Die vrou op die skerm is modelmooi. Haar golwende hare is korter gesny as op die gelukkige gesinsfoto’s wat sy nog tot onlangs in die sosiale media gedeel het. Haar gelaat lyk blosend en gesond – en ’n mens kan byna nie glo dié ma van twee woelwaters het net enkele dae tevore ’n chemoterapiesessie ondergaan nie.

Maar Candice Kriel (32) lag as ’n mens haar oor haar voorkoms komplimenteer. “Dankie! Ek voel nie vandag mooi nie.”

Op die agtergrond kwetter wilde voëls op haar familie se plaas in die Camperdowndistrik naby Pietermaritzburg.

Ons gesels deur ’n video-oproep met Candice, die vrou van Dan Kriel (26), die binnesenter van die Lions-rugbyspan. Die Kriels se lewe is die afgelope paar maande op sy kop gekeer – en nie net weens die covid-19-pandemie nie. Sowat ’n maand voor die inperking aangekondig is, moes Candice in Februarie dié nuus hoor: Sy het aggressiewe genetiese borskanker.

Haar kinders is nog klein, maar skielik sou sy om lewe en dood moes baklei. “My lewe lank het ek gedink ek doen alles reg,” vertel die ma van Summer (3) en Cruz (1). “Ek is mal oor hardloop, ek drink my vitamiene en ek eet gesond. Ek rook of drink ook nie te veel nie.”

Sy het ’n tyd lank al ’n knop in haar bors gevoel. “Maar omdat ek nog vir Cruz borsvoed, het ek gedink dis dalk net ’n verstopte melkkanaal,” vertel Candice en skud haar kop, steeds in ongeloof. Kort nadat Dan, die tweelingbroer van die Springboksenter Jesse, op ’n rugbytoer na Nieu-Seeland vertrek het, het Candice besluit om in Johannesburg vir ’n mammogram te gaan.

View this post on Instagram

Special weekend! #Superherosunday

A post shared by Dan Kriel (@dannykriel) on

Die paartjie pendel tussen hul huis in die Goudstad, waar Dan rugby speel, en die familieplaas, waar Candice die boeke van haar familie se suikerriet- en hoenderboerdery en gasteplaas doen.

Tydens die mammogram is sy aangeraai om ’n biopsie te laat doen. Maar steeds het sy nie die ergste vermoed nie. Dae later het die oproep gekom. Sy onthou die kil woorde, in die middel van wat ’n gesellige middagete saam met haar familie moes wees. Sy het kanker.

“Ek was geskok. Van daar af was alles ’n warboel. Dit het so onwerklik gevoel.”

Foto: Verskaf
Summer en Candice is mal daaroor om saam in die kombuis te bak. Foto: Verskaf

Voor die tyding was hul lewe goed en besig, vertel sy. “Dis so lekker om die kinders hier op die plaas groot te maak. Dis anders as in die stad. Hulle speel met die diere, en net vandag het Summer gaan eiers haal sodat ons vanaand kan bak.”

Sy wou haar man van vier jaar nie dadelik vertel van haar diagnose nie, sê sy. “Hy het skaars in Nieu-Seeland aangeland. Ek het geweet hy sou op die eerste vliegtuig klim en terugkom, maar daar was niks wat hy sou kon doen nie. Hy het die afgelope jaar sulke goeie rugby gespeel, en hy is so ’n sagte mens. Ek het gedink dit sou selfsugtig wees.”

Die eerste dokter het dadelik chemoterapie aanbeveel. Maar Candice het erg daarteen vasgeskop – selfs toe ander dokters dit ook aanbeveel. “Ek het voorheen net die verskriklikste dinge oor chemo gehoor. Al my vriende wat ek ken wat al kanker gehad het, het net bestraling gekry.”

Toe die pandemie Dan se rugbytoer kortknip, was dit ’n bedekte seëning, en met sy tuiskoms het sy hom vertel. “Hy was nie kwaad dat ek hom nie gesê het nie. Sy eerste woorde was net: ‘Is jy oukei?’ Hy was nes ek geskok.”

Foto: Instagram/@Candice_Kriel
Hy het haar ondersteun toe sy haar eerste chemosessie gehad het. Foto: Instagram/@Candice_Kriel

Hy het aanvanklik haar idee ondersteun om nie chemoterapie te kry nie. Maar toe bel een van haar dokters en vra of sy al met chemoterapie begin het omdat die kanker reeds in fase 2 was, wat beteken dit het na haar limf versprei. Toe hoor sy die skokwoorde: As sy nie dadelik met chemoterapie begin nie, het sy 18 maande oor om te leef.

“Dan het toe vir die eerste keer gebreek. Hy het vir my gesê: ‘Ons het kinders . . . Asseblief, gaan vir die chemo.’ ”

Sy het dr. Devan Moodley van die Donald Gordon- mediese sentrum as onkoloog gekies. Hy sou vasstel dat, al het sy geen familiegeskiedenis van kanker of die genetiese borskanker (BRCA-) geen nie, sy ’n HER2-positiewe gewas het. (Sien kassie.)

