Len Muller
Die sanger Len Muller en sy vrou, Chanél, gaan ouers word. Foto: Facebook/Len Muller

Hy het weke lank gebrand om die nuus met aanhangers te deel, vertel die sanger en liedjieskrywer Len Muller opgewonde. Maar vandag kan hy die nuus nie langer vir homself hou nie: hy gaan pa word.

Die sanger en sy vrou, Chanél (32), het in Desember verlede jaar gehoor hulle gaan ouers word. 

“Chanél was so vyf weke swanger, maar ons wou die nuus vir eers stilhou – ten minste net tot die eerste paar weke verby is,” vertel Len (37) Dinsdag aan Huisgenoot.

Len Muller
Die sanger het Dinsdag ’n sonarfoto in die sosiale media gedeel. Foto: Facebook/Len Muller

Dinsdag het ’n trotse Len in die sosiale media laat hoor: “Alles wat my kop nou bekommer, kan wag tot jy sag in my arms slaap. Die hele wêreld kan wag, want jy is welkom, klein mensie, en jou plek is gereed.”

Die sanger vertel hulle het onlangs van Gauteng na die Wes-Kaap verhuis en het in die laaste maande dikwels oor ouerskap gesels. Hulle het selfs ’n lysie vol drome teen hulle yskasdeur gehad. Dit lees: “Huisie in die Kaap, leer surf, leer Zoeloe, skryf ’n Zoeloe-liedjie, toer Nederland, familie . . .”

Nou is daar regmerkies langs die huisie in die Kaap, hy kan al branderplankry en basiese Zoeloe praat én hulle word nou ’n gesin.

“Nadat ons ’n huis hier gekoop het en ons in die Wes-Kaap gevestig het, het ons baie daaroor gepraat om ouers te word. Die seisoen in ons lewe is reg daarvoor; daarom was ons albei verskriklik opgewonde en dankbaar toe ons hoor Chanél is swanger,” vertel hy.

Dit gaan goed met Chanél, sê Len. Sy is ’n vervaardiger vir die produksiehuis Nagvlug Films.

“Ek dink die grootste uitdaging vir ons albei gaan wees om 'n bietjie tot rus te kom,” terg Len. “Ons albei is maar lekker bedrywig, maar dis vir ons belangrik om ook stil te staan en elke oomblik van hierdie pad te waardeer.” 

Len Muller
Die “lysie vol drome” op Len en Chanél se yskasdeur. Foto: Facebook/Len Muller

Dis vir hom “interessant” hoe elkeen van sy albums vertel het van die seisoen wat hy beleef het, sê Len. Sy jongste album is getiteld Oorgenoeg. “En hoe merkwaardig is daardie titel nie nou nie?” wil hy weet. 

Dan antwoord hy sommer self: “Sommer so sonder dat ek dit besef het, het die titel die volgende seisoen in my lewe beskryf. Ons is skatryk, al het ons nie miljoene nie – daar is vir ons oorgenoeg.” 

Die egpaar sal waarskynlik eers in Februarie weet of hulle ’n seuntjie of dogtertjie verwag. Maar intussen, terg Len, is hy in elk geval maar besig met die groot trek motorhuis toe.

“Ek gaan die motorhuis in my nuwe ateljee omskep,” sê Len. “Intussen wil ons 'n bietjie verf en begin om die kamer in te rig. Maar ons het geen verwagtings nie – ons hoop nie vir die een of die ander nie. Ons is reg vir ’n seuntjie of ’n dogtertjie, ons het die grootste seën immers klaar ontvang.”