Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van Boer soek 'n vrou, het bevestig dat daar later vanjaar ’n 13de seisoen sal wees en dat ’n nuwe aanbieder in Februarie aangekondig sal word.

Leah, wat ook al as sangeres en aktrise naam gemaak het, het die afgelope twee seisoene die skoene van die reeks se aanbieder volgestaan.  

Omdat Leah gereeld toer, is daar vir haar geen plek so lekker soos die huis nie. Foto: Willem Botha

Terwyl die afgelope seisoen verfilm is, het sy hegte bande met die toptien-boere gesmee. 

“Met 'n baie swaar hart het ek vir oulaas vanaand op Boer soek 'n vrou verskyn - wat 'n avontuur,” het sy op Instagram geskryf kort nadat die laaste episode Donderdagaand uitgesaai is. 

“Seisoen 12 was vir my ekstra spesiaal en ek is so trots op die reeks en wat ons vermag het. Ek kan nie genoeg dankie sê vir die ongelooflike ervaring en die ondersteuning wat ek van julle almal ontvang het nie," skryf Leah.

“Dit was 'n journey wat my vir altyd en ewig sal bybly. Ek het baie geleer en gegroei en lewenslange vriende gemaak. Dit het sy uitdagings gehad, maar dit was regtig 'n onbeskryflike tyd in my lewe.” 

Hentie en Hantie gesels met Leah.

Leah het kykNET en Marche Media, wat die reeks vervaardig, bedank dat hulle haar as aanbieder vertrou het. 

Leah en haar man, Hennie van Niekerk, woon in die noordelike voorstede van Kaapstad. Die afgelope reeks het haar altesaam 11 weke van die huis weggeneem. Tussendeur het sy ook haar nuwe album, Kyk na my, opgeneem.

Vir haar was die ervaring se groot hoogtepunt om die boere beter te leer ken.

“Boere ek is gek oor julle. Julle het my maak lag, huil, dink, dans en en en, duisende miljoene dankies!”

Leah gesels met Sanel en boer Willem nadat hy sy keuse gemaak het. Foto: Verskaf

Leah was die vyfde aanbieder van die gewilde reeks, wat in 2007 die eerste keer uitgesaai is. Sy het die leisels as aanbieder oorgeneem by Minki van der Westhuizen, wat Boer soek 'n vrou vir twee seisoene aangebied het.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.