Lady Gaga se twee hondjies is tydens 'n skietery g
Lady Gaga se twee hondjies is tydens 'n skietery gesteel. Foto: Instagram/LadyGaga

Skielik hou ’n motor langs hom stil en twee mans spring uit en probeer die honde van hom af vat. Die een hondjie het gelukkig weggehardloop te midde van dié aanval.

“Nee, nee!” skree die hondestapper, wat as Ryan Fischer geïdentifiseer is. Skote klap en Ryan val agteroor. Die aanvallers gryp die twee oorblywende hondjies en laai hulle in hul motor, voordat hulle met skreeuende bande wegjaag.

Die twee hondjies word steeds vermis.

Dis egter nie net sommer enige hondjies nie. Dis die honde van die bekroonde Amerikaanse sangeres en aktrise, Lady Gaga (34). Sy is tans in Rome besig om te werk aan 'n nuwe Ridley Scott-film, Gucci

View this post on Instagram

A post shared by Lady Gaga (@ladygaga)

Die Los Angeles-polisie is nou hard besig om ’n kringtelevisievideo waarin dié hele voorval opgeneem is, te bestudeer. Die polisie beskryf die aanvallers as mans tussen 20 en 25 jaar oud. 

Intussen het die "Rain on me"-sangeres ’n beloning van R7,2 miljoen vir die vind en terugbring van haar honde, Koji en Gustav, aangebied.  

Omliggende inwoners het ná die aanval na Ryan gehardloop om hom te help. Hy is tans in ’n kritieke toestand in die hospitaal. 

Rachel Mason, wat Ryan te hulp gesnel het, sê vir hulle was dit ’n nagmerrie-toneel.

“Die man was letterlik besig om uit te bloei terwyl die polisie en die paramedici op pad was,” sê sy. “Ek het nie geweet of hy lewendig of dood is toe hulle hom in die ambulans gelaai het nie.” 

In dié skokkende video kan gehoor word hoe Ryan sê hy is in die hart en longe geskiet en dat die twee honde gesteel is. Die derde hond, Miss Asia, wat weggehardloop het, is later deur die polisie gevind. 

BEPLANDE AANVAL?

Dit is nog onbekend of Lady Gaga se honde tydens ’n beplande aanval gesteel is omdat sy bekend of ryk is en of dit deel is van ’n dodelike neiging die afgelope ruk.

Franse bulhonde is baie gewilde en duur honde. Daar was die afgelope ruk in Amerika verskeie ander beplande aanvalle op eienaars van dié spesifieke honderas. 

In Januarie is 'n vrou in San Francisco met 'n geweer deur drie mans aangeval wat met haar vyf maande oue hondjie ontsnap het, berig BBC. In Amerika kos dié hondjies tussen R29 000 en R145 000. 

In Suid-Afrika is die Franse bulhond die duurste honderas wat jy kan koop. In 2018 het hul pryse in SA gewissel van R20 000 tot R70 000. In die Kaap was hul pryse vir normale kleure vanaf R25 000 tot R30 000 en R30 000 en R50 000 in Johannesburg. Die Franse bulhonde met die eksotiese kleure is natuurlik duurder. 

BRONNE: CNN, BBC, BUSINESS INSIDER

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe