Lewis het onlangs sy Britse bulhond, Roscoe, op ’n veganistiese dieet gesit, en sedertdien het Roscoe ’n huppel in sy stap, sê die F1-renjaer. “Hy het nie meer asemhalingsprobleme nie, sy keel is nie meer vernou nie en hy oorverhit nie soos voorheen nie. Dit het sy lewe verander.”

Asemhalingsprobleme is taamlik algemeen by Britse bulhonde weens die ras se kort, plat gesig. Maar Lewis (35), wat al jare lank ’n veganis is, sê sedert die verandering aan sy dieet is Roscoe (8) weer soos ’n klein hondjie.

“Dit was wonderlik om die veranderings in Roscoe te sien en ek is dankbaar om dit te kan deel,” sê hy.

Maar die Britse Formule 1-wêreldkampioen word gekritiseer oor hy ’n potensieel gevaarlike dieet vir troeteldiere bevorder en dierevoedingkundiges maan ’n vleislose dieet vir honde kan meen hulle kry te min noodsaaklike vitamiene in. 

Volgens die Australiese televisie-veearts dr. Scott Miller kan ’n veganistiese dieet uiters gevaarlik vir honde wees.

“Honde en katte het skerper tande vir vleis vang. Soveel soos dit sin maak vir jou om ’n veganis te wees, sal dit problematies wees wat jou troeteldiere betref,” sê hy.

As jy wel besluit om jou troeteldier op ’n veganistiese dieet te sit, moet jy sorg dat hulle die regte balans van aminosure en ander voedingstowwe inkry, sê dr. Ingrid de Wet, senior veearts by EberVet Country Animal Clinic in Somerset-Wes in die Wes-Kaap.

“Al kan honde plantaardige diëte hanteer is hulle nie ten volle aangepas om dit te verteer nie. Honde het ’n spesifieke balans van aminosure in hul dieet nodig om optimale gesondheid te verseker,” sê sy.

“’n Tekort aan aminosure kan hartproboleme veroorsaak. Dit is veel makliker om te sorg dat hulle ’n gebalanseerde dieet het as hulle ’n vleisgegronde dieet eet.”

Troeteldiereienaars moet hul veearts raadpleeg voor hulle hul troeteldier se dieet verander, beveel sy aan. Ingrid sê dit is belangrik om te besef honde het verskillende voedingsvereistes afhangend van hul ras, ouderdom en grootte.

“’n Grootras-babahond soos ’n labrador moet byvoorbeeld op ’n heel ander dieet as ’n 12-jarige Yorkshire-terriër wees. En sekere mediese toestande sal verskillende diëte verg.”

’n Hond met pankreatitis of artritis het byvoorbeeld ’n ander dieet nodig as ’n hond wat andersins gesond is. “Dit is belangrik om jou hond vir ’n jaarlikse ondersoek by jou veearts te neem en jou hond se ouderdom en voedingsvereistes te bespreek, en hulle sal die regte dieet vir jou hond aanbeveel.”

Vir katte is ’n veganistiese dieet heeltemal taboe, voeg sy by. Anders as honde, wat omnivore is, is katte ware karnivore en “hulle vereis vleisproteïene,” sê sy.

Bronne: Mirror.co.uk, DailyMail.co.uk