En al lyk dit met tye of die mooie Leandie du Randt wel iemand nuut in haar lewe het, bly sy baie geheimsinnig daaroor. 

’n Groepfoto van haar Valentynsdagvieringe saam met vriende is die mees onlangse teken dat daar wel woelinge op die liefdesfront is.

Die persoon wat die foto geneem het, is met 'n klomp hartjies verbloem, maar mens kan sien hoe Leandie se hand gemaklik op hom rus.

Dit was nie lank voor iemand vir haar gevra het wie die misterieuse man is nie, maar Leandie het dit nie beantwoord nie.

By navraag het sy gesê sy het geen nuus om te deel nie.

By die foto het sy geskryf dat sy en sewe spesiale vriende besluit het om Valentynsdag ’n spansport te maak en hulle was ’n groep paartjies en enkelopendes.

“Ek moet sê dit was my beste Valentynsdag nog en ons het inderdaad liefde gevier – vir onsself, ons vriende en maats.”

Leandie du Randt
Leandie du Randt deel 'n foto van haar Valentynsdag vieringe. Foto: Instagram

Dit was nie die eerste keer wat Leandie leidrade los wat aanhangers laat dink daar dalk iemand spesiaal in haar lewe is nie.

In Januarie het sy foto’s gedeel van ’n vakansie op die tropiese eiland Mauritius saam met haar familie. Teen die einde van die vakansie het daar skielik ’n foto verskyn van ’n lang donkerkopman saam met haar op die strand. Sy gesig was weggekeer van die kamera en die kommentaar onderaan die foto was gesluit.

“Begin die jaar reg,” het sy by die foto geskryf en ’n hartjie daarby geplaas.

Ook toe wou sy nie kommentaar lewer oor wie hy is nie en aanhangers wat nuuskierig onder van haar ander foto’s gevra het wie die misterieuse man is, het geen antwoord gekry nie.  

Leandie het in 2015 met die sanger, akteur en grapmaker Bouwer Bosch getrou, maar hulle paadjies het sowat ’n jaar gelede geskei. Hulle het destyds ’n verklaring uitgereik waarin hulle gesê het hulle is beter “maats as huweliksmaats”.

Leandie du Randt en Bouwer Bosch
Leandie du Randt en Bouwer Bosch

Leandie begin in Maart met 'n nuwe motiveringspraatjie vir vroue getiteld "Dis okei (sic) om jouself te skei (van alles)" wat sy saam met haar vriendin, die musikant Irene-Louise van Wyk gaan aanbied.