Sy word immers vandag 30, ’n ouderdom waar sy nog altyd gedink het ’n mens darem al ’n bietjie kon uitpluis wie jy is en wat jy in die lewe wil hê.

"Jou eerste liefde of hoërskool-liefde gaan tien teen een nie jou trouman wees nie," sou Leandie sommer heel eerste wil tuisbring.

"Die maats wat jy op skool het, gaan waarskynlik nie altyd in jou lewe wees nie, en dit is oukei," vertel Leandie aan Huisgenoot. Daar is seisoene vir verskillende vriende weet sy ook nou.

"Almal gaan nie altyd van jou hou nie, maar dit beteken nie dat jy moet verander wie jy is nie," is haar raad verder.

Leandie, haar pa Neels, ma Elmarie en ouboet, Corné (links). Foto: Verskaf.

Sy sou ook in die brief baie daarop fokus dat ’n 16-jarige Leandie net haarself moet wees. "Vind uit wie daai self is, maar doen dit tussen die regte mense. As jy verkeerde vriende op skool het, kan dit jou toekoms maak of breek," waarsku sy.

"Ek het nog altyd na 30 uitgesien omdat ek gehoop het ek teen daardie tyd sou geleer het om net myself te wees," vertel Leandie. "Ek kan met dankbaarheid sê dat ek vandag regtig geleer het om vir myself lief te wees en dat ek weet wat ek in die lewe wil hê."

’n Kiekie van Leandie uit haar kinderjare. Foto: Verskaf.

Alle verjaardae is eintlik nog altyd vir Leandie spesiaal, verklap sy. "My ma het elke verjaardag ongelooflik spesiaal gemaak en toe ek klein was, het ’n nuwe jaar ’n nuwe Barbie-pop beteken," onthou sy haar ma, Elmarie, wat in 2014 aan Alzheimersiekte oorlede is.

Leandie vier haar verjaarsdag saam met haar geliefdes. Foto: Verskaf.
Bouwer Bosch, Leandie du Randt Bosch en haar nefie Caleb. Foto: Verskaf.
Leandie saam met haar familie en vriende. Foto: Verskaf.

Die verjaardagvieringe het al vroeër die week begin toe 30 vriende genooi is na ’n ete  wat Leandie gedink het net vir familie is. "Ek is mal oor verrassings en is baie dankbaar vir al die wonderlike mense wat in my lewe is," vertel sy.

Leandie en haar man, die sanger en akteur Bouwer Bosch, gaan die res van die naweek in die Kaap deurbring en sy sien veral uit om ook met haar vriende wat daar woon, te kuier.