal niggies en nefies in onderskeie huishoudings dit geniet om sáám tydens ’n video-oproep te besluit wat hulle vir Kersvader wil gee.” 

Sy het in nog ’n plasing gedeel hoekom die feestyd vir haar soveel betekenis het. “Ná ’n jaar soos 2020 moet ons dié Kersfees onthou wat regtig belangrik is. Ek wil hê my gesin moet geborge voel. My kleinkinders help my gewoonlik om die Kersboom te versier. Vanjaar sal ek hulle via ’n video-oproep vra watter versiering ek waar moet hang.”

Sy het nog ’n gunstelingtradisie: Sy sit ’n ekstra boom in haar kleinkinders se kamer “sodat hulle dit self kan versier”, het sy in 2018 aan die koerant The Telegraph gesê.

Ongeag waar die Cambridges hulle hul op Kersdag bevind, hulle sal vir seker om drieuur die middag na die koningin se Kerstoespraak luister. “Dis ’n hoogtepunt vir almal,” vertel ’n bron na aan die familie. “Daar word selfs van die ouer kinders verwag om minstens te probeer luister.”

GESKENKTYD!

prins william,kate en kinders
Foto: Gallo Images/Getty Images

Nes ander kinders is die Cambridge-kroos versot op Kersfees. Hulle versier elke jaar ’n Kersboom en skryf ook briefies vir Kersvader. Volgens tradisie word daar tydens ’n Sandringham-Kersfees op Oukersaand geskenke oopgemaak.

“Die koninklikes is van Duitsland afkomstig en Duitse tradisies is steeds by hul vieringe ingeweef,” sê die voormalige koninklike sjef Darren McGrady.

Die koninklike spruite ontvang nie net geskenke van Kersvader nie; geskenke stroom van aanhangers reg oor die wêreld in. Maar die prinse en prinses mag dié nie hou nie.

“Om soveel geskenke te ontvang sou nie ’n goeie invloed op die kinders hê nie,” sê ’n paleisbron en voeg by dit sal die hertog en hertogin se “grootste nagmerrie” wees. Catherine en William doen hul bes om George, Charlotte en Louis normale kinderjare te gee. Maar wat word van al dié geskenke?

Volgens die Kensingtonpaleis word dit aan liefdadigheidsorganisasies geskenk. George is glo mal oor helikopters en vliegtuie, maar hy stel ook deesdae belang in mariene biologie.

“Hy kan nie wag om oud genoeg te word om te gaan duik nie,” sê ’n bron. Toe William in 2017 Finland besoek het, moes hy namens George (toe 4) ’n handgeskrewe briefie vir Kersvader saamneem. Daarin het die seuntjie ’n polisiekar in sy Kerskous gevra.”

Charlotte hou van gimnastiek en het onlangs kinderjoga begin doen. Dalk sal ’n jogamatjie onder haar geskenkies tel.Catherine is versot op die feestyd, maar sy glo ook aan vrygewigheid. Hier is ’n paar hoogtepunte van haar welwillendheid deur die jare. 

KONINGIN VAN KERSFEES

2019: Die hertogin het op ’n plaas buite Londen Kersbome uitgesoek vir kinders wie se familie aan Family Action verbonde is. Dié organisasie verleen steun aan gesinne wat finansieel swaarkry.

Die cambridges
Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy het die rol as beskermvrou van Family Action by die koningin oorgeneem omdat dit goed inskakel by haar ander liefdadigheidswerk wat op kinderontwikkeling fokus. “Sy is wonderlik,” sê David Holmes, hoof van Family Action.

2018: Die koninklikes het tydens ’n geleentheid by die Kensingtonpaleis in samewerking met die Royal British Legion-liefdadigheidsorganisasie aan feesaktiwiteite deelgeneem.

Catherine het ook ’n toespraak gelewer waarin sy empatie betuig het met diegene wat Kersfees moet deurbring sonder hul gesinslede wat aan die weermag verbonde is. 

Kate Middleton
Foto: Gallo Images/Getty Images

2016: Catherine, William en prins Harry het die jeugsteundiens The Mix se Kerspartytjie in Londen bygewoon as deel van hul eie liefdadigheidsorganisasie, Heads Together.

The Mix bied steun aanlyn vir jong mense wat met geestesgesondheid, armoede, werkloosheid of verslawing worstel.

Kate Middleton
Foto: Gallo Images/Getty Images

Cambridge-kerskaartjies

William en Catherine se aanhangers sien elke jaar uit na die uitreiking van die koninklike Kerskaartjie, en vanjaar was die opwinding net so groot.

2020: Vanjaar poseer die Cambridge-egpaar en hul kinders voor ’n hoop kaggelhout. Die kaartjie wens “al die ongelooflike personeel van die Britse openbare gesondheidstelsel” ’n gelukkige Kersfees en Nuwejaar toe.

cambridges se krismiskaart
Foto: Instagram/@kensingtonroyal

2019: William is glo gek oor motorfietse, en vir hierdie jaar se Kerskaartjie verskyn die gesin in somerdrag om ’n klassieke motorfiets. Klein Louis sit voor William op die sitplek, terwyl George en Charlotte in die syspan staan.

Foto: Instagram/@kensingtonroyal

2018: Die eerste jaar dat hulle as ’n gesin van vyf afgeneem is. Die Cambridges lyk ontspanne iewers teen ’n boomstomp by hul plattelandse woning, Anmer Hall.

cambridges se krismiskaart
Foto: Instagram/@kensingtonroyal

2017: Dié jaar se kaartjie was ’n formele gesinsfoto, met Catherine, George en Charlotte in ligblou uitrustings.

cambridges
Foto: Chris Jelf/AFP/Gallo Images

2016: Die gesin tydens ’n toer deur Kanada. William en George lyk ewe gefassineer deur die toertjies van ’n ballonkunstenaar.

cambridges krismiskaart
2016 Die gesin tydens ’n toer deur Kanada. William en George lyk ewe gefassineer deur die toertjies van ’n ballonkunstenaar. Foto: Gallo Images/Getty Images

2015: Hierdie pragtige foto is in die tuin van die Kensingtonpaleis geneem. George lyk baie ingenome met sy nuwe babasussie.

Die cambridges
2015 Hierdie pragtige foto is in die tuin van die Kensingtonpaleis geneem. George lyk baie ingenome met sy nuwe babasussie. Foto: Chris Jelf/AFP/Gallo Images

Bronne: standard.co.uk, express.co.uk, mirror.co.uk, dailymail.co.uk, hellomagazine.com, marieclaire.com, cheatsheet.com, townandcountrymag.com, marieclaire.co.uk