“Ek en James voel altyd ons is wêreldburgers; ons bly waar die werk is en waar ons albei is,” vertel Anel, wat al vir sowat drie en ’n half jaar in Los Angeles in Amerika woon.

Maar toe die nasionale inperking weens die coronavirussiekte COVID-19 in Suid-Afrika aangekondig word, was Anel in Suid-Afrika gestrand terwyl James nog in Amerika was.

View this post on Instagram

Love is: Traveling halfway around the world during a pandemic and being willing to go into quarantine for somebody for 2 weeks not knowing where you’ll end up! I know this lockdown has been tough for everybody and everybody has a story. My story is I’ve been on a different continent from my husband and home. This has been… interesting. Needless to say, it’s been James and my main priority to just try and get to each other, which is easier said than done. But thanks to so many known, and unknown, people I can finally say (with a big sigh of relief!) both the Alexanders are currently on SA soil! It’s been an operation of note to make this possible and I just want to thank every single person along the journey. Thank you to the many staff members on the ground at the 5 airports James had to go through, the staff on @flysaa that were willing to crew the repatriation flight (they all have to go into quarantine too), to The Embassy of the Republic of South Africa in the United States, HomeAwayFromHome ?????? South Africans stuck in the USA Support (thank you Rayray Bads, Beatrix Herbst and Trixie Purtill). A huge thank you to Merinda Rodseth for your perfectly timed message and then last but certainly not least, thank you Chloe and Michael for taking care of our dogs. There is light (and a James!) at the end of the tunnel! #SAtoLAtoSA #Corona2020

A post shared by Anel Alexander (@anelalexander1) on

Toe Suid-Afrika aan die begin van Mei die beperkings van die inperking stelselmatig begin verslap het, het daar gelukkig ’n geleentheid ontstaan vir James om hom by sy vrou in Suid-Afrika aan te sluit.

“James vertel die hele proses het so goed gegaan soos dit moontlik onder die omstandighede kon gaan,” vertel Anel oor die sowat drie dae se reis wat James moes aflê om in Suid-Afrika te kom. Hy moes eers van Los Angeles na Atlanta vlieg voordat hy ’n vlug van daar af na Washington DC kon kry. Op Washington DC moes hy 12 ure wag voordat hy eindelik die vlug van 16 en ’n half ure Suid-Afrika toe kon kry.

Anel was besig om aan ’n nuwe televisiereeks in Suid-Afrika te skiet toe die COVID-19-pandemie halt op die produksie geroep het. James sou in April vir haar uit Amerika kom kuier het, maar alle vlugte na Suid-Afrika is weens die inperking gekanselleer.

“Ek sien vreeslik uit om my man te sien, en nie net omdat hy vir my ’n warm jassie bring nie,” skerts sy oor die feit dat hy ook vir haar warm klere moes saambring.

Anel Alexander
Foto: Verskaf.
Anel Alexander
Foto: Verskaf.

James is tans in kwarantyn in ’n hotel aan die ooste van Johannesburg, terwyl sy ook in dié stad in ’n gastehuis woon.

James het op 11 Mei in Suid-Afrika geland. Sy hoop egter dat hy, nes sommige ander mense wat al voorheen deur die proses is, voor die twee weke om is uit kwarantyn gelaat sal word as sy toets negatief is.

“’n Verpleegster kom een keer ’n dag om hul temperatuur te meet en ’n dokter het hulle eergister vir die coronavirussiekte kom toets. Hulle sal oor vier dae die uitslae terugkry,” vertel sy opgewonde.

“Ek dink hy het homself voorberei vir die ergste, so nou is ’n driester-hotel vir hom soos ’n vyfster-hotel,” sê Anel. “In sy eie woorde: ‘Everything has been plenty fine’,” lag sy.

Dit help ook dat James tans WiFi het. “Dít is vir my natuurlik die belangrikste, want dan kan ek darem met my man kontak hê,” vertel sy.

“Dankie tog vir tegnologie. James sê nou die dag, as hierdie ding 15 jaar terug moes gebeur het, sou dit aansienlik moeiliker vir ons gewees het,” vertel sy ietwat verlig.

“James en ek is nou al 17 jaar getroud. Ons is beste vriende en besigheidsvennote; hy is mý persoon.”

Anel Alexander
Foto: Verskaf.
Anel Alexander
Foto: Verskaf.

Hulle is gewoond daaraan om baie weg van mekaar te wees, maar het gewoonlik ’n limiet. “Ons weet ons is gewoonlik nie langer as ses weke weg van mekaar af nie, dan gaan ek na hom toe of hy kom na my toe,” verduidelik Anel.

“Ons het redelik vroeg is ons huwelik agtergekom geen fliek of televisiereeks is die moeite werd om ons verhouding op te offer nie,” voeg sy by.

En hoe nader tyd kom om weer haar man te sien, hoe meer opgewonde raak Anel. “Ek sê altyd: ‘James is soos om in ’n pretpark te bly.’ Ek mis sy grappies, ek mis die simpel liedjies wat hy heeldag sing en die karakters wat hy deur die dag speel,” sê sy.

Vir nou kan die tweetjies nie te veel aan die toekoms beplan nie, maar sy voel bevoorreg dat sy as vryskutaktrise voor die inperking besig was met ’n projek. “Ek moet nog twee en ’n half maande lank skiet aan die televisiereeks. James het ’n projek wat vir hom in Los Angeles wag, maar hy weet ook nie wanneer dit weer gaan begin nie,” vertel Anel.

Verder is Anel ook besig om as skrywer en vervaardiger aan Semi-Soet 2 te werk, maar weens die coronavirussiekte weet hulle nog nie wanneer hulle aan die opvolgfliek kan begin verfilm nie.

Vir tyd en wyl sal Anel en James in Suid-Afrika woon, terwyl hulle wag vir die toekoms om ’n bietjie meer klinkklaar te raak. Maar vir nou is Anel oor een ding seker. “Ek is geweldig dankbaar dat my man veilig hier is en dat ek hom hopelik een van die dae weer gaan kan sien,” vertel sy opgewonde.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.