Dié keer het Lady Gaga die redes agter haar selfskade en ’n psigotiese episode onthul.

Die 33-jarige sangeres, wat al vantevore vertel het van die seksuele mishandeling wat sy as tiener deurgemaak het, het in ’n onlangse onderhoud met Oprah Winfrey vir die tydskrif Elle vertel van die trauma wat sy regdeur haar loopbaan ervaar het.

“Ek ly aan posttraumatiese stresversteuring en het chroniese pyn. Neuropatiese pyn is ’n weeklikse deel van my lewe. Ek is op medikasie; ek het verskeie dokters. Dis hoe ek oorleef,” sê sy.

Ten spyte van voortslepende gesondheidskwessies het die aktrise van A Star is Born altyd moed gehou. Sy raai ook enigeen wat soortgelyke trauma ervaar aan om te vra vir hulp wanneer hulle gereed is.

View this post on Instagram

#AStarIsBorn

A post shared by Lady Gaga (@ladygaga) on

Sy het mense aangemoedig om hul geliefdes te ondersteun as hulle sien hulle ly. “Sê: ‘Hei, ek sien jou. Ek sien jy ly, en ek is hier. Vertel my jou storie.’ ”

Lady Gaga het ook openlik gepraat oor hoe sy in die verlede haarself gesny het.

“Ek het nog nie veel hieroor gepraat nie, maar ek dink dis ’n belangrike ding wat mense moet weet en hoor: Ek het vir ’n lang tyd myself gesny,” het sy erken.

“Ek sê dit met baie nederigheid en krag. Ek is baie dankbaar dat ek dit nie meer doen nie en wil dit beslis nie glansryk laat klink nie.”

Tog kom selfskade nie naby die psigotiese episode wat sy ervaar het nie, en beskryf sy dit as “een van die ergste dinge wat nog ooit gebeur het”.

Sy het haar geestesprobleme oorkom en geleer om daarmee saam te leef nadat sy besef het daar is geen omdraaikans van haar trauma nie, en Gaga sê medikasie en terapie werk beslis.

Bronne: E! News, Elle, Mirror