Hy het die liedjie met ’n wilde kreet aangehef, sy klavier gemoker en met ’n skril, plofbare stem gesing, skynbaar voortdurend op die rand van histerie. Dit was in 1955, en met sy eerste treffer, “Tutti Frutti”, het Little Richard ander vroeë rockers soos Bill Haley en Elvis Presley sowaar hondmak laat klink.

Hoe belangrik die Amerikaanse legende in die geskiedenis van popmusiek was, kan nie oorbeklemtoon word nie. Toe die musiektydskrif Rolling Stone hom agtste plaas op ’n lys van die grootste vermaakkunstenaars in die geskiedenis, was al sewe in die posisies bo hom sterk deur hom beïnvloed.

Vir Paul McCartney was hy bloot “die koning van rock ’n’ roll”. Vir Keith Richards van die Rolling Stones was dit die grootste oomblik van sy lewe toe hy in 1963 saam met hom op die verhoog ver­skyn het. ’n Jong Bob Dylan het in sy skooljaarboek geskryf sy ambisie is “om by Little Richard aan te sluit”.

David Bowie het ’n saxofoon gaan koop nadat hy ’n plaat van hom gehoor het. Hy het Elton John geïnspireer om klavier te speel. En Jimi Hendrix, wat as groentjie in Richard se agtergrondorkes gespeel het, het gesê hy wil “met my kitaar doen wat Little Richard met sy stem doen”.

Ook Michael Jackson en Prince het van sy invloed op hul musiek getuig.

Toe die nuus daarom bekend geword het dat Little Richard op 87 aan been­kanker dood is, het aanhangers aan die groter-as-lewensgroot pionier hulde gebring.

Sy teatrale en passievolle styl het baie te danke gehad aan gospel en die Suidelike evangeliste wat hy in sy jeugjare hul gehore hoor opsweep het. Maar hy het die preekstyl byna ’n demoniese byt gegee deur sonder enige inhibisies te sing.

As kind wou hy predikant word, en op die hoogtepunt van sy sukses het hy oortuig geraak hy stuur op die verdoemenis af. Om daarvoor te vergoed het hy by ’n teologiekollege ingeskryf en sekulêre musiek gelos om met ’n godsdienstige vertoning te toer. As deel daarvan het hy ’n preek afgesteek ook: “Hoekom ek die vermaakbedryf verlaat het.”

Little Richard in 1962 terwyl hy in ’n kerk preek.
Little Richard in 1962 terwyl hy in ’n kerk preek. Hy was ver­skeur oor sy geloof en sy lewe as rockster. Hy het in ’n stadium gesê: “Ek sou van ’n orgie af opstaan en my Bybel gaan optel.” Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe hy in die vroeë 1960’s daarna terugkeer, was populêre musiek aan die verander. Maar die ritmegroepe wat gou die eerste geslag rocksterre sou oor­skadu, het almal groot ontsag vir hom gehad. Tydens sy Britse toer in Oktober 1962 het hy die Beatles na die tweede plek op die trefferlys laat afskuif.

Paul McCartney het die geleentheid aangegryp om sy sangtegniek te bestudeer en na te boots.

“Dis soos ’n buiteliggaamlike ervaring,” het hy gesê. “Jy moet wat jy nou voel, agterlaat en sowat ’n voet bo jou kop styg om dit te sing.”

Die volgende jaar het die Rolling Stones hom ondersteun. Ook Mick Jagger was vol bewondering vir hom.

Saam met Mick Jagger op die verhoog. Foto: Shutter
Saam met Mick Jagger op die verhoog. Foto: Shutterstock

“Hy het die hele gehoor totaal rasend gemaak. Ek het elke aand sy bewegings dopgehou en by hom geleer hoe om die gehoor te vermaak en betrek.”

Richard het later graag gespog: “Mick Jagger het altyd gekyk hoe ek optree. Waar dink jy het hy daardie stappie gekry?”

