’n Bordjie op die lessenaar in die wagkamertjie lui: “May the force be with you.” Die tafel tussen die twee leunstoele is in die vorm van die Star Wars-ruimtetuig die Millennium Falcon en ’n groot model van Yoda staan daarop.

Van buite lyk Todd Fisher se produksiefirma, Hollywood Motion Picture Experience, in ’n stowwerige sakepark aan die buitewyke van Las Vegas nogal onopvallend, maar sodra ’n mens dit binnegaan, besef jy jy bevind jou op ’n unieke plek.

Teen die mure hang geraamde rolprentplakkate uit die loopbane van Todd se ma, Debbie Reynolds, en ouer suster, Carrie Fisher: How the West Was Won, The Unsinkable Molly Brown (waarvoor Debbie vir ’n Oscar as beste aktrise benoem is), Postcards from the Edge (waarvoor Carrie die draaiboek geskryf het, gegrond op haar topverkoper- halfoutobiografiese roman), Star Wars: The Force Awakens (wat “Carrie Frances Fisher” opgedra het aan “my groot, stoute bababoetie; jy is soos ’n oom vir my, en ’n dansmaat”) en Bright Lights, die dokumentêr van 2017 oor hulle drie wat vir ’n Emmy benoem is en waarvan Todd medevervaardiger was.

Debbie in How the West Was Won en The Unsinkable Molly Brown.

Vandag is Todd (60) vervaardiger, regisseur, sakeman, geordende predikant en skrywer van ’n nuwe boek, My Girls: A Lifetime with Carrie and Debbie. Dit vertel van sy ongelooflike lewe saam met sy suster en sy ma oor wie die wêreld getreur het toe hulle 18 maande gelede binne 24 uur ná mekaar dood is.

Ná ’n vier dekade lange stryd teen ’n psigiese siekte en dwelmmisbruik het Carrie (60) op 23 Desember 2016 ’n hartaanval op ’n vlug na Los Angeles gekry en vier dae later in die hospitaal gesterf.

Later in ’n lykskouing is spore van heroïen, morfien en MDMA, ’n gesuiwerde vorm van ecstasy, in haar liggaam gevind. Hul bedroefde ma, verswak deur ’n beroerte en ander siektes, het op 28 Desember in dieselfde hospitaal as haar dogter gesterf.

Debbie (84) het daardie oggend vir Todd gesê: “Ek wil by Carrie wees.” Sy het toe haar oë toegemaak, ingesluimer en nooit haar bewussyn herwin nie.

Dit is “eenvoudig onwaar” dat sy aan ’n gebroke hart gesterf het, skryf hy in My Girls.

“Debbie Reynolds wou die aarde verlaat om self toe te sien dat Carrie nooit alleen sou wees nie.”

Die twee vroue is saam begrawe: Carrie se as is in ’n lykbus in die vorm van ’n Prozac-tablet in Debbie se kis geplaas.

Todd, van kop tot tone in swart geklee, glimlag breed. Sy yl silwer hare is agteroor gekam. Ondanks die tragedies wat hy ervaar het, straal hy ’n gemaklikheid met homself uit waarvan veral sy suster net kon droom. In haar memoires, Wishful Drinking, beskryf Carrie haar geliefde broer as die “een wat homself al die beskikbare gesonde verstand in ons vreemde familie toegeëien het”.

Dis waar, sê hy, die lewe is “veel makliker vir my” as wat dit vir haar was. “Ek het nie die duiwels nie.”

Dis nie te sê sy verlies is nie vir hom baie pynlik nie. Die ligte, gebreide sportbaadjie wat hy dra, was veronderstel om sy Kersgeskenk van Carrie te wees – sy het hom elke jaar ’n nuwe baadjie present gegee en hom vertel sy het dit gekoop voor sy die noodlottige vlug gehaal het. Dit is toegedraai gevind.

Todd neem my na ’n klein museumruimte aan die een kant van die wagkamer vol aandenkings van sy ma en suster en verstommende Hollywood-aandenkings. Al drie was ywerige versamelaars. Hy wys my Judy Garland se robynkleurige skoene uit The Wizard of Oz in ’n kabinet en sy ma se Oscar van 2016 vir haar noodleningswerk. Dit het altyd op haar kaggelrak gepryk langs ’n prys van die Rolprentakteursgilde vir haar lewenslange prestasie en ’n beeldhouwerk deur Auguste Rodin.

