Lady Louise Windsor
Lady Louise Windsor. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die hertog van Edinburgh het sy ponies en perdekar aan lady Louise, die 17-jarige dogter van sy jongste seun, prins Edward, en Edward se vrou, Sophie, die gravin van Wessex, nagelaat. 

Philip het die tiener en haar ma geleer perdekar ry en op die oggend van sy begrafnis het Louise in haar oupa se perdekar deur Windsor Great Park gery met die Fell-ponies Notlaw Storm en Balmoral Nevis voor die kar ingespan. 

Die hertog van Edinburgh se ponies en perdekar
Die hertog van Edinburgh se ponies en perdekar. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tydens die begrafnis het hulle die perdekar getrek. Op die sitplek was hul oorlede baas se rypet, handskoene, kombers en ’n plastiekhouer waarin hy hul suikerklontjies gehou het. 

Koningin Elizabeth (94) het albei Fell-ponies geteel. Hulle is inheems aan Engeland en word as bedreig beskou. 

View this post on Instagram

A post shared by Windsor Royal Family (@windsor.royal.family)

Philip, haar man van die afgelope 73 jaar, het sedert die 1970’s perdekarre gery en ontwerp. Die een op sy begrafnis was sy jongste een. Dit is agt jaar gelede volgens sy spesifikasies gebou. 

Hy het grootliks daarvoor krediet gekry dat hy die sport in Brittanje help vestig het en hy het sy land by drie Europese kampioenskappe en ses wêreldkampioenskappe verteenwoordig. 

Hy het tot in sy 80’s deelgeneem en is in die jare daarna dikwels op sy donkergroen perdekar in Windsor en op ander koninklike landgoedere opgemerk. 

Bronne: dailymail.co.uk, mirror.co.uk