Laurika, een van die land se voorste musiek-ikone, het haar aanhangers groot laat skrik toe sy gisteraand omstreeks 17:00 in 'n motorongeluk op Potchefstroom betrokke was.

Sy was op pad na die Beeld-ouditorium waar sy 'n klanktoets moes doen vir vanaand se optrede, toe daar glo 'n Mercedes voor die motor waarin Laurika was, ingery het. 

Laurika was saam met twee Aardklop-personeellede in 'n feeskar wat kunstenaars tydens die fees vervoer. 

Dit is baie seer. Sy kan nie regtig 'n mikrofoon vashou nie. Maar sy rus nou sodat sy kan voorberei op vanaand se groot vertoning.

Volgens Alexa Strachan, hoof uitvoerende beampte van Aardklop, was daar drie insittendes in die Mercedes. Sy is egter nie seker of hulle enige beserings opgedoen het nie.

Die twee feesbeamptes wat saam Laurika in die motor was, het wel ligte kopwonde opgedoen. 

Laurika is daarna dadelik na die naaste hospitaal geneem waar sy ondersoek is.

Laurika het by monde van haar vriendin Emtia Morrison, gesê sy is baie dankbaar dat sy ongedeerd is ná die ongeluk en dat sy steeds vanaand gaan optree. 

“Haar arm en skouer is seer. Dit is baie seer. Sy kan nie regtig 'n mikrofoon vashou nie. Maar sy rus nou sodat sy kan voorberei op vanaand se groot vertoning,” het Emtia aan Huisgenoot gesê.

“Laurika is net baie dankbaar dat sy fine is en sy waardeer almal se ondersteuning ongelooflik baie.”

Vanaand se vertoning is Laurika se enigste optrede tydens Aardklop. Kaartjies is reeds uitverkoop.