Hy wou dit as ’n geleent­heid gebruik om sy kant van die storie te vertel, maar toe maak hy ’n ontstellende si­tuasie net nog erger.

Dele van prins Andrew se onderhoud met die hardekoejawel BBC-joernalis Emily Maitlis was amper te moeilik om na te kyk: Vyf en veertig minute lank het kykers die koningin se witbroodjie in sy stoel sien wriemel terwyl Emily hom met uitdagende vrae oor sy ondeurdagte vriendskap met die veroordeelde seks­oortreder Jeffrey Epstein peper.

Dié verhouding het hom sy reputasie en pos as Britse handelsgesant gekos en eindelose kopsere vir koningin Elizabeth en die koninklike familie veroorsaak.

Kykers het tydens die onderhoud gehoor van ’n vreemde “toestand” waaraan Andrew (59), die agtste aanspraakmaker op die Britse troon, beweer hy ly en wat dit glo vir hom onmoontlik maak om te sweet. Hy het ook lank gebabbel oor ’n besoek wat hy in 2001 aan ’n pizzarestaurant gebring het.

Die prins meen dié twee brokkies inligting bewys sonder twyfel hy het nooit seks gehad met ’n 17-jarige meisie wat Epstein na bewering na die Britse hoofstad gebring het om by die prins te slaap nie.

Maar sy brabbelpraatjies het kykers nie oortuig hy het werklik niks geweet van die donker seksgeheime wat sy oorlede vriend jare lank probeer wegsteek het nie.

“Hy kon skynbaar self nie glo wat uit sy mond kom nie,” skryf Suzanne Moore van die koerant The Guardian.

Kritici vra ook hoekom hy gedink het dis ’n goeie idee om op televisie te ver­skyn as hy steeds huiwerig is om met die Amerikaanse speurdiens te praat. Dié ondersoek steeds Epstein se vermeende sekshandelnetwerk ná sy skielike dood in Augustus vanjaar.

Epstein se lyk is in sy tronksel aan­getref nadat hy homself oënskynlik opgehang het terwyl hy verhoorafwagtend was op aanklagte van sekshandel. Ver­skeie jong meisies is by die saak betrek.

Maar Andrew is klaarblyklik nie spyt hy het hom bevriend, na ’n skietnaweek by die koninklikes se Sandringham-landgoed of na sy dogter prinses Beatrice se 18de verjaardag by die Windsorkasteel genooi nie . . .

In die BBC-onderhoud het hy vertel hy is wél spyt Epstein “het hom duidelik onvanpas gedra”.

Onvanpas? Dis ’n vreemde woord om te gebruik om ’n veroordeelde seks­oortreder te beskryf, merk Emily dan in die onderhoud op. En nes baie van Andrew se opmerkings in die omstrede onderhoud maak dit eenvoudig nie sin nie.

VRIENDSKAP MET ’N SEKSPES

Andrew vertel in die onderhoud hy het Epstein in 1999 deur die miljardêr se destydse meisie, Ghislaine Maxwell, ontmoet.

“Dit sou oordrywing wees om te sê ons was hegte vriende,” sê Andrew. “Ek skat ek het hom een of twee keer per jaar, miskien hoogstens drie keer per jaar, gesien.”

LIEG HY?

Epstein se huishouer het vroeër getuig Andrew het die gevalle finansier se huis in Palm Beach, Florida, sowat vier keer per jaar besoek en daagliks ’n massering gekry. Emily vra Andrew prontuit of daar enige kans was dat die masserings uitgevoer is deur iemand wat Epstein seksueel uitgebuit of verhandel het.

“Nee, ek dink nie . . . ek bedoel ek . . . nee,” stotter hy. “Beslis nie, beslis nie, en ek het beslis nie sy Palm Beach-huis drie of vier keer per jaar besoek nie, absoluut nie.”

Maar hy ontken nie dat hy masserings gekry het nie.

DIE INKRIMINERENDE FOTO

Saam met Virginia Roberts (toe 17) op die aand wat
Saam met Virginia Roberts (toe 17) op die aand wat hulle glo seks gehad het.

Die foto van die prins met sy arm om die kaal middellyf van die 17-jarige Virginia Roberts werp al jare lank ’n skaduwee oor Andrew se reputasie.

Virginia (nou 35) beweer sy is op 10 Maart 2001 aan die prins voorgestel en dat hulle seks gehad het nadat hulle die aand in die nagklub Tramp partytjie gehou het.

Sy hou ook vol sy is gedwing om op twee ander geleenthede met die prins seks te hê – een keer by Epstein se huis in New York en nog ’n keer tydens ’n orgie op die miljardêr se privaat eiland waarby sewe of agt ander meisies betrokke was.

Maar Andrew ontken hy het ooit met haar seks gehad. Hy beweer trouens hy kan glad nie onthou dat hy Virginia ontmoet het nie en het selfs so ver gegaan om kenners aan te stel om te bepaal of die foto vals is.

LIEG HY?

