Hul seuntjie is op Vrydag 23 Julie om 15:01 in die Melomed Tokai-hospitaal in Kaapstad gebore. Die kleinding, wat Arend Leonard heet, het 3,8 kg by geboorte geweeg. 

Len en Chanél, ’n vervaardiger van die produksiehuis Nagvlug Films, se seuntjie se naam is baie spesiaal vir hulle. 

“Ons wou graag iets profeties oor hom gebid het. Ons het eendag op die strand in Muizenberg gesit en na die see gekyk. Die naam Arend het by my vrou opgekom en toe sy dit vir my sê, het ek ook in my hart gevoel dit is sy naam,” vertel Len aan Huisgenoot. 

Die sanger Len Muller se seuntjie is Vrydagmiddag
Die sanger Len Muller se seuntjie is Vrydagmiddag gebore. Foto: Verskaf

Hulle het toe besluit op Arend Leonard. “Ek is Leonard Barend so dit rym,” vertel hy trots. 

Len en Chanél het in Desember verlede jaar uitgevind dat hulle vir die eerste keer ouers gaan word, maar het eers die nuus in Januarie vanjaar in die sosiale media verklap. 

“Chanel was so vyf weke swanger, maar ons wou eers die nuus stilhou – ten minste tot die eerste paar weke verby is,” het Len toe vertel. 

'n Trotse pa
Die trotse pa met sy seuntjie, Arend. Foto: Verskaf

Hulle het in April vanjaar die geslag van hul seuntjie bekendgemaak. 

Die sanger vertel hy het begin huil toe hy hul seuntjie vir die eerste keer sien.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring vir my en ek was heeltemal oorweldig deur emosie. ’n Mens weet eintlik nie wat om te dink nie. Ek verstaan nou vir die eerste keer as mense sê jou wêreld word so half op sy kop gedraai as dit gebeur met jou. Dit is absoluut ’n wonderwerk,” koer hy.

View this post on Instagram

A post shared by Len Muller (@lennie.muller)

Pa en seun het sommer in die hospitaal al ’n lekker band gesmee. “Dit was lekker om met hom te bond in die hospitaal.” 

Die egpaar sê hulle sien uit na die nuwe hoofstuk in hul lewe. “Ons roetine is ’n bietjie aangepas, maar ons maak dit werk en vat dit stappie vir stappie. Op hierdie stadium is mamma en babatjie gesond en gelukkig en dis my prioriteit,” sê Len. 

Len en klein Arend in die hospitaal
Len en klein Arend in die hospitaal. Foto: Verskaf

Sy grootste wens vir hul seuntjie is dat hy sy roeping sal uitleef en ontdek. “My gebed is dat hy ’n man van geloof sal wees. Geloof het my al meer gedra as enigiets anders in die lewe so ek dink as hy geloof het sal hy ver kom.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.