Al het hy nooit weer soos in die 1950’s die trefferlyste oorheers nie, het Richard eindeloos aanhou toer. Hy het sy ou treffers gesing, ’n gerespekteerde figuur wat as ’n geordende predikant ’n goue middeweg tussen die verkondiging van die evangelie en rock gevind het deur Bybelse literatuur onder sy gehore te versprei.

Toe hy in 1998 saam met Chuck Berry en Jerry Lee Lewis by ’n Legends of Rock ’n’ Roll-vertoning in Londen opgetree het, het hy glo ’n groot deel van die geld vir sy optrede daaraan bestee om te sorg daar is ’n Bybel op elke sitplek in die ­arenateater.

Hy het in 2013 eindelik ophou toer.

“Ek dink my nalatenskap sal wees dat daar nie so iets soos rockmusiek bestaan het toe ek in die vermaakbedryf begin het nie,” het hy gesê. “Eers toe ek met ‘Tutti Frutti’ begin het, het rock werklik begin rock.”

Hy het nie grootgepraat nie; hy dit bloot as feit gestel.

Hy het eenkeer gesê as Elvis die koning van rock was, was hy die koningin, en beweer hy’s “omniseksueel”. Tog het hy homoseksualiteit as “satanisties” veroordeel en teen die wil van God.

“Ek is nie nou gay nie, maar, weet jy, ek was my lewe lank gay,” het hy in 1982 in Late Night with David Letterman gesê.

“Ek was een van die eerste gay mense wat uitgekom het. Maar God het my laat weet hy het Adam gemaak om by Eve te wees nie, nie by Steve nie.”

Op ’n godsdienstige by­eenkoms in 1957 het hy ­Ernestine Harvin ontmoet, ’n sekretaresse met wie hy twee jaar later getroud is. Hulle het ’n seun, Danny Jones, aangeneem wat later as ’n lyfwag vir Richard gewerk het.

Hy en Ernestine is in 1964 geskei, blykbaar omdat sy wilde gedrag vir haar te veel geraak het. Nog voor hy beroemd geword het, was hy drie dae in die tronk weens openbare onsedelikheid op die agtersitplek van ’n motor. Roem het nog groter versoekings meegebring en hy het hom aan hedonisme oorgegee.

Daar was verslawings aan drank, dwelms en “wonderlike orgies” waaraan Buddy Holly glo ook eenkeer deelgeneem het.

“Ek sal dit nooit vergeet nie,” het Richard later vertel.

In die 1970’s het hy $1 000 per dag aan kokaïen bestee. Hy is eenkeer oor sy dwelmskuld met ’n vuurwapen aangehou. Maar selfs op sy losbandigste was God nooit ver nie.

“Ek sou van ’n orgie af opstaan en my Bybel optel,” het hy vertel.

Hy het nooit weer getrou nie, maar ’n jare lange verhouding gehad met Audrey ­Robinson, wat onder die naam Lee Angel as ’n ontkleedanseres gewerk het. Hulle het mekaar in 1956 ontmoet toe sy 16 was, en hul aan-af-vriendskap het langer as ’n halfeeu voortgeduur.  

“Richard is gek,” het sy in 2010 gesê. “Ek bedoel nie klinies geestesversteurd of mal op ’n slegte manier nie. Hy’s net gek.”

Richard Wayne Penniman is in 1932 in Macon, Georgia, as die derde van 12 kinders gebore. Sy pa, Charles “Bud” Penniman, en sy ma, Leva Mae Stewart, is getroud toe sy 14 was. Richard was veronderstel om Ricardo te heet, maar die registrateur het sy naam op die geboortesertifikaat verkeerd gespel.

Sy ouers was Sewendedagadventiste. Tog het hy die konflik tussen God en Mammon, wat sy eie lewe sou kenmerk, van sy pa geërf. Bud was ’n klipmesselaar en diaken in die kerk, maar het sy inkomste aangevul deur onwettig whisky te verkoop. Hy het ook ’n nagklub genaamd Tip-In Inn besit.