Kenners meen dit is onwaar­skynlik dat die foto gedokter is, want in 2001 was sulke fotomanipulerings­tegnieke nog nie gevorderd nie.

NIE DIE DRUKKIE-SOORT NIE

In die onderhoud sê hy dis nie eintlik regverdig dat hy as “die partytjieprins” bekendstaan nie.

“Ek weet nie hoekom ek dié titel gekry het nie, want ek het nooit eintlik partytjie gehou nie. Ek het nooit juis die behoefte ervaar om te gaan partytjie hou nie.”

Die partytjieprins in aksie. Saam met Pascale Bour
Die partytjieprins in aksie. Saam met Pascale Bourbeau in 2007.
Saam met Chris Von Aspen by nog ’n partytjie in 20
Saam met Chris Von Aspen by nog ’n partytjie in 2007.

Hy sê ook die intieme foto van hom en Virginia is uiters ongewoon.

“Ek is nie iemand wat eintlik drukkies uitdeel nie, en die openbare vertoon van toegeneentheid is nie iets wat ek doen nie,” sê hy.

Virginia beweer Andrew het vreeslik gesweet terwyl hy in die nagklub met haar gedans het. Maar die prins sê ook dit is ’n leuen.

“Ek het nie destyds gesweet nie, want ek het gely aan wat ek as ’n oordosis adrenalien sou beskryf in die Falkland­oorlog toe op my geskiet is, en ek het bloot . . . Dit was vir my amper onmoontlik om te sweet.”

LIEG HY?

Die Britse media het hulle daarin verlekker om bewyse te versamel van waar die prins op verskeie geleent­hede partytjie hou en met ’n verskeidenheid beeldskone vroue vatterig raak – en in party gevalle baie sweterig lyk.

RAAISELAGTIGE PIZZA

Kan jy onthou wat jy vyfuur die middag op 10 Maart 2001 gedoen het? Prins Andrew beweer hy kan. Hy het saam met prinses Beatrice by die Pizza Express in Woking, Surrey, ’n partytjie bygewoon, hou hy vol.

“Pizza Express in Woking is ’n ongewone ding vir my om te doen, ’n baie on­gewone ding,” sê hy. “Sodra iemand my daaraan herinner het, het ek dadelik gesê: ‘O ja, ek onthou dit.’ ”

LIEG HY?

Baie kykers het dit vreemd gevind dat hy die pizzapartytjie so duidelik onthou terwyl sy geheue hom skynbaar tydens die onderhoud oor ander belangriker dinge in die steek gelaat het.

WANDELING IN DIE PARK

Andrew het ook gesukkel om ’n foto te verklaar waarop hy en Epstein in Desember 2010 in Central Park in New York stap, ’n paar maande nadat sy vriend uit die tronk vrygelaat is nadat hy 13 maande vir prostitusie met ’n minderjarige uitgedien het.

Die foto, tesame met die onthulling dat Epstein Andrew se eksvrou, Sarah Ferguson, £15 000 (toe sowat R105 000) gegee het om haar skuld te help afbetaal, het so ’n herrie veroorsaak dat die prins verplig was om uit sy pos as Britse spesia­le handelsgesant te bedank.

Andrew beweer toe die foto geneem is, het hy vir Epstein gesê dit was nie meer gepas dat hulle enige kontak het nie. Hy was in daardie stadium vir sake in New York en het besluit om sy vriend van aangesig tot aangesig te konfronteer.

“Ek het gevoel om dit oor die foon te doen was die lafaard se manier om dit te doen. Ek moes hom gaan sien,” sê Andrew.

LIEG HY?

Virginia beweer Epstein het haar as ’n seksslaaf g
Virginia beweer Epstein het haar as ’n seksslaaf gebruik vir sy magtige vriende.

Dit blyk Andrew het voor die wandeling in die park ’n paar dae in Epstein se huis gewoon. En hy was inderwaarheid ’n eregas by ’n dinee wat gehou is om sy pel se vrylating uit die tronk te vier.

Hoekom dit alles doen en dan op die tweede laaste dag wag om die vriend­skap te beëindig, vra kritici . . .

HET HY GEWEET WAT EPSTEIN AANVANG?

Andrew sweer hy het geen idee gehad wat aangaan nie.

“Ek het nooit . . . Ek bedoel as daar (minderjarige meisies saam met Epstein) was, dan was ek nie deel van enige daarvan nie. Ek het hulle nooit gesien nie.”

LIEG HY?

Op nog ’n foto wat van sy besoek in 2010 gepubliseer is, kyk Andrew toe terwyl Epstein sy huis saam met ’n jong vrou verlaat. Die outeursagent John Brockman het later onthou dit was ­tydens dié besoek dat hy Andrew ’n voetmassering by ’n jong Russiese vrou  sien kry het.

Virginia sê dis onmoontlik dat Andrew in die duister kon wees oor wat gebeur het.

“Jy kon nie tyd om Epstein deurbring en nie weet wat aangaan nie,” sê sy.

Die volledige onderhoud

BRONNE: THESUN.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK
FOTO'S: BBC, PAN MEDIA
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.