Dit het alles met dié Instagram-inskrywing begin. Van links is Ernest Haarhoff, Réan, Francois Pretorius, Duncan Mackay en Jannie van Zyl. Foto: Instagram/skermgreep.

Toe hy so ’n maand gelede saam met ’n paar van sy vriende uit die Groblershoop-omgewing op sy plaas in die Noord-Kaap kuier, val dit hom op sy vriende is almal ongehude mans sonder ’n vrou in hul lewe.

En toe maak die jong boer ’n blink boereplan: Op sy Instagramrekening deel hy foto’s van sy hubare vriende, kompleet met skakels na hul persoonlike Instagramblaaie en die selfoonnommer van die enigste een wat nie ’n Instagramblad het nie.

By ’n foto van Ernest Haarhoff (26), Francois Pretorius (27), Jannie van Zyl (41) en Duncan Mackay (37), wat ook aan die jongste seisoen van Boer Soek ’n Vrou deelgeneem het, plaas hy toe die boodskap: “Dames en here, eintlik net dames. Hierdie is my 4 single vriende. #topklas #troumateriaal once in a life time. Kontak hulle asb.” Francois was reeds geholpe.

Huisgenoot het besluit om ook hand by te sit en in ’n artikel meer oor die soekende boere te verklap en vroue uit te nooi om vir hulle te skryf.

Toe stroom die briewe in.

“Ek het dit vir hulle aangestuur en die manne sê daar is potensiaal,” vertel Réan vanaf sy plaas op Groblershoop in die Noord-Kaap. Dit gaan nog goed met hom en sy Engelse roos, Rox-Zee Veldhuizen van Hillcrest in KwaZulu-Natal.

Rox-Zee en Réan is smoorverlief.Foto: Instagram

Die twee het mekaar voor die kameras gevind, en sedertdien is hulle ooglopend smoorverlief. Maar terwyl boer Réan en sy Rox-Zee (albei 27) vir mekaar koer, het sy boerevriende steeds sonder ’n holte vir die hart gesit.

Tot nou . . .

“Die gesegde lui mos: We are given two hands to hold, two legs to walk, two eyes to see, two ears to listen. But why only one heart, because the other one was given to someone else for us to find.

“Ek glo hierin,” skryf ’n 25-jarige van Bloemfontein aan Duncan Mackay van Verkykerskop in die Vrystaat. Hy was saam met Réan in Boer Soek ’n Vrou, maar het nog nie "Die Een" gevind nie.

“Ek is nie sommer een wat briefies skryf nie,” laat weet ’n vrou in haar 40's van Pretoria, ook aan die skugter Engelsman Duncan. “Ek is ’n gemaklike mens, maar ook maar stil.”

Duncan Mackay. Foto: Fani Mahuntsi.

Van die Weskus skryf ’n 38-jarige Afrikaanse wynkenner in Engels aan Duncan: “Ek hou van uitdagings en ’n nuwe begin. Ek is versot op die plattelandse lewe. Dis waar ek gemaklik voel en waar ek my tyd wil deurbring,” voeg sy by.

“Ek is plat op die aarde en baie reguit, ek hou nie van stokkies omdraai nie!” skryf ’n 20-jarige aan die 25-jarige boer van Groblershoop, Ernest Haarhoff.

“Ek is ook baie lief vir die natuur en diere. My familie en vriende beteken die wêreld vir my. Ek hoop dis kort en kragtig genoeg, ek's nie seker of jy daarvan hou om te lees nie so ek wil jou nie verveel nie,” eindig sy die brief af.

“Soos Reán dit sal stel, a once in a lifetime experience en wie gaan nou die kans laat verbygaan om ’n sout van die aarde, oulike, plattelandse boertjie te kan ontmoet,” skryf ’n 22-jarige student van Bloemfontein aan Ernest.

Ernest Haarhoff. Foto: Verskaf.

“Ek sal myself beskryf as ’n lekker mens wat vriendelik, liefdevol, opreg en aanpasbaar is en opsoek is na nuwe avonture en glad nie bang is vir ’n uitdaging nie. Ek vind vreugde in die eenvoud van die lewe en ek het ’n baie groot liefde vir kinders, plante en diere,” vertel sy.

“Ek raak vinnig verveeld, dus is ek ’n baie besige mens. Ek hou van klein spontane avonture, al moet ek self daarop gaan. Ek kan nie heeldag in ’n huis sit nie, so ek vind vinnig iets vir my om te doen. Gewoonlik sluit dit iets in die buitelewe in,” skryf ’n 20-jarige teologiestudent van Nelspruit aan Ernest.

“Vir iemand wat ’n teruggetrokke persoon is, is dit moeilik om alles te laat gaan en ’n kans te waag,” skryf ’n 36-jarige van Brits in Noordwes aan Jannie van Zyl (41), ook ’n boer uit die Groblershoop-distrik. “Met ’n Italiaanse herkoms kan ek met tye vurig wees.

“Vir my is dit belangrik om alles met jou geliefde te deel vir wie jy lief is. Daar is niks lekkerder as om by die huis te kom en daar is iemand met wie jy jou dag se gebeure kan deel. Glo my, ‘n stil huis is nie lekker nie,” verklap sy aan Jannie.

Jannie van Zyl. Foto: Verskaf.

“Ek was nog nooit in my lewe in ’n ernstige verhouding nie. Ek weet nie eintlik hoekom nie, ek was seker maar net te besig, eers met my universteitstudie en daarna my werk,” skryf ’n 45-jarige van Upington aan Jannie.

“Ek is ’n bietjie van ’n perfeksionis en hou nie van ’n deurmekaar plek nie. Ek kan nie konfyt kook en sulke goed doen nie, maar ek sal jou kan help met omgewingsimpakstudies as jy dalk ’n nuwe landbou ontwikkeling wil doen en om die nodige permitte in plek te kry. 

“Ek rook en drink nie. Ek gee nie om as iemand af en toe ’n glas wyn of bier drink nie, maar ek haat dit as iemand na drank ruik. Ek verstik sommer as iemand naby my rook!” waarsku sy.

Sy het ’n baie stout persoonlikheid, skryf ’n 42-jarige van Mosselbaai aan Jannie. “Ek is ’n baie down to earth persoon; gemaak en laat staan, soos ek vandag is, so is ek môre.

“Gravitasie het my oornag aangeval, dus is ek ’n mooi ronde mosseltjie. Absoluut mal oor vas dans . . . Ek het n groot vriendekring en ons love net saamkuier om ’n vuurtjie. My vriende is my familie, myne bly in Engeland,” skryf sy verder.

Nog een, ’n 30-jarige, skryf aan Jannie: “Oulik, spontaan, snaaks, plain Jane, ’n bietjie slim, skerp en praat baie . . . Dis die klein dinge in die lewe wat vir my belangrik is . . .

"Voor jy nou begin hou van my, ek kom as ’n package deal. En natuurlik die beste deal ooit. Ek het 'n dogtertjie wat vier word in April, die mooiste, snaaksste en sweet-ste klein mensie ooit, sy is my grootste blessing!”

“Ek kon hul aas wyer uitgooi. Dan kan hulle ’n paar lyne in die water hê,” het Réan sy besluit om sy vriende te help, verwoord.