Die voormalige 7de Laan-aktrise het Vrydag ’n foto van haar as baba langs ’n foto van haar seuntjie, Alexander, in die sosiale media gedeel. Op die foto lyk Zetske en haar man, die akteur en sanger Altus Theart, se seuntjie uitgeknip soos sy ma.

“Ja-ja, ek weet Alexander lyk soos @altustheart, maar daar is darem van MY ook in hom,” het Zetske by die foto's geskryf. 

Klein Alexander word op 30 September twee jaar oud. Volgens Zetske sê almal reeds van hul kleinding se geboorte af dat die kleinman soos sy pa lyk, maar as 'n mens na haar babafoto’s kyk, is dit duidelik hy trek ook na haar. 

"Ons het dit al mooi ontleed en besluit dat die boonste helfte van sy gesig (oogvorm en voorkop) meer soos ek lyk en die onderkant meer soos Altus,” vertel Zetske aan Huisgenoot. 

Alexander #22months #toddler

A post shared by Zetske van Pletzen (@zetskevpletzen) on

Alexander, wat gereeld op sy ma se Instagram-blad te sien is, is volgens Zetske op daardie ouderdom waar hy soos 'n spons is en alles rondom hom absorbeer. “As ek of Altus nie vinnig genoeg reageer op 'mamma' en 'pappa' nie, noem hy ons op ons name. Dit is vrek oulik!” koer die trotse ma. 

Sy sê een van sy eerste woorde was “dankie” en 'n paar dae gelede het die spontane klein mannetjie hulle selfs met 'n “thank you” verras. 

Just taking a casual stroll along the promenade.

A post shared by Zetske van Pletzen (@zetskevpletzen) on

In 'n vorige onderhoud het Zetske aan Huisgenoot gesê klein Alexander was baie energiek en vriendelik as baba. Hy is ook dol oor buite speel en jaag ook glo oral met sy skopfietsie rond.  

Vir die ma is dit 'n groot uitdaging en verantwoordelikheid om 'n ouer te wees, maar ten spyte daarvan is dit 'n wonderlike ervaring. “Dit verander jou siening oor die lewe,” het sy gesê.