Die polisie het gereeld klopjagte op die gesin se huis uitgevoer op soek na onwettige drank, maar danksy die handel daarin kon hulle toe darem ’n vlak bo die volslae armoede rondom hulle in die Diep Suide uitstyg.

Hulle het as ’n gospelgroep, die Penniman Singers, in plaaslike kerke opgetree. Van jongs af het Richard ’n harde skree­stem gehad wat hom die bynaam War Hawk in die gesin besorg het.

Hy het rokke aangetrek om sy susters te vermaak, en toe sy pa hom sy ma se grimering sien dra, het dié hom ’n wrede pak slae gegee.


Op 10 het hy “geneser” geword en gou nie net gospelliedjies gesing nie, maar ook gepreek. Hy het leer klavier speel en in die skoolorkes saxofoon gespeel. Hy het werk gekry as koeldrankverkoper by die Macon City-ouditorium, waar hy gewilde kunstenaars van destyds sien optree het, soos Cab Calloway en Sister Rosetta Tharpe.

Sy het hom verhoog toe genooi om saam met haar te sing.

Sy seksualiteit was van jongs af ingewikkeld en hy is oor sy verfynde maniertjies gespot. Hy het rokke aangetrek om sy susters te vermaak, en toe sy pa hom sy ma se grimering sien dra, het dié hom ’n wrede pak slae gegee. Richard het minstens een keer van die huis af weggeloop en is eindelik uitgeskop toe hy 15 was.

“My pa het gesê hy wou sewe seuns gehad het en ek het dit bederf, want ek is gay,” het hy vertel.

Hy het saam met ’n gospelgroep en ’n genesingsvertoning getoer en saam met Buster Bown se vaudeville-orkes by gesegregeerde swart danssale in die Diep Suide opgetree. Buster het hom die verhoognaam Little Richard gegee, maar Lil’ Richard was ook ’n bynaam uit sy kinderjare omdat hy so skraal was en sy regterbeen korter as sy linkerbeen was. (Dit het hom laat mank loop – op skool is hy ’n freak genoem.)

In 1957 tydens ’n ver­toning saam met sy groep. Fo
In 1957 tydens ’n ver­toning saam met sy groep. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het ook onder die naam Princess Lavonne as ’n vrou opgetree.

Toe hy in die vroeë 1950’s Atlanta toe trek, het hy by fopdosklubs en bordele in die stad se rooiligdistrik uit­gehang. Daar is hy deur die gay bluessanger Billy Wright beïnvloed wie se aangeplakte grimering en pompadoerhaarstyl hy na­geboots het.

’n Tragedie het die gesin in 1952 getref toe sy pa buite sy nagklub vermoor is. Richard het na Macon teruggekeer om die gesin te help onderhou. Teen daardie tyd het hy reeds sy eerste opnames in ’n doodgewone R&B-styl vir RCA Victor gemaak.

’n Jaar later het hy na Houston verhuis, waar hy ’n kontrak met Don Robey se Peacock Records onder­teken het.

Geen van sy plate vir hierdie maatskappy het die trefferlyste gehaal nie. Toe hy kla omdat hy nie betaal word nie, het dit ’n geveg tussen hom en Robey ontketen waarin hy bewusteloos geslaan is. Hy het na Macon teruggekeer en as skottelgoedwasser by die Greyhound-­busstasie begin werk.

: In 1970 by die musiekvervaardiger Rick Hall (mid
: In 1970 by die musiekvervaardiger Rick Hall (middel) en sy bestuurder, Robert Blackwell. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar sou hy dalk gebly het was dit nie vir Lloyd Price nie. Sy “Lawdy Miss Clawdy” was toe pas ’n groot treffer, en Lloyd het voorgestel dat Richard ’n demo-­kasset opneem en dit na Specialty Records in Los Angeles stuur.