Die aggressiewe en genetiese aard van dié gewas het haar met geen ander keuse as chemoterapie gelaat nie. Candice se oë skiet vol trane toe sy vertel oor die eerste chemosessie vroeg in April. Weens covid-19-maatreëls is niemand by haar toegelaat nie. “Ek het met die eerste sessie so gehuil dat hulle Dan tog later toegelaat het om vir ’n rukkie by my te kom sit.”

Met ons onderhoud het sy vyf sessies agter die rug – elke 21 dae – en nog een oor voor dié behandelingsfase verby is.

“Teen dag drie tot vyf slaan dit jou regtig hard. Jy voel uitgeput, jy kry seertjies in jou mond, maar ek het gelukkig nie opgegooi nie. My wenkbroue en ooghare het uitgeval. Maar dit was andersins glad nie so erg soos ek verwag het nie. Ek dink ek is die soort mens wat nie stilstaan by die sleg nie; ek was elke keer opgewonde dat ek een sessie agter die rug gehad het.”

Instagram/@Candice_Kriel
Saam langs die veld.

Sy het nie die hare op haar kop verloor nie danksy ’n sogenaamde “cold cap”-behandeling waardeur die haarfollikels voor chemoterapie gevries word. “Jy sit die kappie op sowat ’n uur voor die chemo begin. Dit is vriesend en gee jou ’n yskopseer. Dit bly tot ’n uur ná die chemo op. Van my hare hét uitgeval, maar nou nog is mense verbaas wanneer hulle hoor ek kry chemo én ek het hare.”

Sy wou veral haar kinders beskerm. “Ek sal hulle dalk eendag as hulle ouer is, vertel. Maar ek wou nie siek lyk nie. Op die dae dat ek siek gevoel het, het Summer by my in die bed kom inkruip en haar boek gelees of TV gekyk. Dit is hoe ek dit verkies het.”

View this post on Instagram

Happy 4 years hun, here's to decades more ??

A post shared by Candice Kriel (@candice_kriel) on

Die inperking kon eintlik nie op ’n beter tyd gekom het nie. Omdat daar geen rugbywedstryde gespeel kon word nie, kon Dan deur dit alles aan haar sy wees. “Ek kon nie ’n beter man gevra het nie. Op dae dat ek net lelik gevoel het, het hy die stukke opgetel,” vertel sy.

Instagram/@Candice_Kriel
Candice het voor haar kankerstryd lang blonde hare gehad en het graag saam met die res van die gesin in die son baljaar. Foto: Instagram/@Candice_Kriel

Candice sou kort ná ons druktyd haar laaste chemosessie ontvang, en twee weke daarna sal sy ’n dubbele mastektomie en borsherkonstruksie ondergaan. Sy is nie angstig oor dié operasies nie.

“Ek is gelukkig dat ek die konstruksie kan doen. Baie vroue is nie. Ek sal graag eendag, as ek kanker oorwin het, ’n organisasie wil stig om ander te help.”

Sy het lesse geleer, sê Candice. “Om die klein dingetjies te waardeer. Ek het geleer tyd en gesondheid is iets wat jy nooit kan terugkry nie. Almal sê vir jou as jy 40 is, moet jy vir ’n mammogram begin gaan, maar vandag weet ek jy is ’n risiko, nog voor 40. As ek dit geweet het, het ek seker baie vroeër vir die mammogram gegaan.”

Sy hoop haar storie gee ander moed. “Ek wil vandag vir vroue daar buite sê dié reis is nie net somber nie; daar is ’n reënboog aan die einde.” 

Dié soort kanker

Die HER2-positiewe gewas word gekenmerk deur ’n sekere proteïen, verduidelik Candice se onkoloog, dr. Devan Moodley.

“Die proteïen bevorder die groei van kankerselle en kom in tot 20% van borskankerpasiënte voor.”

Hy verduidelik dié genetiese afwyking is anders as die BRCA 1- en 2- geenmutasies, wat vroue onder 70 se kans om borskanker te ontwikkel onderskeidelik met tot 55-65% en 40% vergroot.

“Die voorkoming van borskanker lê in ’n gesonde leefstyl soos om gesond te eet, gereeld te oefen, ’n gesonde gewig te handhaaf en karsinogene soos alkohol en rook te vermy.”

Tog kan 60% van vroue geen identifiseerbare risikofaktore hê nie en steeds borskanker ontwikkel, benadruk Devan. Vroue met geen familiegeskiedenis nie moet op 45 vir ’n jaarlikse mammogram begin gaan.

As daar ’n nabye familielid met kanker is, kan die kanker al 10 tot 15 jaar vroeër begin ontwikkel.

“Elke vrou moet gereeld hul borste ondersoek deur vir knoppe te voel. Die beste tyd is drie tot vyf dae ná maandstonde,” beveel Devan aan.

VERSKAF, INSTAGRAM/@CANDICE_KRIEL