Die veteraanaktrise vertel sy is so passievol oor die Potchefstroomse dierereddingsorganisasie Paws – eintlik “dierereddingsorganisasies in die geheel” – dat sy aangebied het om in Augustus ’n nag lank in die hondeskuiling deur te bring vir elke R10 000 wat aan die liefdadigheidsorganisasie geskenk word.

Die Molly en Wors-aktrise vertel sy het in die laaste weke bewus geword van die organisasie se geldknyp, en het onmiddellik besluit om in te spring om geld vir die vrywilligers en die diere in nood te probeer insamel.

Hoekom sou sy nie? Een van haar eie “liefies” – soos Lizz liefderik na haar Jack Russell-kruising Volpina verwys – is juis ’n aanneembrak van dié organisasie.

Maar sy in ’n hondeskuiling – en dit nogal met haar perfek gestileerde hare, rooi lippe en hoëhakskoene?

“Ja, régtig!” laat hoor Lizz toe Huisgenoot haar pols oor ’n Facebook-inskrywing oor dié onderwerp.

Lizz Meiring
Die akteur Willie Esterhuizen, Lizz se jarelange vriend, saam met Volpina tydens die verfilming van Huis Lelieveld. Foto: Verskaf

“Kyk, ek sal darem nou nie saam met die manne van die bestuur en direksie in ’n kennel slaap nie.”

Die aktrise het sterk bande met Potchefstroom weens haar jaarlikse produksies tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees wat in die stad gehou word. Sy is veral passievol oor dié organisasie omdat diere in nood haar na aan die hart lê.

“Die vrywilligers daar is die barmhartigste mense en doen wonderlike werk,” vertel Lizz. “En dis boonop die enigste dierereddingsorganisasie in Potchefstroom en die omliggende gebiede.” 

Lizz vertel grappig sy het “vier liefies” waarvan drie aanneemhonde is. Dis vir hulle en vir die vrywilligers verbonde aan Paws wat “dag en nag werk” dat sy nou aangebied het om haar katel vir ’n veel ongemakliker diereskuiling te verruil.

“Die idee sal seker meeste mense se hare laat regop staan. Maar toe ek hoor dat twee bestuurslede – die bestuurder en die voorsitter van die direksie – albei aanbied om ’n nag in die skuiling deur te bring vir elke R5 000 wat ingesamel word, wou ek dadelik betrokke raak,” vertel sy.

Ja, sê Lizz, dit kan dalk sorg vir effense ongemak.

“Maar dis tydelik. Weet mense wat gebeur by diereskuilings landwyd? Veral nou met die pandemie – noudat mense moet oppak en trek omdat hulle nie huur kan bekostig nie of waarskynlik nie na die diere kan omsien nie.

“Dis hartverskeurend. Daar word honde in kratte by Paws afgelaai. Hulle het selfs ’n diens in plek gestel wat dit vir mense moontlik maak om hondjies of katjies in die middel van die nag – heeltemal anoniem – by die skuiling af te gee. Daar is ’n enorme behoefte.” 

Die aktrise wil haar nou ook bewyer om hondekomberse, ou handdoeke en dierekos vir die liefdadigheidsorganisasie in te samel. 

“Jy weet,” sê Lizz sommer bewoë. “As ek so kyk na my hondjies, dan trek my hart op ’n punt om te dink aan al die diertjies daar wat nie huise kry nie. Dan is ek dankbaar vir vrywilligers wat alles in hulle vermoë doen om diere in nood te help – en dan klink ’n aand of twee of drie in ’n diereskuiling nie so goor nie.” 

Lizz Meiring
Buster (agter), een van Lizz se aanneemhonde, saam met Volpina. Foto: Verskaf

Herman van der Sluis, bestuurder van Paws in Potchefstroom, sê die organisasie is “erg getref” deur die coronavirus-pandemie en die gepaardgaande inperkingsmaatreëls.

Hy sê die organisasie reël jaarliks verskeie geleenthede wat dien as geldinsamelingsgeleenthede – en geld wat hulle hieruit verdien, dra die organisasie se onkoste gewoonlik vir die res van die jaar.

“Maar nou, met die inperking wat al vir soveel maande duur, kon geen geleentheid aangebied word nie,” verduidelik hy.

Die uiteinde is agterstallige rekenings vir die diere se kos asook ’n water-en-ligte-rekening. “Dis daarom dat ons nou met die idee van ’n nag in die skuiling vorendag gekom het sodat ons kan aanhou doen wat ons doen – dit bly tog vir die diere. Die idee is om vir net een nag te ervaar wat hierdie diere elke dag ervaar.”