Die kasset het ses maande lank op die eienaar, Art Rupe, se lessenaar gelê voor hy ingestem het om vir Richard geld te leen om sy kontrak met Peacock uit te koop en hom met die vervaardiger Robert “Bumps” Blackwell in die ateljee te laat saamwerk.

Met hul eerste sessie in New Orleans in 1955 het hulle ’n stadige bluesnommer opgeneem toe Richard ’n aansteeklike, vinnige boogie-woogie-ritme begin uitkap terwyl hy vulgêre lirieke skree wat hy in die rooiligdistrik gehoor het.

Die liedjie was “Tutti Frutti”, en “a-wop-bop-a-loo-bop-a-wop-bam-boom!” sou kort daarna op ’n niksvermoedende wêreld losgelaat word – maar eers nadat Bumps gesorg het dat die oorspronklike lirieke skoongemaak word.

Die plaat was ’n sensasie. Maar destyds was daar nog ’n groter rasseskeiding in Amerikaanse musiek as vandag. Al het Richard se weergawe van “Tutti Frutti” die trefferlys op no. 17 gehaal, was die wit sanger Pat Boone se besadigder weergawe sonder die oorspronklike seksuele uitbundigheid ’n groter treffer.

Die opvolg, “Long Tall Sally”, is deur dieselfde vinnige boogie-woogie-klavierspel en ’n saxofoonsolo deur Lee Allen gekenmerk wat net so manies soos Richard se stem geklink het. Weer het ook Boone die liedjie opgeneem, maar dié keer het Richard se oorspronklike weergawe beter as die gesuiwerde wit nabootsing gevaar. Dit het no. 6 op die Amerikaanse trefferlys gehaal, twee plekke hoër as die na-aper s’n.

Met sy derde treffer, “Rip It Up”, het Richard die wit nabootser, Bill Haley, oortref. Daarna het die praktyk van saai “witbrood”-nabootsings van swart plate vervaag, al het hy steeds in die Diep Suide voor gesegregeerde gehore opgetree met wit aanhangers op die grondverdieping en swart aanhangers op die balkon.

Die volgende twee jaar was hy onkeerbaar met ’n verdere rits treffers in dieselfde seksueel gelaaide styl, soos “Lucille”, “Slippin’ and Slidin’ ”, “Jenny, Jenny” en “Good Golly, Miss Molly”.

Op die verhoog was hy net so wild en flambojant soos sy musiek. Hy het uitspattig aangetrek soos die Liberace van rockmusiek en sy klavier meer aangeval as bespeel. Die seksuele energie wat hy uitgestraal het, het ’n buitengewone reaksie veroorsaak wat, soos hy dit gestel het, “jou lewer laat bewe, jou blaas laat bruis en jou knieë laat vries”.


Dit alles het skielik tot ’n einde gekom toe hy laat in 1957 tydens ’n toer deur Australië aangekondig het hy gaan uittree en hom vir die bediening laat oplei. Volgens een (oordrewe) storie het hy ’n groot vuurbal in die lug gesien bo die plek waar hy opgetree het en besluit dis ’n boodskap dat hy met God moet vrede maak.

Hy het sy duur juweliersware in die hawe gegooi as bewys van sy geloof en die oorblywende konserte afgestel.

Die geskiedenis dui daarop dat dit dalk die Sowjet-satelliet Spoetnik was.

Volgens nog ’n storie was hy vrees­bevange op ’n rowwe vlug oor die Australiese Outback en het hy gebid dat God hom moet red. Toe die vliegtuig veilig in Sydney land, was hy daarvan oortuig dat engele dit in die lug “omhoog gehou” het. Hy het sy duur juweliersware in die hawe gegooi as bewys van sy geloof en die oorblywende konserte afgestel.

Daarna het die vliegtuig tydens die vlug waarmee hy huis toe sou gevlieg het as hy die toer voltooi het in die Stille Oseaan neergestort. Dit was vir hom nog ’n “bewys” dat die Here hom gekies het om Sy werk te doen.

Richard het toe by ’n kollege van die Kerk van God van die Tien Gebooie in Alabama ingeskryf. Maar hy is daar weg sonder om sy kursus te voltooi nadat hy daarvan beskuldig is dat hy hom aan ’n manlike medestudent ontbloot het. Teen 1962 het hy rockmusiek weer aangegryp en nog wilder geleef.

Twee jaar later het ’n jong kitaarspeler bekend as Maurice James by sy groep aangesluit. Die wêreld het hom later as Jimi Hendrix leer ken, en baie van sy vertoonkuns het hy geleer deur Richard van naby dop te hou.

Hy het na voltydse evangelisasiewerk teruggekeer as ’n reisende verkoopsman vir die Black Heritage Bible en verklaar dit is onmoontlik om terselfdertyd die duiwel se musiek te sing en God te dien.

Hy het ook ’n diepgaande invloed op Otis Redding gehad, wat sy loopbaan in Richard se groep begin het. En op James Brown, wat ook in Georgia grootgeword het en sy eerste treffer, “Please Please Please”, geskryf het nadat Richard die woorde een aand in ’n restaurant op ’n servet gekrabbel het.

Richard het aanhou op­names maak, maar in 1977, ná die dood van ’n baie geliefde nefie in ’n gewelddadige rusie oor ’n dwelmtran­saksie, het hy hom weer bekeer. Hy het na voltydse evangelisasiewerk teruggekeer as ’n reisende verkoopsman vir die Black Heritage Bible en verklaar dit is onmoontlik om terselfdertyd die duiwel se musiek te sing en God te dien.

Hy was onvermydelik gou weer terug in die vermaakbedryf terwyl die stryd tussen rock en geloof voortgeduur het. Hy het selfs na die poptrefferlyste teruggekeer met “Great Gosh A’Mighty”, ’n liedjie wat hy vir die rolprent Down and Out in Beverly Hills van 1986 geskryf het. Daarin het hy saam met Nick Nolte en Bette Midler ’n hoofrol vertolk. Nog ­akteursrolle het gevolg, onder meer ver­skynings in Baywatch en Miami Vice.

Danksy kosmetiese chirurgie kon hy sy jeugdige, maskeragtige voorkoms behou. Tydens ’n optrede in 1992 in Londen het hy laat hoor: “Ek is vandag 60 jaar oud en ek lyk nog merkwaardig.”

Hy was gereeld ’n gaskunstenaar op ander se plate soos met U2 en BB King se treffer “When Love Comes to Town”.

As predikant het hy die troue van Bruce Willis en Demi Moore behartig en ook die begrafnisse van verskeie ou vriende in die vermaakbedryf soos Wilson ­Pickett en Ike Turner.

Little Richard word as een van die ­vaders van roc
Little Richard word as een van die ­vaders van rock ’n’ roll beskou. Met sy hoë stemmetjie en uitbundige vertonings het hy musiekliefhebbers laat regop sit en luister. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar was nooit ’n paleisagtige Little Richard-huis soos Presley se Graceland nie. Hy het die grootste deel van sy lewe in weelderige hotelle gebly. Langer as ’n dekade was die Hyatt op Los Angeles se Sunset Strip sy tuiste. Later het hy na die Nashville Hilton getrek.

In sy laaste jare het hy ná ’n rits verswakkende operasies, onder meer hartchirurgie en ’n heup­vervanging, op ’n plasie in Tennessee gewoon.

In die laat 1960’s het hy dit glo geniet om op ’n sierlike drastoel in restaurante en teaters ingedra te word.

In sy aftrede was sy openbare ver­skynings meer besadig – plaaslike inwoners het hom dikwels by deurryrestaurante vir kitskos opgemerk. Hy was nie meer rockmusiek se wildste wilde man nie, maar het steeds met sy kenmerkende breë glimlag vir aanhangers gewaai.

© THE TIMES REGISTER, NEWS LICENSING
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.