Lance verjaar in werkliheid eers op 18 Julie, maar sy groot mylpaal was die fokuspunt van vanjaar se Bakgat Country Opskop, wat op 3 Junie in GrandWest se Grand Arena in die Kaap gehou is.

Benewens Big Daddy, soos Lance onder sy aanhangers bekend is, het Barbara Ray, Ray Dylan, Rocking Horse, Pierre de Charmoy, Tommy Dell, Ricus Nel, Elizma Theron, Brandon Oberholzer en Elandré Schwartz die gehoor vermaak.

Die sangeres Eliz­ma Theron maak seker sy lyk op haar beste vir die verhoog. Foto: Neels Kleynhans.
Musikante oefen voor die makietie begin. Van links is Clive en Tony Ridgway van Rocking Horse, Brandon Oberholzer, Ricus Nel, Ray Dylan en Elandré. Foto: Neels Kleynhans.
Elandré Schwartz poseer vir die kamera. Foto: Neels Kleynhans.

Ná langer as 60 jaar in die musiekbedryf het Lance al 100 albums uitgereik en meer as 60 musiekpryse ontvang. Maar dit beteken nie hy beplan om halt te roep nie.

Hy verower steeds harte met sy tydlose stem en gewilde radioprogram, Keep It Country.

Die countrylegendes Lance en Tommy Dell tree op tydens die Bakgat Country Opskop. Foto: Neels Kleynhans.

Die Bakgat Country Opskop-konsert het op ’n hoogtepunt afgesluit toe Lance vir sy lewenslange bydrae tot countrymusiek – en sommer ook as ’n verjaardaggeskenk – ’n cowboyhoed van hout ontvang.

Hoe gepas vir die man wie se wit cowboyhoed al amper ewe bekend is as sy heuningstem!