Todd wys na die klapbord van die dag in 1976 toe die begrafnistoneel geskiet is vir die fliek You’re You, waarvoor Carrie die draaiboek geskryf het. Die fliek het sy suster se grootste innerlike stryd blootgelê: hoe om mee te ding met haar ma se ontsaglike talent, prestasies en gewildheid.

Dis ‘eenvoudig onwaar’ dat sy aan ’n gebroke hart gesterf het.

In ’n stadium het haar karakter ’n nagmerrie. Sy maak haar klerekas oop en tref Debbie daar aan, in haar kenmerkende rooi blinkertjiekostuum van Singin’ in the Rain, die fliek wat van haar een van Hollywood se grootste sterre gemaak het. Carrie klap die deur toe.

Terwyl sy daardie toneel geskryf het, het Carrie (skaars 20) geen benul gehad haar deurbraak as wêreldster was op hande nie. En selfs toe dit gebeur, kon roem nie die spanning verlig nie. Todd skryf sy suster “het ’n lang, lang ruk geglo ma probeer gedurig teen haar meeding.

"In werklikheid was dit sý wat gedurig met ma probeer wedywer het en so baie van haar wrokke veroorsaak het.

“Dit het die hartseer gevolg gehad dat Carrie jare lank alles uitgehaal het om ’n resies te wen sonder dat sy eens besef het sy hardloop alleen daarin.”

Debbie (toe 23) was reeds ’n ster in die vermaakbedryf toe sy in 1955 met die 27-jarige sanger Eddie Fisher trou. Die geboorte van hul eersteling, Carrie, was die volgende jaar wêreldwyd groot nuus. Die wêreld het nog meer versot geraak op die gesin toe Eddie in 1957 strooijonker was op sy beste vriend, Mike Todd, se troue met Elizabeth Taylor.

Debbie, wat saam met Elizabeth op skool was, was die hoofstrooimeisie. Todd is in Februarie 1958 gebore en na Mike Todd genoem. Maar hy was skaars vier weke oud toe Mike in ’n vliegongeluk sterf en Eddie sy weduwee gaan troos. Soos Carrie later geskryf het: “My pa het gevlieg om aan Elizabeth se sy te wees, maar geleidelik het hy sy pad na haar voorkant gevind.”

Die egskeiding is in 1959 afgehandel. Debbie het later haar huwelik met Eddie, ’n rokjagter en dwelmslaaf, as die beste van haar drie rampspoediges bestempel.

Eddie Fisher het Debbie (regs) vir Liz Taylor gelos.

Toe Todd se vroegste herinnerings begin, het die gesin in oorweldigend modernistiese prag en praal by 813 Greenway Drive in Beverly Hills gewoon. Omdat Debbie haarself en haar kinders langdurige sekuriteit wou bied, het sy getrou met Harry Karl, ’n sakeman wat 18 jaar ouer as sy was.

Hy het Amerika se grootste skoenwinkelreeks besit. Hy was spandabel elegant en “het hom soos ’n hertog of die een of ander koninklike gedra”, sê Todd. Hy het dosyne pakke besit en sy hemde met sy voorletters daarop elk net een keer gedra en dan weggegooi. Die huis self “het meer na ’n plek gevoel waar jy jou paspoort laat stempel” as ’n tuiste, het Carrie eenkeer vertel.

Daar was kuns van museumgehalte, Debbie en Harry het hul eie oefenkamers gehad, ’n privaat haarsalon, drie swembaddens en ’n tuisbioskoop so groot soos ’n klein teater. Die kinders se verjaardagvierings was skouspelagtig. Op een het ’n olifant rondgeloop met ’n kleed met die woorde “Happy birthday, Todd” daarop.

Die grootmense wat in die huis onthaal is, was die room van Hollywood. Todd het ’n ruk lank ’n troetel-alligator genaamd Stanley gehad – ’n geskenk van ’n voormalige oppasser – en het saam met hom in die groot akwarium geswem wat vir hom gebou is. Toe Stanley later vir Carrie byt, het Debbie besluit om van hom ontslae te raak. Todd sê Harry was ’n sorgsame stiefpa.

Todd (links) op Debbie en Carrie se gedenkdiens met sy suster se as.

