Daarom begin dit kompleet voel of sy haar varkies verloor, sê die internetster en Survivor-deelnemer Katinka Oosthuizen.

Want terwyl Katinka “Die Kat”, soos sy na haarself verwys, saam met die res van Suid-Afrika afgesonder is, bly een onbeantwoorde vraag knaag: Daar word gesê van sit en staan bly lê die lekkerste – maar presies hoe lank kan ’n mens nou eintlik lê voordat jy sommer weer van voor af moeg is? 

Maar die antwoord bly haar ontwyk. En die oplossing? Nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie slaap . . . 

“So, ek het oral in die huis rondgestap, en toe besef ek: Ek weet nie eens hoekom ek op ’n ander plek as my bed ’n video wil maak nie – want dis letterlik waar ek my hele dag spandeer . . . net hier,” vertel Katinka in ’n Instagram-video.

“Ek het vandag ’n video gesien van ’n ou wat gesê het hy voel so moeg van slaap dat hy weer moes gaan slaap om daardie moegheid af te werk. Ek het in my lewe nog nooit meer relate met iets nie.”

View this post on Instagram

Ek voel ek raak mal

A post shared by Katinka (@katinkadiekat_official) on

Nes vele ander Suid-Afrikaners sukkel sy ook soms met idees vir doendinge tydens die lockdown, vertel Katinka Dinsdag vanuit Mosselbaai aan Huisgenoot.

“Ek is in lockdown saam met my woonstelmaat, maar ek moet erken: Ek het daardie video gemaak omdat ek werklik besig om bietjie mal te raak,” sê sy.

“Daar was nog nie werklik een dag dat ek nié iets gedoen het nie. Maar ek moet bieg: Meeste dae vra ek myself waddehel ek nou gaan doen om die res van die dag om te kry.” 

Sy het pas inkopies gedoen toe Huisgenoot haar kontak. En deesdae, tydens die lockdown, het dit sommer een van haar gunstelingaktiwiteite geword.

“En dit sê baie, nè,” sê-vra sy en lag.

Katinka Oosthuizen
Om gesond te eet, en om lekker kosse te maak, is een van haar gunsteling-tydverdrywe. Foto: Verskaf
Katinka Oosthuizen
Van die huis af werk is nie altyd maklik nie - en het sy vele uitdagings, vertel Katinka. Foto: Verskaf
Katinka Oosthuizen
Katinka se gunstelingbordspeletjie. Foto: Verskaf

Die internetster en televisiepersoonlikheid verfilm troues in haar spaartyd en redigeer die trouvideo’s self. Maar met die meeste van haar werk agter die blad, moes sy noodgedwonge ’n plan bedink om nié waansinnig te raak in haar tweeslaapkamerwoonstel van 98 vierkantemeter nie.

Hier’s Katinka se topvyf-doendinge: 

  • Oefening

“Ek kan nie buitentoe gaan en in en om die woonstelblok oefen nie, want dan kyk almal vanuit hulle woonstelle vir my,” skerts sy. “Doen dit so: Skuif sommer jou meubels rond en oefen met ’n program op jou televisie of selfoon. Dit doen wondere.” 

  • Word ’n bobaaskok

Wanneer die lewe besig raak, gryp sy – nes soveel ander – sommer ’n vinnige wegneemete, vertel Katinka. Maar tydens lockdown kan enigeen sy kosmaak-vaardighede beproef en verbeter. “Maak dit jou missie om gesonde kosse te maak, maar ook dinge wat vir jou lekker is.” 

  • Lees

Lees? Wie het tyd vir lees? As jy ’n veeleisende voldagwerk het, is dit waarskynlik die eerste ding wat jy afskeep. “Maar noudat niemand na buite mag gaan nie, is dit die perfekte geleentheid om op te vang op al die boeke wat jy nog wil lees.” Katinka lees tans To Kill A Mockingbird.

  • Bordspeletjies

Haar gunsteling? Checkers. “Bordspeletjies is ’n wonderlike manier om tyd te verwyl – en dan lag jy sommer ook lekker tussenin.” 

  • Slaap

Daar word gesê geen mens behoort minder as ses uur per nag te slaap nie. Maar hoeveel skade kan dit nou eintlik verrig om dalk agt; selfs nege uur per nag in te kry? “Slaap soveel jy kan – dis goed vir jou en jou immuun, en jy kry dalk nie gou weer die geleentheid nie.”