GIDEON LOMBARD

gideon lombard,akteur,suidooster
Gideon Lombard het die rol van Stefan Gerber in Suidooster vertolk. Foto: kykNET/Suidooster

Twee weke nadat dié akteur die sepie Suidooster ná byna vyf jaar gegroet het, is die inperking aangekondig. 

Hy sou in September na Madrid, Spanje, gegaan het nadat hy daar vir een van die wêreld se top-15-programme vir ’n M.B.A.-graad aanvaar is. 

Weens die coronaviruskrisis begin hy nou eers in Januarie met sy nagraadse studie. 

“Ek het vir die laaste twee jaar aan die aansoekproses gewerk. Ek is verskriklik nuuskierig en ek voel al lank vir my volgende groot uitdaging, en die M.B.A is dit wel,” vertel hy. 

Hy doen sedert die begin van die inperking konsultasiewerk vir Cape Town Market, ’n vrugte- en groentemark in Kaapstad.

“In die konteks van die M.B.A. is dit ’n goeie leerskool,” sê hy.

Gideon het ook intussen een van die Netwerk24-films vervaardig en radiowerk gedoen op RSG. Hy beoordeel nou ’n aanlyn dramakompetisie met ander akteurs.

“Daar is altyd hierdie tipe goed wat nou terugkom. Die twee industrieë speel half aflos met mekaar wat vir my goed is.”

DE KLERK OELOFSE

Vir dié akteur, wat al in TV-reekse soos Die Boekklub en Hotel te sien was, het dit ’n ritueel geword om ná elke projek of fees iets te plant. Tydens die inperking het De Klerk by die Happy by Nature-kwekery in Kaapstad begin werk. 

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Ek het die dag toe ons na vlak 4 geskuif het vir my potgrond gaan koop vir alles wat ek uit verveling in my tuintjie wou doen, en toe vra ek sommer of hulle hulp nodig het,” vertel hy.  

Hy het die volgende dag ingeval.

“By ’n kwekery, nes op ’n plaas, hou die werk nooit op nie. My dae wissel van plante versorg, skuif en ontvang tot vertoon en plant.”

Happy By Nature is in die Kaapstadse voorstad Tamb
Happy By Nature is in die Kaapstadse voorstad Tamboerskloof. Foto: Verskaf

“Ek besoek ook mense wat graag hul tuine wil oordoen of aanvul, trek vir hulle ’n plan op en gaan voer dan die plan uit,” verduidelik De Klerk. 

“Wat ook wonderlik is van die kwekery is die feit dat hulle net inheemse plante aanhou en verkoop. En soos julle weet, local is lekker,” voeg hy grappig by. 

SCHALK BEZUIDENHOUT

Schalk in een van die truie waarmee hy in sy video
Schalk in een van die truie waarmee hy in sy video's verskyn. Foto: Instagram

Dié akteur en komediant het eindelik die kans gekry om projekte aan te pak waarvoor hy nie vroeër tyd gehad het nie. 

Benewens sy aanlyn vertonings en inperkingsvideo’s in die sosiale media het hy met die hulp van sy verloofde, Mica Mckechnie, sy eie aanlyn winkel begin. Hier kan ’n mens T-hemde en drasakke koop met sy pittige sêgoed daarop. 

View this post on Instagram

New jersey

A post shared by Schalk Bezuidenhout (@schalkiebez) on

“Mica het aangebied om die aanlyn winkel op te stel indien sy haarself ook kreatief daar kan uitdruk en T-hemde ontwerp. Op die ou einde het dit meer gegaan oor dat ek vir mense iets lekker kon gee wat hulle opgewonde maak.

“Met die video’s wat aanhangers so geniet is dit lekker om die T-hemde te hê, want dit is iets tasbaar van die ding wat jy geniet,” sê Schalk. 

Van die sêgoed op die T-hemde sluit in "Feeling Good Feeling Positive" en "Hallo Mense". 

Hy het ook sy eie wyn, Feeling Good Feeling Positive Pinotage, bekendgestel, iets waaroor hy baie goed voel.

“Ek wil al vir jare my eie wyn maak, maar ek het nooit geweet waar begin mens nie,” laat hy hoor.

Kom neem deel aan die gesprek
 Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe