Lieb Bester in Villa Rosa.
Lieb Bester in Villa Rosa.

Foto's uit sy album het die lewe van Lieb voor die diens laat afspeel op die maat van sy gunstelingliedjies soos Bette Midler se "The Rose" en sy trekklavier se klanke, waarvoor hy ook bekend was.

“Ek het gebid en gevra dat die Here my help vanmiddag,” vertel ds. André Bester van die Evangelies-Gereformeerde Kerk in Rietfontein, Pretoria, wat die diens gelei het. Ouboet Lieb het met sy afsterwe al twee jaar by André en sy vrou, Annatjie, in die pastorie gebly.

“Hy was vir my ook soos ’n pa,” vertel André. Byna 1 000 mense het op YouTube regstreeks na die diens gekyk.

“Toe ek langs hom staan, kon ek die vrede op sy gesig sien,” onthou hy die laaste keer toe hy by Lieb in die hospitaal was. “Ek weet wat ek weet. My ouboet is by die Here.”

Ds. André Bester van die Evangelies-Gereformeerde
Ds. André Bester van die Evangelies-Gereformeerde Kerk in Rietfontein, Pretoria, lei sy boetie, Lieb Bester, se gedenkdiens. Foto: YouTube

In die kar daardie Woensdagoggend op pad terug van die hospitaal af, het André gedink aan almal wat Lieb vooruit gegaan het, soos “Sunétjie”. Sy is op 3 Julie 2002 saam met Lieb se eks, Hanlie (40), dood tydens ’n gesinsmoord waarby die stiefpa betrokke was. Nicole (toe 10) het die skietwond aan haar maag oorleef.

Aanvanklik het Lieb die covid-virus “wonderbaarlik” – volgens sy internis – oorleef, maar hy het toe die een ná die ander terugslag beleef. Hy is op 21 Julie om halfses die oggend in die hospitaal dood. Sy niere het ingegee.

André preek uit 2 Kor. 5 vers 1 tot 10. “Die Sondagaand voor sy dood het ek ook hieruit gepreek,” vertel die dominee.

Lieb het dit oor Facebook gevolg. Sy oë was vol trane toe André by die huis kom. “Wát 'n boodskap, Boetie,” het hy gesê.

“Hoe gaan ek hom op daardie stoel mis,” sê André en beduie in die rigting van die orrel. Lieb was die afgelope “jaar en ’n bietjie” die kerk se orrelis. Telkens as hy tydens sy preek na Lieb gekyk het, het hy “geskud soos hy huil oor die Woord wat hom raak”.

Lieb se vriend Chris Coetzer sing Koos du Plessis
Lieb se vriend Chris Coetzer sing Koos du Plessis se “Gebed”. Hy vertel Lieb was sy “pa” in die musiekbedryf. Foto: YouTube

Lieb se vriend Chris Coetzer het Koos du Plessis se “Gebed” gesing. Hy het vertel Lieb was sy “pa” in die musiekbedryf.

’n Dag wat André altyd sal onthou was in 1996. Lieb hom gebel en vertel die “wonderlikste ding wat met iemand kan gebeur" het nou net met hom gebeur. Hy het Christus as sy Saligmaker ontmoet: ‘Hy het my kosbare siel gered.’

Toe André Woensdag met Lieb se afsterwe in sy kamer ingegaan en daar soos ’n kind gehuil het, het hy op Lieb se Bybel afgekom. Hy het opgemerk dat dit nie soos syne volgeskribbel is nie.

Lieb Bester
Lieb Bester

Daar was net plek onderstreep: Efesiërs 4 vers 31 en 32: “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”

Daar neffens was ’n inskrywing in Lieb se handskrif: “Op 26 Julie 1996 het ek hierdie sonde van my bely teenoor die Here. Die opregte gebed van my hart is dat ek voortaan in die krag van Jesus en die Heilige Gees sal lewe.”

Ds. André Bester en sy vrou Annatjie. Foto: Verska
Lieb se broer, ds. André Bester, en sy vrou, Annatjie. Foto: Facebook

“Die afgelope twee weke het hy oorgeloop van dankbaarheid vir al die steun en kommer van mense oor sy gesondheid en dat die Here so goed vir hom was,” vertel André. “Dit is wat vir my uitstaan. Die onophoudelike dankbaarheid van hom,” vertel hy.


“Ek het die groot voorreg gehad om hom te ontmoet tydens verfilming van Ietermagô (kykNET). In persoon was hy so imposant soos op die groot skerm. Simpatie aan familie en vriende van Lieb Bester," skryf Heidi Morgan tydens die diens op YouTube in die kommentare.

Ene “naturegirl51” skryf: “Hy was my army maatjie . . . Ek koester wonderlike herinneringe in my hart . . . Ons het baie aande saam gelag, gehuil, kitaar gespeel en na Koos Doep se musiek geluister op sy sitkamermat in Sunnyside.”

Lieb het sy debuut gemaak in 1969 as akteur in die toneelstuk Die ryk weduwee van Uys Krige. Sy eerste rolprent was die Seun van die wildtemmer in 1973. Hy was veral bekend vir sy rol as Fritz Retief in die destydse kykNET-sepie Villa Rosa.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe