Hulle was die perfekte glanspaartjie.

Die akteur, sanger en grapmaker Bouwer Bosch en aktrise Leandie du Randt was die toonbeeld van geluk toe hulle begin uitgaan het en toe hulle in November 2015 afhaak, kon aanhangers nie genoeg van hulle kry nie.

In ’n pragtige kantrok met ’n lae rug vir haar en kruisbande en ’n hoed vir hom het Leandie en Bouwer op sy tuisdorp, Potchefstroom, ewige trou aan mekaar beloof.

Daar is op die spesiale dag behoorlik makietie gehou en foto’s het oral op sosiale media verskyn.

Al het Bouwer en Leandie vroeg in hulle huwelik besluit om hul verhouding privaat te hou, het Leandie voor die troue aan Rapport vertel dat hulle paaie die eerste keer in 2011 gekruis het by die konsert van die rockers Kings of Leon.

“Dit was soos ’n fliek,” het sy gesê. Hulle het mekaar tussen die magdom mense gewaar en vir mekaar gewaai – sonder dat hulle mekaar al ontmoet het.

Toe speel hulle saam in die fliek Klein Karoo. Twee jaar lank was hulle net vriende. Sy het ’n kêrel gehad, en al het sy baie van Bouwer gehou, het sy haarself wysgemaak hul vriendskap is net platonies.

Toe sy hom met sy 30ste verjaardag uitneem vir ete, het hul romanse begin blom. Hy het haar hand gevat om die tafelgebed te doen. Leandie vertel sy het meteens in trane uitgebars. “‘Het ek iets verkeerds gebid?’ het hy gevra. Ek het gesê: ‘Nee, maar ek is diep in die moeilikheid . . . ek is so verlief op jou!’”

Sowat drie jaar ná hul troue het niemand vermoed hul huweliksbootjie sou in troebel waters vaar nie, en vriende en aanhangers was geskok toe hulle op 1 Maart ’n gesamentlike verklaring uitreik waarin hulle sê dat hulle “beter maats as huweliksmaats” is en in liefde vir mekaar besluit het om te skei.

Selfs haar agent en vriendin, Irene-Louise van Wyk het aan Rapport gesê sy het ’n paar uur voor die verklaring daarvan gehoor. 

In hierdie verklaring het hulle laat blyk dat hulle dit nie verder wil bespreek of met die media wil gesels nie, en sedertdien het hulle by die besluit gehou.

Tydens hul getroude lewe was Bouwer en Leandie saam te sien in die flieks Vuil Wasgoed en Thys en Trix, Leandie het ’n nuwe klerereeks, Skoonma Clothing, met die hulp van Bouwer se ma, Marie Bosch, op die been gebring, en sy het onder meer ook ’n draai op die kassie gemaak in haar rol as Ivanka Gouws in Binnelanders.

Sy het ook gereeld motiveringspraatjies gedoen met haar boek Gemaklik in Jou Eie Lyf as riglyn.

Die eerste aanduiding dat alles nie pluis is nie, was op 26 Februarie vanjaar toe Leandie haar van op sosiale media verander het van Leandie du Randt Bosch, na slegs Leandie du Randt. 

Sy het ook ’n foto gedeel waarin sy spring van geluk en vertel dat dinge besig is om te verander ná ’n uitdagende vier maande.

“Ek is baie dankbaar,” het sy geskryf. “Hou aan om deur te druk as jy deur ’n moeilike tyd gaan en hou aan glo. Hou aan om daardie dankbaarheidslysies te maak al is jou omstandighede nie so goed nie. Jy sal hierdeur kom."

Kort daarna het sy ’n foto geplaas waar sy nie meer haar trouring aanhet nie – en toe kom die onthulling.

Intussen lyk dit asof Bouwer en Leandie probeer om so normaal moontlik met hul lewe voort te gaan.

Elkeen werk hard aan sy loopbaan, sien mense en doen dinge wat hulle gelukkig maak. Tog blyk dit nie of hulle van al mekaar se bewegings bewus is nie, aangesien hulle mekaar nie meer op Instagram volg nie.

Leandie het kort ná die aankondiging Kaapstad toe gereis vir ’n goeie vriendin se hennepartytjie en ’n paar weke later het sy ook die troue op ’n gasteplaas buite Oudtshoorn bygewoon.

Sy werk hard daaraan om haar klerereeks te bemark en besendings uit te stuur en kuier graag saam met familie en vriende.

Sy het onlangs ook skouers geskuur met van Suid-Afrika se bekendstes in die vermaakbedryf toe sy die E! Entertainement-kanaal se 15de verjaardag in Sandton bygewoon het. 

Bouwer was te sien in die toneelstuk Intermissie by die Woordfees op Stellenbosch waarin hy saam met die akteurs Beer Adriaanse, Mila Guy, Schalk Bezuidenhout en Bennie Fourie opgetree het.

Hy stort baie van sy energie in die groep Straatligkinders, en hulle toer tans in die Wes-Kaap.

Hulle het ook die liedjies Herinner en Goliat se muskiekvideo's verfilm, waarvan hy die regie en redigering gedoen het.

Terwyl hy in die Kaap gekuier het, het Bouwer vir hom ’n nuwe tatoe van ’n verpleegstershoedjie en 'n vlieër gekry en het hy ook ’n draai gemaak by die Milnerton-mark en Houtbaai.

Hy het vroeër aan Huisgenoot vertel sy tatoes het elkeen ’n boodskap. Hy het toe reeds ’n vuurtoring, swaeltjies en boublokkies op sy arm gehad. In die blokkies staan “I love Jesus” geskryf.

“Die boublokkies is simbolies daarvan om ’n brug te bou en een te wees,” het hy toe vertel.

“’n Brug tussen byvoorbeeld die kerk en die wêreld. Die brug kan ook wees tussen politieke sienings, maar ’n mens moet onthou dat as jy ’n brug is, loop mense van albei kante af oor jou.”

Die swaeltjies is simbolies van vergifnis en vryheid.

In die kommentare het hy gesê die verpleegstershoed is 'n huldeblyk aan sy ma wat in haar jong dae 'n verpleegster was en ook na sy pa omgesien het op sy siekbed. Die vlieër verwys na iets wat net kan vlieg as dit vasgehou word of geborge is in iets.

Tussen al sy bedrywighede deur het hy ook die kans gekry om ’n lewenswysheid met sy volgelinge te deel oor hoe om daarin te slaag om nie om te gee wat ander mense van jou dink nie.

Wyse woorde vir almal – ongeag of jy in ’n moeilike tyd van jou lewe is of nie.