“Hy was lief vir my en Carrie. Hy was ongelooflik vrygewig en het my ma aanbid.” Ongelukkig was hy ook ’n alkoholis en dobbelaar. Toe Todd omtrent 13 was, is Carrie saam met sy ma weg om in ’n Broadway-toneelstuk op te tree. Hy was min gepla. Ná jare waarin hy gedwing is om saam met hulle in winsgewende verhoogvertonings te verskyn, het hy vir Debbie gesê hy geniet dit nie om op te tree nie.

Ná Debbie en Carrie se vertrek het Todd opgemerk ’n klomp sexy “manikuriste” kom gereeld sy stiefpa besoek. Hy het ’n versteekte kamera in die hoofslaapkamer monteer en vasgestel wat werklik aan die gang was. Dit het duidelik geword Debbie se huwelik met Harry was verby.

Die egskeiding het haar finansieel geknou– sy het $2 miljoen (toe sowat R1,4 miljoen) van sy skuld geërf en die era van wilde uitspattigheid was verby.

Debbie is toe met die miljardêr Harry Karl getroud, die tweede van haar drie mans.

Kort tevore het Debbie en haar kinders in die Savoy-hotel in Londen gaan bly terwyl haar Vegas-vertoning, waarin Carrie ’n solosangrol gehad het, in die London Palladium aangebied is.

Carrie, wat altyd met verlammende verhoogvrees gesukkel het, het haar sangloopbaan daarna beëindig en by die Royal Central School of Speech and Drama in Londen ingeskryf. Sy het toe reeds haar fliekdebuut gemaak in Shampoo met Warren Beatty. Daarin het sy ’n vrou gespeel wie se eerste woorde was: “Wanna f***?”

Warren moes Debbie beloof hy sou mooi na haar dogter kyk en het later vir Todd vertel sy het hom gewaarsku: “As jy aan haar raak, sal ek jou laat vermoor.” Hy het haar geglo.

Die broer en suster het later albei in Los Angeles gewoon, maar afsonderlik. Todd het saam met Donna Freberg gewoon, wat sy eerste vrou sou word. Carrie het ál afhankliker van dwelms geword om haar gemoedskommelings te beheer.

Sedert hul vroeë tienerjare het sy en haar broer saam met dwelms geëksperimenteer. Kyk hy nou terug, besef hy haar psigiese siekte was die probleem, nie die verslawing nie. “Sy was bipolêr. Die dwelms was bloot ’n manier om dit te beheer,” sê hy. Sy was nie iemand wat vir die pret bedwelmd wou raak nie.

Carrie en haar dogter, Billie Lourd.

“Dit was ’n geval van: “Ek moet hierdie k** afskakel (in haar brein). Sy het dit altyd vir my as ’n feit gestel: ‘Ek kan dit nie afskakel nie.’ ”

“Daar was nooit ’n tyd dat ek en Carrie nie na aan mekaar was nie,” skryf Todd in My Girls; “daarom het ek die beste en slegste tye in haar lewe voor my sien afspeel. Sy kon die briljantste suster vol pret en my beste vriendin wees – en dan in ’n oogwink teen my draai . . . Ek het dit net aanvaar as Carrie wat Carrie is.”

’n Paar weke voor die 20th Century Fox-vertoning vir die akteurs en kameraspan van die eerste Star Wars (1977) het Todd ’n dringende oproep van sy suster se verhuurder gekry om so gou moontlik na haar huis te kom. Hy het haar bewegingloos op haar maag op die vloer aangetref, ten volle geklee, omring deur braaksel. Dit was ’n skok, “maar ook nie”.

In die orige drie dekades van haar lewe was Carrie soms “lang tye” stabiel, sê Todd. Sy het behandeling in rehabilitasieklinieke beproef en elektro-skokterapie ondergaan. Soms kon daar selfs ’n jaar lank geen probleme wees nie, maar sy kon nooit haar siekte volkome oorwin nie en haar gemoedskommelings het intenser geraak.

In 1997 het sy eenkeer ses dae lank wakker gebly, al het dokters haar genoeg medikasie gegee “om ’n olifant te laat slaap”.

‘As ek nie voluit sou leef en die lewe terdeë geniet nie, sou my ma vies gewees het’
As ’n baba saam met Carrie, Debbie en sy pa, Eddie Fisher.

Nogtans het Carrie haar toneelspel-repertoire uitgebrei, met ’n loopbaan as skrywer begin en tussendeur ’n gesogte “draaiboekdokter” in Hollywood geword. Sy het ’n wisselvallige “hoë-energie”-verhouding gehad met die sanger Paul Simon, met wie sy kortliks getroud was. In 1992 het sy ’n dogter, Billie, gehad. Die pa, Bryan Lourd, was ’n talentagent wat haar vir ’n man gelos het.

Haar eenvrou-verhoogstuk was ’n reusetreffer. In 2015 het die Star Wars-fliekreeks herleef met haar in ’n prominente rol. Ten tyde van haar dood wou sy ’n huis in Londen koop en ’n deel van die jaar daar woon.

Todd se lewe het ook rustiger geraak. Nadat sy eerste vrou hom vir een van sy beste vriende gelos het, was hy en sy tweede vrou, Christi Zabel, 20 jaar lank saam. Sy was ’n gemeentelid van die progressiewe kerk wat hy in die weste van Los Angeles help stig het.

Hy het haar drie kinders uit haar eerste huwelik soos sy eie grootgemaak. Sy is in 2008 aan kanker dood. Twee jaar later het hy sy huidige vrou, Catherine Hickland, ontmoet. Eddie is in 2010 op 82 oorlede. Sy seun het “geen traan gestort nie”, maar dit het Carrie “baie, baie swaar getref”.

Sy wou haar lewe lank haar pa se guns wen en het dit eers in sy laaste jare reggekry. Sy het toe by hom gesit terwyl hy die een zol ná die ander in sy rolstoel gerook het. Debbie, wat haar kinders geleer het “ ‘kan nie’ is woorde wat nie in ons familie bestaan nie”, het aanhou optree en ’n derde, nog katastrofieser huwelik met ’n swendelaar van Virginië oorleef.

“Maar in Augustus 2015 het sy ’n beroerte gehad waarvan sy nooit volkome herstel het nie. Sy kon nie langer haarself wees nie. Sy kon nie optree nie,” sê Todd. “ ’n Reusestuk van haar lewe was weg.”

Vir hom was dit die moeilikste om die laaste deel van die boek te skryf. Hy sê om Billie se besluit te herleef om die masjiene wat Carrie aan die lewe gehou het op 27 Desember af te skakel, was die soort ervaring “wat jou hart uitruk”. ’n Groot troos is die wete “dat ons alles gesê het wat ons vir mekaar moes sê, talle kere. En belangriker nog, ons het dit gewys; ons het dit nie net gesê nie.”

Daar is ook die wete dat “my ma vir my kwaad sou gewees het as ek nie met my lewe sou aangaan nie,” sê hy. “As ek nie voluit sou leef en die lewe terdeë geniet nie, sou sy vies gewees het. Want sy sou heel laaste vir my gesê het, en party kan dit dalk verkeerd opneem, maar dis waar, sy sou gesê het: ‘Jy’s vry.’ ”

Ons stap deur na die groot gedeelte aan die agterkant van die Hollywood Motion Picture Experience met ateljeeruimte en ’n klankverhoog. Daar is ’n reuse-MGM-ateljeelamp wat Todd sê hy byna seker is vir Gone with the Wind gebruik is en ’n vollengte-Star Wars C-3PO (robotkarakter).

En ook, ietwat misplaas, is KITT – die intelligente swart Pontiac-sportmotor met flitsende rooi ligte op sy voorste sierrooster uit die televisiereeks van die 1980’s Knight Rider. Todd se vrou, Catherine, het daarin gespeel en was eens met David Hasselhoff getroud.

“Sy het hom vir my ingeruil: Ek is wat jy ’n veilige opsie noem,” sê Todd met ’n grinnik. Hulle woon op ’n erf van 2 ha op die randjie van Vegas met ’n klompie hoenders. Die stad was vir hulle aanloklik grotendeels vanweë Catherine se loopbaan – sy is aktrise, skrywer, verhooghipnotiseur en entrepreneur – maar ook omdat Todd hier ’n groter vis in ’n kleiner dam kan wees.

“Weet jy, ek’s nie Spielberg nie,” sê hy ietwat verleë, “maar hier is ek.”

Selfs nou nog gooi sy suster en sy ma groot skaduwees, erken hy.

“Maar ek het nooit daarmee gesukkel nie,” voeg hy ná ’n oomblik se huiwering by. “Ek hou van die skadu.”

© Ben Hoyle / The Times Magazine / News Licensing
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/AFP, Great Stock/Splash News