Die Afrikaanse sangeres het Dinsdagaand in die sosiale media aangevoer Derick (35) en hul seuns, Daniël en Eliah, is nêrens te vind nie.

Die tweeling het die Spar Carols by Candlelight aangebied deur Jacaranda FM by Loftus Versfeld in Pretoria saam met hul pa bygewoon. Derick se vriendin, die sangeres Nádine (36), het ook opgetree.

Karlien (32) het kort daarna twee foto’s van Derick en die tweeling op Instagram gedeel, ’n video waarin sy huil oor haar seuntjies en nóg ’n Instastory-foto van Derick.

Dié inskrywings is intussen van Instagram verwyder.

Sy het Woensdagoggend uit Fiela se Kind (met ’n foto van Shaleen Surtie-Richards wat dié rol gespeel het) op Instagram en Facebook aangehaal: "God vergeef ons baie dinge, maar hy vergeef ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.”

'Ons was die veiligste'

Al wat Derick gister op Huisgenoot se herhaalde navrae gesê het, was: "Die seuns se stoele staan leeg." Hy wou nie nog kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie. Hy het egter vandag op Martin Bester se ontbytprogram op Jacaranda FM sy kant van die saak gestel.

“Ons is die veiligste wat ons kan wees en ek is taamlik gerus as ek op Loftus Versfeld kan wees. Ons het saam met vriende gesit en die kinders het 'n bietjie begin koud kry en een van ons vriende besit die Summer Bar in die Protea-hotel.

"Ek het hulle mooi toegemaak en hulle het daar aan die slaap geraak,” het Derick aan die omroeper vertel.

“Die volgende hoor ek net die bom bars. Dis nie asof sy (Karlien) my nie in die hande kon kry nie. My foon het afgegaan. Baie van die kere is die kinders by haar en dis nie asof ek elke 30 minute bel om te hoor waar my kinders is nie.

“As pa’s hul kinders vat is dit hul verantwoordelikheid. Jy kan nie elke twee minute bel om te hoor waar jou kinders is nie,” sê Derick.

Volgens Derick is dit teleurstellend dat dit in die sosiale media uitgeblaker is.

“Dit is te verstane as mense sê jy is ’n slegte man of kêrel. Maar dis teleurstellend om my ’n slegte pa te noem. Ons het planne gehad vir die vakansie en nou moet pappa alleen by die huis bly,” het hy bygevoeg.

Op die vraag deur Martin of hy en Karlien intussen gepraat het, sê Derick: “Nee, my pa het my vroeg in my lewe geleer: ’n Stil bek is ’n heel bek."

Luister hier na die onderhoud

Ronel Brink reageer

Karlien se ma en bestuurder, Ronel Brink, het Donderdag in reaksie op die onderhoud aan Huisgenoot gesê: “Ons wil niks daaroor sê nie. Hy (Derick) gaan maak asof hy onskuldig is, maar die waarheid sal altyd seëvier.”