Die TV-aanbieder en radiopersoonlikheid Rozanne McKenzie het Woensdag ’n groot persoonlike mylpaal gevier.

Dit is nou twee jaar dat sy nie meer enige alkohol gebruik nie. “Op 28 November 2016 het ek besluit om ’n voorsprong te kry op ’n droë Desember,” het sy op Instagram geskryf. “Dit het as ydelheid begin, want ek wou sien watter invloed geen alkohol op my oefenroetine sou hê. Chris en ek wou ook nog ’n baba hê ek wou in die beste moontlike fisieke toestand wees vir my swangerskap.”

Sy gaan voort om te vertel dat sy die dag ná Kersfees uitgevind het sy is swanger, en nadat haar dogtertjie, Fallon, gebore is, het sy met die waterkar volgehou. Rozanne sê dit was die beste besluit aangesien dit haar ook gehelp het met die nageboortelike depressie wat sy gekry het.

Sy het ’n seuntjie James (4) en ’n dogtertjie Fallon (1).

“So drie, vier weke ná haar geboorte het ek daarmee gesukkel. Sy was die perfekte baba. Sy het goed geëet, was baie gesond, maar sy het koliek gehad en die heeltyd gehuil en amper nooit geslaap nie.

“Ek het gedink dis my skuld en dat ek ’n slegte ma was. Ek het vir maande daarmee op my eie gewroeg.” Sy is eindelik dokter toe. “Ek het gedink ek sal beter raak as ek reg eet en oefen, maar dit was die medikasie wat my gehelp het. Ek het ook openlik met Chris (Bishop) en my ma begin praat en kon eindelik weer die lig gesien.”

Sy sê aanvanklik was sosiale geleenthede vir haar moeilik omdat sy oor Desember opgehou het, in wat gewoonlik as ’n partytjietyd beskou word. “Maar hoe langer ek uitgehou het, hoe makliker het dit geraak, want ek het dit nie meer gemis nie. Mense verstaan ook nie altyd hoekom iemand nie meer drink nie.

Hulle dink daar is ’n groot storie of skandaal betrokke. Dit was vir my soms moeilik om te verduidelik. Ek het ook besef dat ek myself selfs nog meer kon geniet sonder alkohol. Dis wonderlik om op ’n Sondagoggend wakker te word sonder ’n babelas.”

Sy is ook gelukkig dat Chris haar ten volle ondersteun in haar besluit.

Rozanne sê sy het deesdae nuwe sin in die lewe. “Ek is meer gefokus daarop om ’n goeie vrou te wees, en dit het ’n groot impak op baie aspekte van my lewe gemaak. “Die selfsugtige rede is dat my vel beter is as ooit – en dit is genoeg rede vir my om daarmee aan te hou!”