Leah het onlangs ’n foto van haar en haar man, Hennie van Niekerk, en hul twee Jack Russells, Lila en Muggie, in die sosiale media gedeel. 

“Lockdown is vrek moeilik op ons albei, maar die feit dat ons ordentlik tyd saam kan spandeer, maak die wêreld se verskil . . . Hoop julle almal byt vas saam met ons! Kyk mooi na mekaar nê?” het die voormalige aanbieder van Boer soek ’n vrou by die foto geskryf. Leah en Hennie woon in die noordelike voorstede van Kaapstad.

View this post on Instagram

Lockdown is vrek moeilik op ons albei, maar die feit dat ons ordentlik tyd saam kan spandeer, maak die wêreld se verskil... Hoop julle almal byt vas saam met ons! Kyk mooi na mekaar nê? ??

A post shared by L E A H (@leahmusieksa) on

 

“Ek het al baie skottelgoed gewas,” laat die sangeres weet wanneer sy vertel oor waarmee sy doenig bly in hierdie tyd. 

“Ek gesels gereeld met vriende en familie en ek hou my besig met lees en werk aan aanlyn projekte. Ek en my man gaan draf met ons honde en sit ook aande uit as date nights.”

Inperking het ook vir Leah die kans gegee om nuwe vaardighede aan te leer. 

“Ek het begin om die ukulele te leer speel. Dit gaan stadig, maar dis vir my makliker as die kitaar en ek geniet dit,” vertel sy. Sy voeg ook by dat sy nou tuisgemaakte naan kan maak. 

Sy het ook ’n baie gewilde TikTok-rekening waar sy gereeld inhoud deel tydens die inperking. Sy spog met meer as 100 000 volgelinge op die gewilde app.

“Die lekkerste deel is wanneer jy eindelik die dansie of grappie regkry. Dit vat soms baie lank, maar ek geniet die verskeidenheid,” het sy vroeër aan Huisgenoot gesê oor haar manewales op TikTok. 

Sy het ook ’n “konsert” gehou vir haar aanhangers uit haar eie sitkamer. 

“Dit was nogal vreemd, want ek is iemand wat baie interaksie met my gehoor het. Maar ek het net heeltyd myself gemotiveer dat dit steeds my ondersteuners vermaak, al kan ek hulle nie sien nie. Hulle dra my deur hierdie tyd,” vertel Leah oor die ervaring. 

Nadat pres. Cyril Ramaphosa verlede week aangekondig het dat haarsalonne en ander dienste in die skoonheidsbedryf weer mag oopmaak, het Leah ook haar haarkapper besoek. 

Sy het in die sosiale media ’n foto gedeel ná die besoek. 

“@vatditkoptoe is weer oop. Good hair days are here again,” het sy daarby geskryf. 

“Dit was vir my moeilik om nie drukkies uit te deel nie. Maar ek is so dankbaar dat salonne weer kon oopmaak. Ek weet hoe moeilik hierdie tyd vir hulle is. Dinge voel nog maar 'n bietjie vreemd en almal is ekstra versigtig, maar die geselsies is so lekker,” laat sy hoor. 

Sy sê ook dat sy darem kans gekry het vir ander ontspanningsaktiwiteite tydens die inperking. 

“Ek het deur ’n hele paar boeke gewerk en is nou besig met Shoe Dog, die Nike-memoires," vertel Leah. Sy kyk ook TV-reekse. "Ek het die tweede seisoen van Dead to Me baie geniet en ook eindelik met Downton Abbey begin. Ozark sal ook altyd een van my gunstelinge bly.”

Soos die inperkingsreëls verslap, sien Leah uit daarna om weer haar normale roetine te hervat. 

“Ek werk tans aan my leerreeks, beplan nuwe T-hemde en werk aan nog aanlyn vertonings. Ek hoop om gou weer te kan toer,” verklap sy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.